Die agtuur-preek volg net ná die nuus

2012-09-09 01:15

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Daar word glase wyn in gesigte gegooi, deure toegeslaan, heen en weer gegil, heelwat vuil taal gebesig, en, laataand as alles verby is, ’n stewige paar doppe gesteek. Ja-nee, dit voel soos die goeie ou dae in die nuuskantoor.

Die reeks The Newsroom, wat onlangs op M-Net begin het, kan ’n oudjoernalis nostalgies maak na die dae van spertye jaag, die opposisie uitoorlê met ’n scoop en speurwerk doen om die Groot Storie te onthul. Die kameraderie! Die intrige! Die spanning!

Maar dalk maak dit ’n paar huidige joernaliste ook nostalgies. Want as ’n mens luister na die gesug van baie joernaliste vandag het die kommersiële druk en die pas van mededinging daarin geslaag om die bedryf te verander in ’n korporatiewe omgewing wat veel anders lyk as dié van 20 jaar gelede.

Die reeks, geskep deur Aaron Sorkin, wat waarskynlik die bekendste is vir sy politieke saga The West Wing, wentel om ’n span joernaliste wat ’n TV-aandnuusbulletin aanmekaarsit. Hulle is op ’n missie om die gehalte van joernalistiek te verhoog, die nuus met integriteit te rapporteer en die openbare belang te dien ongeag of hul kykers, die adverteerders of hul eienaars daarvan hou.

Terselfdertyd besin hulle oor hul roeping, staan hulle op teen die roekelose winsbejag van hul eienaars en werp hulle alles in die stryd om die Waarheid te dien. Inderdaad is ons nou al stewig op die terrein van fiksie.

Die konteks vir die reeks is die hoogs mededingende kabeltelevisie-omgewing in Amerika, en die manier waarop kommersiële druk op joernaliste uitgeoefen word is effens anders: In die Amerikaanse omgewing van groot konglomerate is die eienaars in The Newsroom bekommerd dat politieke aanstoot gegee sal word aan hul aandeelhouers, terwyl joernaliste in Suid-Afrika waarskynlik eerder die meedoënlose sirkulasiesyfers en die uittog van adverteerders sal vrees. Maar daar is ook verskeie parallelle – die spanning tussen die redaksionele personeel en die bestuur sal waarskynlik herkenbaar wees, en so ook die professionele ideologie van “waghond” speel oor die politieke maghebbers.

Dis nie dat The Newsroom probeer om ’n getroue prentjie te skep van die werklikheid nie. Nes enige TV-reeks is dit ’n konstruksie, met heelwat meer glans as die werklike lewe.

’n Mens sien min van die alledaagse sleur van joernalistiek en heelwat van die adrenalien-oomblikke, soos dit hoort op TV. Daar is egter ook heelwat geprekery, en die tipies Amerikaanse onderontwikkelde sin vir ironie beteken dat die kyker dikwels blootgestel word aan moeilik verteerbare dosisse idealisme.

Maar dit is nie soseer die idealisme wat die probleem is nie – wat sou ’n joernalistiek-dosent nie wou gee om sy oudstudente ná ’n paar jaar in die bedryf raak te loop met dieselfde sterre in hul oë as toe hulle in sy klaskamer gesit het nie.

’n Resensie in New York Times kritiseer die joernaliste van The Newsroom daarvoor dat hulle te veel preek en te min werklike rapportering gaan doen. Vanuit die oogpunt van TV-vermaak sou ’n mens met dié resensent kon saamstem.

Maar die reeks wil kennelik nie net vermaak nie – dit gaan ook oor die kortsigtige obsessie met korttermyn- kommersiële wins wat van baie joernaliste lui handelaars in inligting gemaak het. Vanuit dié oogpunt gesien is dit moeilik om te verskil van die ideaalbeeld wat The Newsroom daarstel. Die publiek sou waarskynlik veel meer vertroue in die joernaliste gehad het as hulle oortuig was dat daar elke dag in die nuuskantoor opregte introspeksie en kritiese selfondersoek plaasvind van die soort wat The Newsroom se karakters pleeg.

Maar waar die New York Times se resensie die spyker op die kop slaan, is hul openingsin: “It’s not enough to be right; everyone else must be wrong.”

Die probleem met die manier waarop die idealisme in The Newsroom uitgebeeld word, is dat die hoofkarakter, Will McAvoy (Jeff Daniels), daarop uit is om te wys hy is beter as alle ander joernaliste. In ’n onlangse episode baklei hy met ’n ponietydskrif-joernalis wat hom probeer oortuig dat hulle albei joernaliste is. Snert, sê McAvoy, jy sorg met jou skindernuus oor glanspersoonlikhede dat die publiek al hoe dommer word. Ek, inteendeel, is op ’n sending om mense weer beskaafd te maak deur vir hulle Belangrike Nuus te gee wat hulle in staat sal stel om hul rol in die demokrasie te speel. Klink dit bekend? Soos iets wat middelklas-joernaliste en voorstedelike lesers dalk oor Daily Sun sou sê?

Dis hierdie elitisme van joernaliste wat hulself sien as lede van ’n professionele klas wat op paternalistiese wyse kan besluit wat “Die Volk” moet weet, wat ’n mens dwars in die krop steek.

In die era van die demokratisering van inligting, van die vervaging van grense tussen mediagebruikers en mediaprodusente (die sogenaamde “prosumers” wat nuus terselfdertyd verbruik en weer produseer op blogs, Facebook, Twitter en dies meer) sal so ’n elitistiese houding nie lank staande bly nie.

’n Meer openhartige ingesteldheid teenoor gehore en die vermoë om te luister na die publiek se vrese, behoeftes en plesiere sal die media op lang termyn veel meer in geloofwaardigheid en relevansie baat.

Die afgelope week het die Suid-Afrikaanse drukmedia weer aan sy joernaliste pryse oorhandig by die Sikuvile-geleentheid.

Dis goed dat rolmodelle geprys word. Maar dalk is dit ook tyd vir hierdie elite om, soos die joernaliste in die mees onlangse episode van The Newsroom, ’n lysie te gaan maak van “stories wat ons gemis het”. Want ’n nouer verhouding met die publiek, die heropbou van joernalistiek se reputasie, en groter relevansie in ’n demokratiese samelewing vereis nie net skouerkloppery nie, maar ook soms derms uitryg.

Prof. Herman Wasserman doseer joernalistiek en mediastudies aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad. Hy is ’n voormalige joernalis.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-25°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Cool. PE: 12-25°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!