Die Franse se Germaanse geheimpie

2012-12-16 00:05

Nes Asterix is dié storie ’n oulike brokkie ­fiksie.

Franse spog graag met hul sogenaamde “Galliese voorouers”.

Nos ancêtres, les Gaulois, verkondig hulle.

En wie kan hulle verkwalik dat hulle hul graag vereenselwig met Asterix en sy klein bende Kelte wat Julius Caesar en sy Romeinse legioene so ongenadig en komieklik verrinneweer?

’n Franse kultuurminister het glad eenkeer gewaarsku: Die Romeine van hierdie wêreld sal altyd met ’n Asterix te doen kry.

Jammer om dié patriotiese partytjie te bederf, maar die storie van die Franse se Galliese voorsate is, nes Asterix, ’n oulike brokkie fiksie. Byna al wat die Franse van die Galliërs geërf het is die coq francais – die haan wat so uitdagend op hul rugby­truie kraai. Dit is dus geen toeval dat die Latynse Gallus sowel “galliër” as “haan” beteken nie.

Die Franse is egter Germane, finish en klaar. Of meer presies: Hulle is Germane wat ’n Latynse taal praat.

Dié “nuus” is natuurlik nie eintlik vir Franse ore bedoel nie; trouens, die meeste Franse sal dit as moedswillige provokasie ervaar. Die geskiedenis is egter onverbiddelik.

Al weet die meeste van hulle dit nie, is die Franse dik familie van die Duitsers én die Engelse. Al drie stam uit dieselfde stuk Europese geografie, die ou Germania, naastenby vandag se Duitsland.

Dit is wel so dat Frankryk in voor-Christelike tye bewoon is deur Kelte wat hulle meer as 3 500 jaar terug in Sentraal-Europa tuisgemaak het. Die Romeinse historikus Titus Livius vertel dat Rome in 390 v.C. beleër en geplunder is deur ’n horde Keltiese invallers onder ene Brennus. (In Hane-rugby leef Brennus voort in die Brennus-skild, iets soortgelyks aan ons Curriebeker). Dié Keltiese glorie het egter nie lank geduur nie. In die daaropvolgende eeue het die Romeine stadigaan die oorhand gekry en tussen 58 en 51 v.C. het Julius Caesar die “Celtae”, soos hy na hulle verwys het, finaal onderwerp – ondanks Asterix en Obelix se weerstand!

Op sy Latyn noem Caesar hulle Galli. Die Latynse Gallia en die Franse Gaule is steeds geredelik herkenbaar in die Germaanse Wahla (’n verwysing na “uitlanders” of “barbare”). Dié benaming leef vandag voort in plekname soos Wallis en Wallonië.

Mettertyd ontwikkel dié verowerde Gallië tot ’n florerende Gallies-Romeinse beskawing met volkslatyn – die Latyn van die Romeinse soldate en handelaars – as kommunikasietaal.

Teen die laat vyfde eeu lyk die land se historiese en politieke geografie ingrypend anders. Wanneer die Romeinse ryk in 330 n.C. onder Konstantyn in oos en wes verdeel word, word die Weste toenemend die prooi van die Franke, barbaarse invallers van oos van die Ryn. Teen 511 n.C. is omtrent die hele Gallië onder hul beheer en staan die gebied bekend as Francia of regnum Francorum, die koninkryk van die Franke.

Hul invloed bereik ’n hoogtepunt onder Charlemagne (ook bekend as Karel die Grote) en wanneer hy op Kersdag 800 n.C deur die pous tot keiser gekroon word, strek die ryk van Italië in die ooste en Beiere in die noorde tot Spanje in die suide.

Maar waarom praat die Franse ’n Latynse taal?

In die vroegste geskrewe “Franse” teks, Les Serments de Strasbourg (Die Verbonde van Straatsburg), in 842, kry ons ’n vreemde tweetalige ooreenkoms onder oë. Dit is ’n verdrag in vroeë Romaans en Germaans. Die Romaans in die teks, wat meer na ’n soort barbaarse Latyn lyk, sou deur die volgende eeue groei tot die Frans wat ons vandag ken. Die Frankiese veroweraar het dus die volkslatyn van die Gallies-Romeinse verowerde oorgeneem en sy eie gemaak!

Die Franse se oortuiging van hul Galliese wortels het sy oorsprong in die 19de eeu toe ’n nuwe geslag historici hulle op nuwe navorsing verlaat het om die ou Kelte se heroïese weerstand teen Julius Caesar te romantiseer. Hiervolgens was die Galliërs nie barbare nie, maar patriotte wat heroïese teenstand teen die Romeinse invallers gebied het. Hul leier, Vercingetorix, wat deur Caesar verslaan is (en aan wie ons die -ix-name in Asterix te danke het), is in die proses opgevysel as nasionale held en legende.

Teen die vroeë 20ste eeu was Vercingetorix omtrent sinoniem met vryheidsvegter, ’n status waarmee die opkoms van ’n militante Duitsland heelwat te make gehad het. Toe Asterix sy Galliese ding begin doen, ’n korte 14 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog, was dit byna soos eietydse olie op die patriotiese vuur.

En waar pas die Britte in die prentjie?

In die toentertydse Germanië was die Franke se noordoostelike bure die Saksers en die Angele. Teen die middel van die vyfde eeu het dié Angelsaksers Brittannia, die eiland noordwes van hulle, binnegeval en die Keltiese bewoners verdryf. Dis aan hulle wat ons Engels en Engeland te danke het. Suidelike Germanië was weer die kontrei van ’n versameling Germaanse stamme bekend as die Alamanni (“alle mense”), ’n naam wat mettertyd die Frans vir Duitsers, Allemands, sou word.

Siedaar! Die drie hooffigure op die ekonomiese verhoog van Europa, uit een stuk grond! Maar net een van die drie praat rêrig ’n eie nasionale taal – die Duitsers. Die ander twee, die Franse en Britte, gebruik albei eintlik ’n invoerproduk!

Eben Meiring is ’n afgetrede dosent in Frans aan die Universiteit van Stellenbosch.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-14°C Numerous showers. More sun than clouds. Cool. Pta: 7-27°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 9-21°C Sunny. Mild. Bfn: 4-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 12-23°C Partly cloudy. Mild. PE: 9-19°C Showery. More clouds than sun. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!