Hy glo enduit in sy Daisy

2012-12-29 23:57

Vandag, presies 80 jaar gelede, is die gifmoordenares Daisy de Melcker in Pretoria tereggestel. Org Potgieter vertel.

'n Lelike, gierige vrou. Drie gifmoorde met haar deernisvolle begeleiding. ’n Vierde in die beplanningstadium.

 En toe ’n koerantfoto, ’n oplettende apteker en ’n denkbeeldige kat wat haar doppie voor die regter geklink het.

40 dae lank was die moordverhoor van die verpleegster Daisy de Melcker een van die groot attraksies in Johannesburg.

Voor die dag waarop die uitspraak gelewer is, is daar deur die nag tougestaan en het die gehoor tot 30 sjielings vir ’n sitplek in die hof betaal.

Die beskuldigde het hulle daagliks met die elegante wuif van ’n rolprentster begroet en was dwarsdeur die verhoor so lighartig soos een wat glad nie aan haar eie onskuld twyfel nie.

Haar laaste woorde in die hofsaak was kalm en beslis: “Ek het nie my seun vermoor nie.”

Wat van haar eerste kêrel en eerste twee mans? Of was sy inderdaad onskuldig aan almal se dood?

Sou sy in vandag se regstelsel skuldig bevind gewees het?

Agt dekades ná haar galgdood boei die lewe en dade van die Daisy de Melcker nog genoeg mense om boeke oor haar, ’n TV-reeks en ’n opdos-musiekbly­spel die lig te laat sien.

Haar “spook” in die hospitale waar sy gewerk het, word as toeriste-attraksies bemark.

Daisy Louisa Hancorn-Smith is in 1886 gebore en haar eerste liefdesverhouding was as 21-jarige met Bert Fuller.

Hulle het op trou gestaan toe Fuller op hul beplande troudag en met Daisy aan sy sy aan gediagnoseerde swartwaterkoors gesterf het.

Hy het £100 aan sy verloofde bemaak – in ’n tyd toe ’n goeie loon £4 per week was.

Haar eerste huwelik, in 1909 met William Alfred Cowle, het 14 jaar lank geduur.

Hulle het vier kinders aan die dood afgestaan en net Rhodes Cecil het oorleef.

Cowle het aan sy maag gely en erg siek geword nadat Daisy hom ’n purgeermiddel ingegee het.

Met sy tweede aanval het die dokter hom blou in die gesig en met skuim om die mond aangetref.

’n Erg bekommerde Daisy was by sy bed. Hy het baie seer gehad, het geskree as iemand net aan hom raak.

Ná sy dood kort daarna was sy met ’n polis van £1 245 en ’n pensioen van £553 ’n vermoënde weduwee in ’n tyd toe ’n goeie tweeslaapkamerhuis £300 gekos het.

Drie jaar later is Daisy met Robert Sproat getroud.

Hy het ’n maand uitmekaar erge maagkrampe en sametrekkings ontwikkel en is in die tweede aanval oorlede.

Die dokter het arteriosklerose en serebrale brein­-bloeding gediagnoseer en Daisy, wat weer tot sy einde by hom gewaak het, was £4 560 uit die boedel ryker.

In 1931 was sy reeds 46 jaar oud en volgens Sarah Gertrude Millin (skrywer van die boek Three Men Died wat die hofsaak bygewoon het) “klein en skraal, met ’n yslike bos onbeheerbare grys hare, klouagtige vingers, ’n bleek vel, ’n groot bril, ’n mond soos ’n vis en ’n gesplete verhemelte” (waarmee sy gebore is).

Isie Maisels, een van haar eie advokate, het haar beskryf as “waarskynlik die lelikste vrou wat ek al gesien het. Sy was walglik lelik, genadeloos, sonder berou en hardvogtig.”

En tog het sy oor die sjarme beskik om ’n derde man kansel toe te lok: die aantreklike 1906-Springbok-rugbyspeler Sydney de Melcker.

Daisy se volgende slagoffer was haar seun, die 20-jarige Rhodes Cecil Cowle.

Hy het begin siek word van die fles met koffie wat sy ma vir hom werk toe ingepak het.

Doodsoorsaak: serebrale malaria.

Toe het die gety teen Daisy begin draai. William Sproat, die broer van haar tweede man, het snuf in die neus gekry oor die sterftes en hom tot die gereg gewend.

Op 15 April 1932 is die oorskot van Sproat, Cowle en Rhodes Cowle opgegrawe.

Spore van strignien is in die oorblyfsels van haar mans gevind en arseen in dié van Rhodes.

Daar was ook spore van arseen in die koffiefles wat in haar huis gevind is.

Daisy is ’n week later vir die dood van al drie in hegtenis geneem.

Daar het nou een ontbrekende bewysstuk tussen Daisy en die galg gestaan.

Met die voorlopige ondersoek was die kroon se span aanklaers oortuig dat sy drie moorde gepleeg het, maar sonder ’n bewys dat sy gif gekoop het, was hul saak hoofsaaklik op omstandigheidsgetuienis gegrond.

Syd Goetsche, die senior aanklaer, het koerante toe versoek om ’n foto van Daisy te publiseer in die hoop op reaksie.

Dít het spoedig gevolg.

Die apteker Abraham Spilkin het onthou dat sy gif “vir ’n rondloperkat” by hom gekoop, die register as D.L. Sproat onderteken en haar vorige adres verklaar het.

In die daaropvolgende 40 dae het die kroon 70 getuies geroep en die verdediging net 12.

Die hoofaanklaer, Sylvester Quinlan, het daarop aangedring dat Spilkin se bewyse as ’n verrassing gehou word onderwyl die getuienis teen haar opbou.

“Ek wou De Melcker se reaksie sien,” het hy jare later gesê.

“Almal in die hof kyk altyd om as ’n nuwe getuie geroep word, maar ek het my oë op die beskuldigde gehou. Dit het gelyk of sy uit vrees en afsku terugdeins en sy was skielik wasbleek. Toe het ek geweet sy weet dis die einde van die pad.”

Regter Leo Greenberg het haar vrygespreek aan die dood van haar twee mans, maar skuldig aan die moord op Rhodes. Die doodsvonnis is op 25 November 1932 oor haar uitgespreek.

Daar was geen pleidooi om versagting van vonnis nie en die moordsaak het haar bankrekening leeggetap.

Daar is uiteenlopende getuienis oor Rhodes gelewer: dat hy allerlei geldeise aan sy ma gestel het; dat hy dat hy ’n lieplapper was en haar aangerand het.

Maar andersins is getuig dat hy “intelligent en pligsgetrou” en ’n “ware gentleman” was.

Die waarskynlikste rede vir sy dood is dat Daisy ’n afsku ontwikkel het in die seun wat sy jare lank bederf het.

Rhodes was ongeskik teenoor haar en ’n geldelike las.

Vir dié moord het sy vir oulaas £100 uit sy boedel en ’n tou om haar nek ontvang.

In die vyf weke wat sy in die dodesel deurgebring het, het die skrywer Herman Charles Bosman pamflette laat druk waarin hy om begenadiging vir Daisy gepleit het.

Meer as 200 000 van die eerste een is verkoop en hulle is vandag versamelstukke.

Bosman het geskryf dat sy “die hele tronk met haar sjarme verower het”.

Bewaarderesse het op hul taal gelet en soos sy probeer praat.

Hulle het ook probeer om hul tee op Daisy se verfynde manier te drink.

Bosman het ook die invloed van die openbare mening ter versagting aangevoer.

“Sy het drie mans gehad en was ongewild by vroue wat nie eens een kon kry nie. Hulle is heeltemal tereg jaloers op haar.”

Dit was alles vergeefs en De Melcker is die oggend van 30 Desember 1932 in Pretoria se Sentrale Gevangenis tereggestel.

’n Tergende vraag bly: Hoe kon so ’n onaantreklike vrou soveel mans verlei?

Sy het nooit eens probeer om mooi te lyk nie – sy het dwarsdeur haar verhoor geen lipstiffie en geen grimering gedra nie en dieselfde swart rok ses weke lank gedra. Sielkundiges sê vroue soos Daisy is tradisioneel gewetenloos en word deur selfsug gedryf wanneer sy ’n man oorrompel.

Sy straal warmte uit en is liefdevol.

Maar haar visier is op geld en besittings gestel en sy voel nooit werklik iets vir mense nie.

Sydney de Melcker het dwarsdeur die drama in sy vrou se onskuld geglo – tot die veiling van haar besittings wat ná haar galgdood gehou is.

Haar gramradio was stukkend.

Die koper daarvan het dit na ’n herstelwinkel geneem.

Weggesteek binne-in ontdek die werktuigkundige ’n koevert met die woorde: “For dear old Syd.” Die wit poeier in die koevert is ontleed: dit was arseen.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
15 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-18°C Sunny. Mild. Pta: 11-24°C Showers late. More sun than clouds. Mild.
Jhb: 7-19°C Showery. Afternoon clouds. Mild. Bfn: 2-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 14-20°C Partly cloudy. Cool. PE: 9-18°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!