Fout lê in ons koppe

2012-08-19 00:22

Sunette Viljoen se teleurstelling.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wat verwag ’n land van sy Olimpiese atlete? Om medaljes te wen? Sekerlik. Om hulself soos goeie ambassadeurs te gedra deur goeie sportmanskap aan die dag te lê en met eer uit die stryd te tree? Natuurlik.

En as hulle eenvoudig nie goed genoeg is om die beste in die wêreld te klop nie?

Wel, dan wil ons ten minste weet dat hulle hul allerbeste gedoen het deur hul persoonlike hoogtepunt van die jaar of die seisoen by die Spele te bereik. Niks meer nie en niks minder nie.

So, waarom het Suid-Afrika se Olimpiese atletiekspan dié toets in Londen so tragies gedop?

Want gedop hét hulle. Van die 17 atlete in individuele nommers het net vier hul hoogtepunt van die jaar in Londen bereik: Anaso Jobo­dwana (200 m), Lehann Fourie (110 m-hekkies), Marc Mundell (50 km-stap) en Caster Semenya (800 m).

Dít beteken ’n tragiese slaagsyfer van net 23%.

Bekommerde Suid-Afrikaners se eerste reaksie op dié troosteloosheid is gewoonlik dat ons plaaslike atletiek die afgelope paar jaar agteruitgegaan het en/of dat ons nie meer oor die talent van ouds beskik nie en/of dat die Leonard Chuene-regime atletiek doodgemaak het.

Feit is: Dié argumente gaan nie noodwendig op nie.

Onthou dat elkeen van die 17 Londen-gangers hemelhoë kwalifiserende vereistes moes behaal om vir vanjaar se Spele te kwalifiseer– in baie gevalle van die taaiste ter wêreld. So, daar sneuwel die argument van “ons het nie meer die atlete van die goeie ou dae nie”.

Onder daardie 17 het ook meer as ’n handvol mense getel wie se onlangse vertonings onder die toptien op die planeet getel het. Soos die spiesgooier Sunette Viljoen, wat Londen met die wêreld se beste afstand betree het.

Talentgewys het Suid-Afrika nié ’n tekort aan potensiële Spele-sterre gehad nie. Soos by ál die vorige Speles die geval was. Gaan kyk maar na wêreldranglyste: Dit krioel jaarliks van Suid-Afrikaners – en ek praat nie net van die senior ranglyste nie; ook op junior vlak is die land nog steeds jaarliks tussen die wêreld se groot honde.

Die probleem is egter: So min van ons talentvolles bereik hul volle potensiaal by ’n groot kampioenskap, daar waar dit rêrig tel.

Dit gebeur te dikwels dat Suid-Afrikaanse atlete nie die mentaliteit – noem dit sommer die kop – het om in groot geselskap hul beste te lewer nie.

Die lysie van plaaslike sterre wat by ’n Spele skielik die papelellekoors kry en myle onder hul beste “presteer” is lank.

Sulke onderpresteerders se reaksie wissel, het hierdie waarnemer al by Spele ná Spele ondervind, gewoonlik tussen twee uiterstes: Daar is dié wat dit gelate aanvaar (“Dis die Here se wil”, of “Ag, dit was net nie bedoel om my dag te wees nie” is meer as een keer aan my gesê) of daar is hulle wat opreg vies is vir hulself en wéét dat hulle drooggemaak het.

Of is dit dalk ge-choke het?

Geen wonder menige “kenner” noem ons ’n nasie van chokers nie.

Dié etiket is natuurlik nie altyd geregverdig nie. Wat dan van Cameron van der Burgh? Of Chad le Clos? En ons goue roei-viertal?

Wat my terugbring by ons mentaliteit.

Ons gouemedaljewenners, nou in Londen en ook by vorige Speles, se koppe was reg ingestel.

Hulle het rêrig geglo hulle kan wen – maak nie saak of dit teen ’n legende soos Michael Phelps of wie ook al is nie.

Natuurlik speel sogenaamde kop-dokters of sielkundiges hul rol hierin. Is dit bloot toevallig dat dr. Henning Gericke die seëvierende swemmers bygestaan het? Hoekom het atletiek nie van sy dienste gebruik gemaak nie? Dit het duidelik gewérk!

Ek wéét sommer, uit dure ondervinding, dat daar tydens atletiek se “nadoodse ondersoek” van Londen 2012 weer talle van die volgende verskonings vir ons atlete se vrot slaagsyfer uitgeryg gaan word: Ons skole-atletiek is aan?’t uitsterf weens swak of geen afrigting nie; ons het nie genoeg geld om van ons talentvolles kampioene te maak nie; daar bestaan nie meer ’n ge­koördineerde afrigtersvereniging nie; ons plaaslike seisoen (tussen Februarie en April) beteken dat ons atlete eintlik twéé seisoene (een in die noorde en een hier plaaslik) het en dat dít te veel gevra is van vlees en bloed. Ensovoorts. En so meer.

Ons hoor dit vierjaarliks ná elke Spele, vra my.

Intussen lewer ons, ondanks al dié rampe, jaar ná jaar potensiële wêreldsterre van klein tot groot op.

Te min geld? Te min goeie afrigters? Rêrig?

Vertel dit vir Keshorn Walcott wat in Londen die Olimpiese spiesgooititel gewen het. Teen twee van die planeet se amperse legendariese hardebaard-kampioene soos Andreas Thorkildsen en Tero Pitkamaki.

Keshorn is 19. Hy kom – van alle plekke – ’n arm eiland soos Trinidad, waar spiesgooi nou nie juis ’n gewilde tydverdryf is nie. Waar daar, o ja, soos in alle Karibiese Eilande, geen tekort aan blitsige mense is nie.

Keshorn het verlede jaar al, asof uit die niet, in Barcelona die junior wêreldtitel gewen.

Sónder enige bekende breier, sónder emmersvol dollars.

Hy het boonop vier jaar gelede die eerste keer ’n spies gegooi, nadat hy dit nie in krieket as bouler gemaak het nie.

Hoekom, vra hierdie waarnemer al die sogenaamde kenners wat nou weer soos paddastoele ná Londen 2012 opskiet, is iemand met so ’n agtergrond met goud uit Londen weg?

Keshorn is nie die eerste wat so gedoen het nie. En hy sal nie die laaste wees nie.

As jy my vra, is die eenvoudige antwoord: Mentaliteit. Hy het die kop van ’n kampioen.

Hemelhoë kwalifiserende vereistes alleen gaan jou nie help om medaljes te oes nie.

Die dag wanneer Suid-Afrikaanse atletiek mense na ’n Spele stuur gepantser met die regte mentaliteit (lees: sterk koppe) om hul talent te komplementeer, dáárdie dag sal Suid-Afrikaanse atletiek sy regmatige plek tussen die wêreldgrotes inneem.

Johan van Wyk is ’n atletiekverslaggewer vir Sport24 en veteraan van ses Olimpiese Speles.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-18°C Morning clouds. Mild. Pta: 2-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-16°C Sunny. Cool. Bfn: -2-17°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!