Dit lýk dalk soos uitgeknipte prente
2012-09-16 00:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Asha Zero – die skuilnaam van ’n geheimsinnige Suid-Afrikaanse kunstenaar wie se werk ook internasionaal opslae maak – is daarop uit om doelbewus te fop en jou te laat wonder oor die aard van kuns.
Kyk vinnig en dit lyk na blote collages – ’n skilderye saamgestel uit uitgesnyde prentjies uit tydskrifte en koerante.
Maar hier lê die knoop. Want Asha Zero se collages is nie regtig collages nie. Kyk van naby en jy besef dis pynlik presiese nabootsings van sulke collages met olieverf op doek geskilder.
In numberrs (sic), sy jongste solo-uitstalling wat die afgelope week in Kaapstad geopen het (voordat dit in Oktober ook na Londen gaan), borduur hy voort op dié collage-tema.
Sy fiktiewe identiteit – dalk soortgelyk aan die fantasie-identiteit wat menige Facebookers vir hulself skep? – is deel van die speletjie. ’n Mens sou kon sê dat, net soos sy identiteit, sy skilderye ook nabootsings is.
Maar waarom sou ’n kunstenaar ’n collage wou naboots?
En wat maak die nabootsing van ’n collage anders as die oorspronklike? Collages is tog so old hat, nie waar nie?
Met dié skilderye het Zero egter presies die teenoorgestelde doel voor oë as wat collage-kunstenaars van die middel van die vorige eeu gehad het.
Hulle wou met skeursels en plaksels uit die massamedia wegbreek van realistiese illusionêre kuns.
Asha Zero draai die spulletjie op die kop. Deur hul collages te “herskilder” dwing hy ons om weer te gaan dink oor die idee van nabootsing, kopiëring en toe-eiening, wat so ’n belangrike element van ons tyd is.
Die aanspraak wat deesdae dikwels gemaak word, is dat alle intellektuele eiendom aan almal behoort, dat elkeen van die ander kan steel in die kuberruimte. In die ontwerpwêreld word vindingryke ontwerpe blitsig nageboots en gekopieer en onder ’n vals naam of sonder naam verkoop.
Asha Zero se prente is miskien nabootsings, maar anders as die metodiese skeur en plak van die oorspronklike is sy skilderwerk ’n pynlik langsame proses – hy voltooi blykbaar nie meer as 15 per jaar nie.
Hierdie skaarsheid jaag natuurlik die pryse op.
Sy jongste uitstalling is alles op die openingsaand uitverkoop met pryse wat gaan draai het rondom R330?000 vir ’n skildery van 150?x?240 cm.
Die grap in kunskringe is egter dat ’n “halfprys”-namaaksel van ’n Asha Zero-kunswerk onlangs op ’n galeryvloer opgeduik het en dat die kunstenaar toe sy kopiereg met dreigemente van ’n regsaksie moes verdedig!
Só draai die wiel en word waarhede om en oor mekaar gekeer.
Die uitstalling numberrs by die galery 34 FineArt in Woodstock, Kaapstad, duur tot 22 September.
Besoek ook die virtuele uitstalling op www.ashazero.co.za waar daar leidrade is wat jou lei na ’n weggesteekte kunswerk iewers in die strate van Kaapstad, Johannesburg, Durban en Bloemfontein.