'Jakkie is weg, maar ons sal regkom'

2012-12-02 00:28

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Daar is die afgelope paar dae baie oor Jakes Gerwel geskryf – die meeste in hoë akademiese taal.

Dit hoort so, want my prof was ’n hoë mens. Verskoon my dus as ek in sommer sulke eenvoudige Afrikaans op my manier, wat erg persoonlik van aard is, hulde bring aan Prof.

Toe ek vanoggend wakker word, was dit met ’n snaakse gevoel. Die 28ste November is my moeder se verjaardag. Sy word vanjaar 75. Maar toe ek na die telefoon reik om haar te bel om geluk te wens en te herinner aan ons ete-afspraak vanaand lui dit. My hele lyf ruk styf toe ek sien dis Ria Olivier, Jakes se eertydse kollega by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Ek weet instinktief waaroor sy bel. Sedert die hartomleidingsoperasie verlede Dinsdag leef ons elke dag in vrees. Ek kan skaars hoor wat Ria sê. Sy huil.

Ek was ’n skraal seun toe ek in 1977 by die kampus van die UWK opdaag om my studie as onderwyser te begin. Die vorige jaar was vir ons almal ’n moeilike jaar. Ons moes matriek deurkom te midde van die Soweto-opstande. Die skool waar ek gematrikuleer het, het op 16 Junie 1976 in sy geheel afgebrand. Met die genade van Bo en die hulp van uiters bekwame onderwysers het ons wel matriek geslaag. En toe daag ons by “Bush-kollege” op (so genoem omdat die universiteit in daardie stadium ’n beskeie kampus was wat jy kwalik tussen die port jackson-bosse kon sien). UWK het ook sommer gou-gou “UWC (University of the Working Class)” geword.

Ons was selfvoldaan, ons was immers mos die Class of 1976. Ons het soggens die trein om 06:00 op die Wellingtonstasie gehaal en dan klawerjas gespeel op pad kampus toe. By Bellville moes jy oorklim op die Unibell-treintjie. Dan jou pad vind deur die bosse tot by die caf (kafeteria), waar ons ’n koffie en ’n Copenhagen kon koop vir R5. Ons brekfis. En dan om 08:00 het ons oorgestap na die opslaangeboue waar ons klas gekry het.

Van die moderne kampus wat nou op die UWK pryk, was daar nog nie sprake nie.

Ons eerste kennismaking met die akademie was met ons Afrikaanse-letterkunde-dosent. ’n Klein, maer mannetjie, wat ’n pienkerige baadjie gedra het en met ’n effens deurmekaar Afro-haarstyl gespog het. Ons was uit die staanspoor gefassineer deur hom, toe nog net ’n meneer sonder titels en die baie verantwoordelikhede wat hom in latere jare so afgetakel het. En dit was nie lank nie of die meeste van ons het ’n Afro-haarstyl gekweek, die uwe inkluis.

En toe maak hy sy mond oop... en van daardie oomblik af het ons aan sy lippe gehang. Heel eerste het hy ons herinner waarom 16 Junie 1976 plaasgevind het: omdat Afrikaans, sy geliefde taal, aan swart kinders opgedwing is. Ons het ons eerste lewensles op ons eerste dag gekry. Jou moedertaal is joune, wees lief daarvoor en vertroetel dit. Maar moet dit nooit, maar nooit, aan ander opdring nie. Op dié manier het hy by ons begrip gekweek vir ander se taalbehoeftes terwyl hy geen steen onaangeraak gelaat het om ons trots op ons taal te maak nie. In sy kenmerkende klokhelder stem het hy ons gelei om in Afrikaans ons verset te verwoord teen die apartheidstelsel.

Hy het dit gesubstansieer met die werk van Afrikaans se groot skrywers. Werke soos ’n Oomblik in die wind deur André Brink, Een vir Azazel en Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux, Na die geliefde land deur Karel Schoeman, Kroniek van Perdepoort deur Anna M. Louw, Die wilde loot deur Elise Muller en Uitdraai deur Wilma Stockenström kon hy met soveel passie, kundigheid en deernis oordra. Dié boeke is nou nog op my boekerak en terwyl ek hier skryf, kon ek dit gou naslaan.

Maar die hoogtepunt was die bekroonde Swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert. Hy het ons herhaaldelik gewys op die profetiese woorde van Poppie op bladsy 276: Dat die jeug nie die taak wat aan hulle opgedra word, kán of mág ontduik nie.

Dis vaardighede wat ek vandag nog aan my studente op Stellenbosch kan oordra.

Teen daardie tyd was ons groot genoeg (in ons derde jaar) om in die legendariese kamer 20 klas te kry. Dieselfde kamer 20 wat die tweede grootste Afrikaans-departement gehuisves het (naas Tukkies). Ek onthou nog daardie dag toe prof. Jaap Durand die klas binnekom en aankondig dat Prof sy doktorale proefskrif voltooi het met die titel Literatuur en apartheid. Ons was saam met hom bly en het soos een mens opgestaan en hom applous gegee. Sy reaksie: “Ja, toe nou, moenie dink ek gaan die toets oor Poppie makliker maak nie!”

Van sy studente het van die beste onderwysers, dosente en professore in Afrikaans geword. My vriend Hein Willemse is dalk sy bekendste protégé.

Ware dissipels vir Afrikaans en volgelinge van Jakes. Hy het dikwels ’n tydjie afgeknyp en dan met ons oor sy geliefde sport, krieket, gepraat. Hy was ’n toegewyde student van die sport en kon ’n wedstryd tot in die fynste besonderheid ontleed. En toe maak ons daai krieketspan op en ons speel teen die tokkelokke. Prof was daar, deel van die span.

En toe word ons prof die rektor. Ek het toe reeds die kampus verlaat en Afrikaans gaan gee by my alma mater.

Later was Prof die direkteur in die kantoor van Madiba. Toe van die Mandela-stigting, voorsitter van die Suidoosterfees, hoof van Media24, die SAL, Brimstone en en...

Nou is hy weg. Al wat oorbly, is sy woorde aan ons. Poppie se woorde oor Jakkie: “Die kinders sal moet sien lat hulle regkom, As dit die Here se wil is dat Jakkie moet gaan, dan moes hy gaan. En wie kan uit hulle pad neem, dit waarvoor hulle gebore is?”

Jakkie (Jakes) is weg, dit was die Here se wil, en ons, sy studente, sal maar moet sien dat ons regkom. Hy het ons mooi gewys hoe, maar verdomp, Prof, jy kon maar jou ontydige afskeid bietjie uitgestel het!

Ek sluit af met die woorde wat Louis Leipoldt aan genl. Christiaan de Wet toegedig het: “Stil broers, daar gaan ’n man verby.”

Dr. Michael le Cordeur is voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 10-21°C High level clouds. Mild. Pta: 8-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: 4-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 14-23°C Morning clouds. Mild. PE: 11-23°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!