Kaapstad

Vrydag

Sunny. Mild.

13°C
24°C

7 day forecasts

Die Antwoord op Bakhtin

2010-01-09 15:45

Ninja, van die groep Die Antwoord, tydens 'n optrede in Durbanville. Foto: Annie Klopper

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Met twee middelvingers in die lug staan ’n skraal meisie met ’n blonde mullet op die verhoog en skree in die mikrofoon: “F** julle, n***ers!”

Die gehoor gaan mal.

Die meisie dra ’n nagbroekie met ’n SpongeBob SquarePants-motief, grys handdoekstofpantoffels en ’n blou satynnagjurk. Wanneer sy laasgenoemde afruk om haar kaal magie onder ’n wit eina-toppie te ontbloot, pomp die ou in die verbleikte Quicksilver-hemp langs my sy vriend in die ribbes en sê: “Hier kom dit nou, my bra.”

En só begin die aand se optrede in Corner Bar, Durbanville.

Langs die blonde meisie – haar naam is Yo-Landi Vi$$er (dollartekens is ’n vereiste) – staan ’n man wie se kaal bolyf byna meer ink as vel vertoon.

Op sy adamsappel is die woorde “PRETTY WISE” getatoeëer. Dis die ander lid van die groep, Ninja, eertyds bekend as Waddy Jones a.k.a. Max Normal. Hy’s ’n rapper met goud in sy tande en ’n skerp tong en sê graag dinge soos: “You’ve never seen zef so fresh.”

In die volgepakte, bedompige kamer vol Black Labels en tekkies by jeans bekyk ek die “zef rap-rave-jol” van die groep wat op die webwerf MySpace sy invloede lys as “rap; rave; ninjas; hi-tek shit; yin-yang; anarchy; money; gangster”.

Op die beats van DJ Hi-Tek skree hulle: “Wat kyk jy? F****f! Wat kyk jy? P***. Wat kyk jy? F****f! Wat kyk jy? Jou n***.”

En dan kletsrym Ninja ongeïnhibeerd: “Jislaaik, how did I get so fancy / al die ander rappers is net ou panties.”


Aan die begin van 2009 het Die Antwoord gedebuteer by Ramfest, ’n musiekfees wat jaarliks buite Worcester aangebied word, met gemengde reaksie. Toe Fokofpolisiekar, die rapper Jack Parow en ’n ou met ’n trekklavier (Arno Kruger) saam met hulle op die verhoog klim vir die liedjie Doosdronk, het ’n poespas losgebreek terwyl die koortjie van hierdie collaboration gedeeltelik lui: “Doosdronk, God, waar is my hond? / Lê in my kots en vrot in die tronk.” (’n Video hiervan is op YouTube beskikbaar en skree harder as wat woorde ooit kan.)

Die drie lede van Die Antwoord lui ’n nuwe era vir Suid-Afrikaanse musiek in – of jy nou daarvan hou of nie. Hierdie Kaapstadse groep is geaffilieer met die omstrede webwerf www.watkykjy.co.za en kletsrym in ’n mengelmoes van Engels en Afrikaans. Hul liedjies kan gratis van die internet afgelaai word.

Ek probeer vrae formuleer op Die Antwoord en die een wat bly vassteek, is: As Mikhail Bakhtin vandag nog (en in Suid-Afrika) gelewe het, op wie sou hy sy teorie van die karnavaleske en die groteske liggaam kon grond?

Ter wille van die ou met die Quicksilver-hemp en die tekkies by die jeans wat nie weet wie Mikhail Bakhtin is nie, vergun my ’n kort verduideliking.


Mikhail Bakhtin (1895-1975) was ’n Russiese kritikus wat ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van literêre teorie in die 20ste eeu. Ek sal meneer Quicksilver nie te veel verveel met besonderhede van hoe literêre teorie in laasgenoemde eeu ontwikkel het en hoe die postmoderne skool vroeëre werk in dié verband uitdaag en heroorweeg nie. Vir ons vergelyking is dit slegs belangrik om te weet van waarskynlik die belangrikste werk in Bakhtin se oeuvre, naamlik Rabelais and His World (1965). Hierin bespreek hy die werk van die Renaissance-skrywer Francois Rabelais as voorbeeld waarin hy twee subtekste identifiseer, naamlik die karnavaleske en die motief van die “groteske liggaam”, oftewel “groteske realisme”.

Karnavalesk word deur Bakh-tin geformuleer as iets wat in die literatuur gebeur wat vergelyk kan word met die karnavalle in populêre kultuur. Die karnaval word ondersoek as ’n ruimte waarbinne die sosiale hiërargie, waarhede en etiket van daaglikse bestaan uitgedaag, geprofaneer en omgedop word deur stemme uit die lae kultuur wat in normale omstandighede onderdruk word. Dis ’n ruimte waar die bekende wêreld op sy kop gedraai word. As literêre modus is dit iets wat die aannames van die dominante styl of atmosfeer ondermyn deur humor en chaos op ’n spottende wyse in te span.

“Groteske realisme” of die “groteske liggaam” loop hand aan hand met die karnavaleske. Wanneer dit ingespan word as motief beteken dit dat alles wat abstrak, spiritueel, edel en ideaal is tot die materiële of fisiese sfeer vervlak word. En met vervlak word dikwels bedoel tot onder die belt.

Hierdie vervlakking vind gewoonlik plaas op ’n burleske manier wat drup van die satire.

So wat het ’n wyle Russiese literêre teoretikus te make met ’n Kaapse “zef rap-rave crew” wat hulself op www.watkykjy.co.za beskryf as “a lovable, mongrel-like entity made in South Africa, the love-child of many diverse cultures, black, white, coloured and alien, all pumped into one wild and crazy journey down the crooked path to enlightenment”?


Wel, of Yo-Landi, Ninja en DJ Hi-Tek daarvan bewus is of nie, hulle span heelwat van die motiewe wat Bakhtin in die letterkunde geïdentifiseer het in hul kletsrym, image en optrede in.

Hul teatrale optredes (geheel met kostuumveranderings) en musiek word ’n ruimte waarbinne die dominante kultuur – veral met betrekking tot musiek – uitgedaag word en waar die Suid-Afrikaanse milieu gesatiriseer word om tekortkominge uit te lig.

Wanneer hulle dus die verhaaltjie vertel van ’n “doosdronk” karakter wat nie meer weet waar sy hond is nie, in sy eie braaksel lê en steeds wil “party party party”, word luisteraars inherent genoop om kennis te neem van die mo­rele verval van ons samelewing.

Terwyl sommiges meen dit spreek van die jeug se alkoholmisbruik, is daar ander wat selfs meen dat dit kommentaar lewer op die dopstelsel en gevolglike drankmisbruik van plaaswerkers.

In Dagga Puff lewer Die Antwoord op die wysie van ’n bekende kleuterliedjie skerpsinnig kommentaar op die gebruik van die “bobbejaantwak” wat jou in ’n “schizophrenic bunny” verander. Op gedempte wyse word gesing: “So manylekker rappers come and go / Used to be the ou / nou’s jy f****n flou [...] dagga dagga dagga dagga die die die”.

Dat daar weens veral die kru woordkeuses aan koffie gestik sal word, is ongetwyfeld. Dié groep weet hoe om te skok en hulle is nie bang om dit te doen nie.


Wat ook nie in twyfel getrek kan word nie, is dat ons hier te make het met ’n nuwe kletsrymtendens in Afrikaanse musiek wat in aard verskil van hul voorgangers.

Die publiek is reeds besig om kennis te neem van die vernuftige Afrikaanse rapper Jack Parow, ’n selfgeproklameerde “lifevan die party” wat in Die Vraagstuk (sy liedjie saam met Die Heuwels Fantasties) dinge kwytraak soos: “Ek soek kafeïen, ek soek nikotien, ek soek my steak gaar/ ek soek ’n meisie wat wag as ek dronk uitstap by die bar.” Interessant en belangrik is die ambivalente uitsprake in die meesterlike lirieke van Parow en hoe dit iets weergee van die fragmentering van die sin van identiteit in ’n postmoderne milieu.

Daar sal natuurlik diegene wees wat ook na die partytjie toe wil kom, maar nie weet waar om die lyn tussen satire en banaliteit te trek nie. Gaan dool jy rond op MySpace, strompel jy dalk per ongeluk en tot jou groot spyt oor so ’n kletsrymkunstenaar genaamd Verkieslik Vieslik met die liedjie Siek-F*k. In die eksplisiete lirieke verklaar die spreker sy voorkeur vir seksuele profaniteite, bestialiteit, sodomisasie, kinderpornografie en bloedskande.


So waar word die lyn getrek? Het dit nou ’n geval geword van anything goes? Probeer kunstenaars bloot skok ten einde nog raakgesien te word in die mallemeule van populêre musiek waar jy deesdae ver moet gaan om nog “anders” te wees?

Die tyd sal leer of die karnaval tot ’n apokaliptiese einde sal kom voor die terugkeer na normaliteit, soos dikwels die geval is in die literêre motief van die karnavaleske. Een ding is seker: Daar is nou ’n paar woeste ritte, skerpsinnige narre en selfs sirkus-freaks op die toneel en die (musiek)wêreld is op sy kop gekeer.


- Rapport

Kommentaar is gesluit vir hierdie storie.

Christian Wink 1/10/2010 11:18:49 AM
Uitstekende berig, Annie. Wat hierdie storie nog meer interresant maak is dat Waddy Jones die toekoms van sy voormalige groep "Max Normal", wat op die drumpel van internasionale faam gestaan het, prysgegee het om Die Antwoord te vorm.

Die meerderheid van sy luisteraars is grotendeels onbewus van sy sosiale kommentaar en sien bloot uit na die volgende vloekwoord, in my opinie.

Dis inderdaad 'n vreeslik interresante beweging in Afrikaanse jongmens-kultuur.
griffin 1/10/2010 12:58:07 PM
Sou interessant wees om te sien hoe jy die artikel sou skryf indien jy hulleself goed geken het. Jy het 'n paar goeie observasies gemaak en in ander gefaal. Op 'n ander punt: Verkieslik Vieslik is verskriklike dom musiek. Enige ou kan n klomp sif goed aanmekaar string om reaksie te probeer lok. Hy het heel moontlik Jack Parow en Die Antwoord gehoor, dit totaal en al misverstaan en probeer om een stappie verder te gaan maar 40 agteruit geloop. Myns insiens is daar nie plek of 'n mark vir sy musiek nie. Vir Jack Parow en Die Antwoord wel. Gaan dink weer mooi oor wat jy dink wat laasgenoemde twee doen met hulle musiek. Kyk of jy dit kan raakvat. Moenie probeer oor analiseer nie en volgende keer as jy by 'n gig is, probeer om dit te geniet en moet jouself nie beter ag as die ou in die verbleikte Quicksilver hemp nie. Hy is moontlik 'n aktuaris.
Charl-Pierre Naudé 1/10/2010 1:49:43 PM
Boeiende en goed geskrewe stuk. Bêllie lekker.
@griffin 1/10/2010 3:39:02 PM
Hoe weet jy sy was nie al by vele van hulle gigs en het dit nie ten volle geniet nie?En tweedens, Waddy Jones het 'n totale nuwe musiek genre in Suid Afrika begin (ek is nie dood seker of Die Antwoord on Jack Parow eerste op verskyn het nie) en besit 'n "cult following". Waddy Jones is huidiglik gekant teen dwelms en alkahol misbruik maar ondersteun dit in sy musiek. Of om meer akuraat te wees, die karakter (Ninja) wie jones amper op permanente basis speel ondersteun dit. Ja, mens moet 'n show geniet vir wat dit werd is, maar as jy op die volgende sondag met jou koppie koffie bietjie kan analiseer oor hoekom hierdie totale unieke beweging so vlamvlat onder die jeug, dan verstaan ek nie hoekom jy nuus lees nie. Persoonlik vind ek die ondersteuning wat hierdie mense vind vreeslik interessant. Baie goeie artikel.
griffin 1/10/2010 4:03:39 PM
"Waddy Jones is huidiglik gekant teen dwelms en alkahol misbruik maar ondersteun dit in sy musiek" - gaan luister mooi na hulle lyrics. Verder is ek doodseker sy het die gigs geniet. Ek dink net dis oorbodig om 'n tipiese beterweterige Litnet spin op dit te probeer sit. Die nie nodig om hoeveel ookal paragrawe te wei aan Bakhtin nie. Almal weet hoe Google en Wikipedia werk. Verder is dit jammer dat Verkieslik Vieslik (even in passing) genoem word saam met twee cool groepe soos Die Antwoord en Jack Parow. Hulle verskil hemelsbreed en deur iemand wat glad nie bekend is, 'n following het, gigs doen of 'n album uit het nie te pigeonhole saam met Ninja en Jack is dom. Jy kan dan net sowel Steve Hofmeyer en Neil Diamond dieselfde lof toesing vir Neil Diamond se songs waar Hofmeyr dit nie verdien nie.

Ek stry geensins dat die artikel goed geskryf is nie. Daar ontbreek net effens insig. Soos ek genoem het: as Annie waarlik Die Antwoord en Jack Parow ken, sou sy dalk nie die Stellenbosch tesis-agtige opstel geskryf het nie - en ek bedoel dit met alle respek.
@Annie 1/10/2010 4:26:14 PM
bakhtin? bleh. nie eers Waddy of Parow het die meta-vermoë om hul musiek/sosiale boodskap so netjies in jou teorie te plaas nie. ek dink hul "motiewe" is bloot die (nuwe) anti-tendens, so ook daargestel deur fpk en kie. counter-culture. social anarchism. pathological narcissism. non-conformity. nihilism. milton, freud, weber, roszak. daai manne. ja, jy het eerste ge-name drop, pel. punt is, wat die antwoord en maats vir ons bied is glad nie 'n nuwe/vars gebeurtenis nie! miskien vir die SA musiekbedryf wel. of vir die tannie uit die 1920s wat langs my bly. maar wat die knape nou doen in SA is gelykstaande aan wat die voorvaders van die blues en poprock 'n halfeeu gelede gedoen het! die enigste verskil is, daai perde se platform was baie groter! die antwoord word binne 2 jaar ‘n vraag. no jokes. nietemin, uitstekende artikel!
AV 1/10/2010 10:16:21 PM
Innie kol, Annie!
bomskok 1/14/2010 6:20:05 AM
Die musiek van die antwoord en Jack Parow gaan vinnig posvat onder die jeug. As 'n middeljarige man, wat nog altyd hou van rap en 'alternatiewe Afrikaanse musiek', maak nie sak of dit sakkie, rock, blues of rap is nie, is hierdie nuwe verskynsel iets wat lankal nodig is. Ek het toevallig op FB op Jack Parow afgekom en was onmiddellik versot op Cooler as Ekke. Het die link gestuur vir jongmense wat ek ken en die volgende week het youtube behoorlik gegons soos hulle die song luister. Na my mening is die antwoord bietjies te kras en banaal in hulle lirieke, maar JP gaan nog sorg vir baie vermaak.
swart skaap 1/14/2010 10:54:54 AM
Goeie artikel. Dis hoogtyd dat vars humour weer bietjie aangewakker word in die Afrikaanse kultuur. Leon Schuster se poep-grappies is nie meer snaaks nie. Dis goed om te sien dat die tipe satire van Bernoldus Niemand en die Naaimasjiene weer vlam vat. Bands soos die Antwoord, Jack Parrow en Thys Nywerheid laat mens lag, dans en dan dink....

binne rapport

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 13-24°C Sunny. Mild. Pta: 8-19°C Afternoon clouds. Cool.
Jhb: 5-16°C Mostly sunny. Cool. Bfn: 5-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 14-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 12-20°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

LEARNING DELIVERY SPECIALIST

Gauteng - JHB North/Sandton
MultiChoice Africa

Learning Delivery Specialis

KwaZulu Natal - Durban
MultiChoice Africa

Lead Architect

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

AUDI

A4 2.0 TDi Dsl 103kW MY05
2008
R 210,000.00

MERCEDES-BENZ

E 320 CDI
2005
R 209,995.00

TOYOTA

Corolla 1.4 Professional
2009
R 145,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

VIERLANDEN

House R 1 750 000

BRYANSTON

Apartment R 1 300 000

CRAIGAVON

House R 1 290 000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

Lae pryse op Boeke!

Miljoene titels om van te kies. Spaar nou tot 40%!

DVD's vir R129.95 Elk

Kry al die topverkopers en nuwe vrystellings vanaf R129.95 nou! 100e DVD's om van te kies.

Koop jou UNISA & Akademiese Teksboeke & WEN Groot

Koop enige teksboek van kalahari.net en 50 gelukkige lesers sal 'n R100-koopbewys elke dag van Maandag die 19de tot Saterdag 31 Julie wen.

Vuurwarm Musiekvrystellings

Kry jou gunstelingalbum van die musiekwinkel. Lae pryse op ALLE albums.

Tot 20% af op Elektronika

Besoek die Elektroniese winkel vir die nuutste produkte en toebehore. Fantastiese aanbiedings op handelsnaam-produkte.

Vandag se beste aanbod!

Die Warmste Nuwe Vrystellings

Nou net R129.95

Bestel jou gunsteling flieks en betaal slegs R129.95!

iPods, Wii, toebehore, sonbrille, horlosies & meer by www.kalahari.net!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...