Hoër lone is kortsigtige oplossing

2012-11-17 23:51

Plaaswerkers drom saam by Wolseley.| Foto: Yunus Mohamed

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die tragedie van die onluste in die Kaapse wynlande is dat die twee grondliggende ekonomiese oorsake nie getakel word nie.

Dit is moeilik om verby die emosie van rubberkoeëlwonde en afgebrande plaasskure te kyk, veral as populistiese politiekery en ander belangegroepe soos vakbonde en die media boonop die vure aanblaas.

Dit is geen geheim nie dat die Suid-Afrikaanse wyn- en tafeldruifbedryf ’n hartseer geskiedenis van arbeidsverhoudings het, hoofsaaklik omdat dit op die instelling van slawerny gebou is.

Hoewel slawe al in 1838 amptelik vrygestel is, het de facto slawerny voortbestaan in die vorm van die dopstelsel, waar werkers meestal met wyn of brandewyn vergoed is. Die dopstelsel is eers teen die einde van die twintigste eeu afgeskaf. Jeanne Viall, Wilmot James en Jakes Gerwel vertel hierdie verhaal met deernis in hul boek, Grape. Behalwe dat dit vir plaaswerkers min geleentheid gebied het om hul situasie te verbeter of verlaat, het dit ook fisieke en sielkundige letsels gelaat: Baie plaaswerkers sukkel steeds met alkohol-verwante siektes en fetale alkoholsindroom is wyd verspreid.

Hoewel sommige eienaars steeds gratis verblyf, voedsel en vervoer aan hul werkers verskaf, is vergoeding deesdae in kontant. En dit is juis die ongelukkigheid: Lone beloop slegs R70 per persoon per dag, die minimum loon soos deur die staat bepaal. Werkers vra vir R150.

’n Daaglikse loon van R70 klink min as dit gemeet word teen die inkomste van die plaaseienaars, die inkomste van die gemiddelde Rapport-leser, om nie te praat van die salarispakket van die gemiddelde staatsamptenaar – of vakbondleier! – nie.

Maar om die eerste ekonomiese oorsaak van die opstande te verstaan, moet die volle Suid-Afrikaanse inkomsteverdeling in ag geneem word. Volgens ’n 2007-studie deur Universiteit van Kaapstad-ekonome in opdrag van die nasionale tesourie, verdien 55,1% van Suid-Afrikaners minder as R1 720 per huishouding (in 2006-pryse) per maand. As ons aanvaar dat net twee lede van ’n huishouding in die Kaapse wynlande werk en daar geen ander vorm van inkomste is nie (soos pensioentoelae), dan is die gemiddelde maandelikse inkomste per huishouding R2 800. Dit beteken dat meer as die helfte van Suid-Afrikaners minder verdien as die R70 per dag van die Kaapse plaaswerkers.

Dit beteken verder daar is miljoene ander Suid-Afrikaners (en inwoners van ons buurlande) wat graag wil hê wat Kaapse plaaswerkers het: ’n vaste inkomste. Dit is ook hoekom daar steeds ’n toevloei van migrante en immigrante na dié plattelandse gebiede is. In ekonomiese terme: Die aanbod van arbeid groei vinniger as die vraag daarna, wat pryse laag hou (en ook spanning skep tussen die plaaswerkers en migrante, soos die xenofobiese aanvalle van 2008 bewys). Vir baie van die immigrante is ’n loon van R70 baie beter as geen werk nie.

Miskien is dit wat Joan Robinson, bekende Britse ekonoom van die 20ste eeu en leermeester van die Nobel-pryswenners Amartya Sen en Joseph Stiglitz, bedoel het toe sy in 1962 geskryf het: “Die ellende van uitbuiting deur kapitaliste is niks in vergelyking met die ellende daarvan om nie uitgebuit te word nie.”

Die tweede ekonomiese oorsaak is dat beter tegnologie plaaseienaars in staat stel om meer uitsette met minder insette te produseer.

Arbeid was tot onlangs toe nog die belangrikste inset in die plaasproduksieproses, maar, soos ek verlede week by die AgriWorks-boere-ekspo op Stellenbosch kon sien, spesialis-boerderytoerusting stel plaaseienaars deesdae in staat om honderde werkers te vervang.

En, soos ’n anonieme De Doorns-plaaseienaar onlangs opgemerk het: “Hierdie masjiene kla nie, hulle werk heeldag, hulle vra nie vir hoër lone nie en hulle brand nie jou plek af nie.”

Pleks van 200 arbeiders, beteken ’n oesmasjien dat ’n plaas­eienaar net 20 (opgeleide) werkers benodig. Die meganisering van produksie maak daardie werkers boonop baie produktiewer, wat beteken hul lone sal hoër wees.

So wat is die oplossing? Die plaaswerkers, ondersteun deur die vakbonde en die minister, sal die nasionale regering vra om die minimum loon te verhoog.

Soos enige eerstejaar-ekonomiestudent behoort te weet, skep ’n minimum loon ’n prysvloer, met een gevolg: werkloosheid.

Ek vermoed van die 16 000 werkers tans in De Doorns (8 000 permanent en 8 000 seisoenale werkers), sal volgende jaar baie minder benodig word teen R150 per dag. En die jaar daarna nóg minder.

Hoër lone sonder ’n toename in produktiwiteit beteken die vernietiging van werksgeleent­hede.

Gegewe die druk op werkskepping landwyd, is ’n hoër minimum loon ’n kortsigtige oplossing: In alle waarskynlikheid sal dit baie groter mediumtermynprobleme inhou.

Die doelwit moet wees om arbeiders produktiewer te maak, en hier kan sowel die staat as die plaaseienaars help. Daar is reeds ’n verskeidenheid suksesvolle programme vir plaaswerkers wat hul vaardighede en wetenskaplike kennis van landbou help uitbrei, en plaaseienaars moet aangemoedig word om hierdie programme te ondersteun (in ekonomiese terme, te investeer in hul werkers se menslike kapitaal).

’n Langtermynoplossing is om die kinders van permanente en tydelike plaaswerkers toegang te gee tot goeie onderwys, sowel in hul nuwe tuiste as in hul provinsies van oorsprong, sodat hulle die geleentheid het om hulself voor te berei vir ’n veranderende ekonomie.

Verstedeliking is ’n wêreldwye fenomeen; plaaswerk ’n kwynende beroep. Ongelukkig het geen politikus die moed – of die vermoë? – om dit aan ’n skare ongelukkige plaaswerkers te verduidelik nie.

Johan Fourie is senior lektor in ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
12 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 10-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 8-17°C Sunny. Mild. Bfn: 7-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 17-24°C Rain late. Morning clouds. Mild. PE: 12-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!