Hindenburg: 75 jaar

2012-05-05 15:20

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

’n Paar weke gelede het die wêreld die Titanic-seeramp herdenk wat vanjaar presies ’n eeu gelede plaasgevind het.

Met al die aandag op die Titanic is dit maklik om te vergeet dat vanjaar ook die 75ste herdenking van die ontploffing van die Hindenburg is – ’n ramp wat ook al dekades lank die verbeelding van miljoene mense aangryp.

Die Duitse Hindenburg is destyds beskryf as die grootste en weelderigste lugskip wat nog gebou is – ’n swewende hotel. Dit het egter slegs 14 maande ná sy nooiensvlug dramaties neergestort ten aanskoue van honderde toeskouers terwyl dit besig was om by die Lakehurst-vliegveld in die Amerikaanse deelstaat New Jersey te land.

Net soos die Titanic 25 jaar vantevore beskou is as die trots van Britse skeepsingenieurswese, was dié lugskip (met ’n lengte van meer as twee rugbyvelde) die sieraad van Duitse tegno­logie in ’n tyd toe Duitsland onder Adolf Hitler besig was om sy aansien ná die Eerste Wêreld­oorlog te herwin.

Ironies was die Nazi-regime egter min beïndruk deur die naam wat die Zeppelin-maatskappy vir hul modernste lugskip gekies het. Om veldmaarskalk Paul van Hindenburg, president van Duitsland van 1925 tot en met sy dood in 1934, só te vereer, het Joseph Goebbels, Hitler se propaganda-minister, woedend gemaak. Dié eer kom sekerlik die Führer toe, het hy die maatskappyvoorsitter, dr. Hugo Eckener, toegesnou.

Dat die skouspelagtige ramp deur persfotograwe en rolprentkameras verewig en wêreldwyd gesien is, het beslis ’n enorme rol gespeel om die Hindenburg in die kollektiewe geheue van die mensdom in te brand.

Voor die Hindenburg het ander lugskepe ook ontplof – dikwels met groter lewensverlies as die 36 mense op die Hindenburg – maar nie een van dié rampe het dieselfde impak gehad nie.

Die radioman Herb Morrison se beskrywing van die ramp word steeds in joernalistiekskole voorgehou as ’n klassieke voorbeeld van goeie radiojoernalistiek. Nadat hy die Hindenburg se aankoms sekondes tevore nog in kleurvolle taal beskryf het, roep hy skielik uit: “It burst into ­flames! It burst into flames, and it’s falling, it’s crashing! Watch it! Watch it, folks! Get out of the way! Get out of the way!”

Dan hoor mens die skok en afgryse in sy stem as hy, na aan trane, uitroep: “Oh, the humanity and all the passengers screaming around here... This is the worst thing I’ve ever witnessed.”

Die meeste passasiers en bemanningslede het uit die lugskip gespring om te ontsnap. Hul kans op oorlewing het grootliks afgehang van waar hulle hul bevind het in die sekondes voordat die noodlot getref het. Die kans van diegene in die openbare vertrekke met sy promenadevensters was soveel beter as die passasiers wat in hul kajuite was.

Hartroerende verhale is agterna vertel. So kon John Pannes, wat hom in die eetlokaal bevind het, deur ’n venster na veiligheid spring, maar hy het besluit om sy vrou te gaan soek wat oomblikke tevore na hul kajuit gegaan het om haar jas te kry. Albei het omgekom.

Al wat oor was van die eens statige lugskip was die verfrommelde aluminiumraam en ’n deel van die stert. (Die alumi­nium is ná die ramp terug na Duitsland, waar dit herwin is om vliegtuie vir die naderende oorlog te bou.)

Die Hindenburg was veronderstel om met nie-ontvlambare ­helium te sweef, maar uit vrees dat ’n reeds aggressiewe Nazi-Duitsland sulke tuie in geval van oorlog kon gebruik, het Amerika die uitvoer van helium na Duitsland verbied. Die Duitsers is dus gedwing om waterstof te gebruik. Waterstof gemeng met die suurstof in die atmosfeer is egter uiters plofbaar.

Waar die Titanic-drama oor nagenoeg twee en ’n half uur afgespeel het, was die Hindenburg-ramp binne minder as 40?sekondes verby.

Ofskoon die passasiersgetalle van die twee vaartuie hemelsbreed verskil, is dit tog interessant dat 64% van die Hindenburg se passasiers oorleef het, teenoor net 32% van die Titanic. Onder die Hindenburg-oorlewendes was talle egter ernstig beseer.

Soos gewoonlik met sulke groot rampe was daar talle ondersoeke na die oorsaak en ook bespiegelings, weersprekings en natuurlik ’n paar samesweringsteorieë.

Op die lys was onder meer weerlig, sabotasie en foutiewe optrede van die bevelvoerder. Ofskoon geen bewyse daarvoor gevind is nie, het sommige koerante selfs berig dat iemand aan boord met ’n Luger-pistool selfmoord gepleeg en die skoot die ontploffing veroorsaak het.

Die mees geloofwaardige oorsaak wat aangevoer is, is dat ’n skeurtjie in die ballon (dalk veroorsaak deur die skerp draai tydens die landingsmaneuver) waterstof laat lek het wat deur ’n ontlading van statiese elektrisiteit aan die brand gesteek is.

Die Hindenburg-katastrofe het die einde van ’n era ingelui. Vertroue in dié vorm van vervoer het ná die ramp ineengestort.

Boonop het die na-oorlogse ontwikkeling van bekostigbare en betroubare vliegtuie wat transkontinentale vlugte kon onderneem gou die leemte gevul wat deur die reuse-lugskepe gelaat is.

Hannes Haasbroek is ’n argivaris.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-24°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Mild. PE: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!