Gewone word heerlik anders
2012-10-20 23:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Moonrise Kingdom Regisseur Wes Anderson. Met Jared Gilman, Bruce Willis, Edward Norton en Bill Murray. In Ster-Kinekor-teaters.
Wanneer ’n mens na ’n Wes Anderson-rolprent gaan kyk, voel dit of jy op die maan is en die aarde vanaf ’n ander perspektief sien. Skielik raak die planeet, met al sy probleme en koddighede, bekoorlik en word die mensdom ’n jolige klomp wat vanuit ’n nuwe perspektief belig word.
Anderson is soos die seuntjie met die dikraambril op skool met die te groot broek. Jy kry hom jammer omdat hy nie inpas nie, maar terselfdertyd bewonder jy hom omdat hy nie omgee wat jy van hom dink nie.
Hy verhef eksentrisiteit tot ’n kunsvorm en slaag daarin om met elke rolprent oorspronklik te wees. Maar nie die oorspronklikheid van Tim Burton wat dit uitbundig en met woeste wegstaan-hare verkondig nie. Dit word ’n onweerstaanbare andersheid wat die lekkerte van fliek herontwerp.
Daarom dat elke rolprent van hom sy eie plesierighede het wat jy nêrens anders kry nie. Van sy vroeëre rolprente soos die aweregse Bottle Rocket al tot The Royal Tenenbaums en The Darjeerling Limited smokkel Anderson met konvensies en genres.
In Moonrise Kingdom sal elke volwassene, wat die bleeksiel in homself nog altyd probeer verbloem het, aanklank vind. Want hierdie unieke rolprent, wat in 1965 afspeel, handel oor ’n 12-jarige seun wat rebelleer teen konvensies en reëls. Wat van die wêreld wil ontvlug. Nie net omdat hy weet dat hy nooit sal inpas nie, maar omdat hy verlief geraak het en die gemeenskap nie daardie liefde sal toelaat of akkommodeer nie.
Hy ontdek in die proses sy sielsgenoot. Saam vlug die twee na ’n baai wat ontoeganklik is vir die res van die wêreld sodat hulle hul liefde kan vier voordat volwassenheid dit later laat vermurwe.
Moonrise Kingdom is die biografiese fabel van ’n Hollywoodse talent wat tot dusver geweier het om te konformeer of om botter oor gehore se springmielies te gooi. Hy waag dit om rolprentreëls oorboord te gooi en gehore met ’n skewe grinnik te oorreed om ’n doodgewone storie vanuit ’n nuwe perspektief te benader. In hierdie rolprent spring jy aan die diep kant in en jy verdrink amper. Maar jy geniet dit om te leer swem.