James Bond se moses!

2012-06-30 15:14

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wie onthou nog vir Olaf Bouwer – die Afrikaanse geheime agent wat in die 1960’s sy deel gedoen het om die Koue Oorlog koud te hou deur dapper teenstand teen die kommunistiese aanslag te bied?

In ’n onlangse artikel in Rapport Weekliks het ek dié held van weleer in herinnering geroep en hardop gewonder wat van die skrywer van dié reeks, ene Stoffel Pienaar, geword het.

Leef hy nog? Of is hy dood, soos Elvis?

Enkele dae nadat my versugting in druk verskyn het, bel die redakteur van Rapport Weekliks my opgewonde met die nuus dat hy “warm op die spoor” van dié geheimsinnige spioenasieskrywer is.

En geheimsinnig is die woord, want hoewel ek Stoffel Pienaar – die skuilnaam waaronder hy die Olaf Bouwer-boeke geskryf het – twee keer aan huis ontmoet het, verseg hy steeds om sy ware identiteit bekend te maak.

Sy voorwaarde vir ’n onderhoud is dat ons bloot na hom sal verwys as “’n afgetrede sakeman wat in Johannesburg woon”.

Dit is dus veilig om te sê dat, behalwe ek en die redakteur van Rapport Weekliks, waarskynlik net ’n klein groepie mense wat in die 196o’s saam met hom in die koerant- en tydskrifbedryf gewerk het van sy ware identiteit bewus is.

Soos van die geheimsinnige Amerikaner Thomas Pynchon, skrywer van Gravity’s Rainbow, het ons net ’n baie ou, swak foto van Stoffel Pienaar.

Om alles nog raaiselagtiger te maak, is dié swart-en-wit foto’tjie (links) byna 50 jaar gelede in die Sunday Express gepubliseer, saam met ’n berig dat die destydse hoof van die polisie se veiligheidstak, brig. “Lang” Hendrik van den Bergh, “Stoffel Pienaar, assistent-redakteur van ’n voorste Afrikaanse tydskrif”, vir ondervraging ingeroep het.

In sy ruim, moderne huis iewers in die noordelike voorstede van Johannesburg lag Pienaar (en dis beslis nie sy regte naam nie!) lekker toe hy dié voorval onthou.

“Ek was besig om ’n Olaf Bouwer-vervolgverhaal vir Die Brandwag te skryf.” In dié verhaal, “Sending Bram Fischer”, is Bouwer warm op die spoor van die kommunis Bram Fischer.

Destyds was Fischer op vrye voet nadat hy nie sy borgtogvoorwaardes nagekom het en nie vir sy verhoor opgedaag het nie.

Die hele land was op hol daaroor.

Olaf Bouwer het vermoed ­Fischer kruip nie in Engeland weg nie (soos destyds bespiegel is), maar skuil iewers in Johannesburg, van waar hy beplan om sy ondermynende bedrywighede voort te sit.

“Ek het geskryf hy skuil in Bryanston, maar die polisie het hom uiteindelik net enkele kilometers verder, in Corlettrylaan in Bramley, gevange geneem.”

In dié geval was feit en fiksie egter ewe vreemd.

Sowel Fischer as Van den Bergh het Olaf Bouwer se vervolgverhaal in Die Brandwag gevolg, want toe die veiligheidspolisie uiteindelik op Fischer toeslaan, is knipsels van die Olaf Bouwer-vervolgverhaal langs sy bed gevind.

Van den Bergh was duidelik agterdogtig oor die ooreenstemming tussen Olaf se fiktiewe eskapades en die geheime werklikheid – veral die feit dat die fiktiewe spioen geweet het Fischer het in Johannesburg geskuil.

“Waar kom jy aan jou inligting?” wou hy streng van die skrywer van die Olaf Bouwer-verhale weet.

Van den Bergh en Fischer was nie die enigste mense wat aan ’n Olaf Bouwer-verslawing gely het nie. Die heldhaftige spioen, wat in een verhaal “die eksotiese en gevaarlike Varina Kopec, die adder van Moskou”, getrotseer het in die stryd teen kommunisme, was destyds so gewild dat Die Brandwag sy lesers om verskoning moes vra dat die hele oplaag waarin die eerste aflewering van “Sending Bram Fischer” verskyn het, uitverkoop was.

In ’n prominente “Apologie” skryf die redakteur op 13 Augustus 1965: “Op versoek van talle lesers herhaal ons SENDING BRAM FISCHER se eerste hoofstuk hierdie week volledig. Diegene wat wel gelukkig genoeg was om verlede week se Brandwag te bekom, moet slegs hoofstuk een oorslaan. Hoofstuk twee volg volledig in hierdie selfde uitgawe.”

In ’n meningspeiling bevind Die Brandwag Olaf Bouwer was selfs gewilder as James Bond onder Afrikaanse lesers. Vat so, 007!

Vanweë Olaf se vae Skandinawiese verbintenis het selfs die Sweedse Aftonbladet in Julie 1965 ’n artikel oor hom geskryf.

Sweeds, Frans, Russies... Olaf was nog altyd wel ter tale.

Op ’n ander keer is Pienaar en twee kollegas twee en ’n half uur lank deur die veiligheidspolisie ondervra nadat hulle in Ventersburg gaan soek het na ene mnr. Kruger, direkteur van A en C-ondernemings op die dorp.

Toe hulle iemand vra waar Kruger van A en C woon, het dié persoon blykbaar die veiligheidspolisie gebel en is hulle later, op die pad tussen Ventersburg en Kroonstad, in hegtenis geneem.

Om sake te vererger het die Russiese spotprenttekenaar van Dagbreek en Sondagnuus, Victor Ivanoff, kort tevore as ’n grap vir Pienaar ’n brief in Russies geskryf wat hy in sy aktetas gehad het.

Ook in sy tas was ’n bladsy met ry op ry niksseggende letters – ’n “storie” wat sy vierjarige seuntjie op sy tikmasjien uitgetik en vir sy pa gegee het.

Die Russiese nota en sy seun se “gekodeerde” brief het natuurlik die polisiemanne laat glo hulle het ’n belangrike spioen vasgetrek. (En dat bevordering waarskynlik ’n uitgemaakte saak is!)

Ure later moes hulle skaam-skaam erken dit was ’n “misverstand” en die drie koerantmanne is laat gaan.

Sowel die Engelse as Afrikaanse Sondagkoerante het oor dié voorval berig, maar ook hier was die ideologiese skeidslyne van die tyd duidelik sigbaar: Die Engelse koerante het die inhegtenisneming aan oorywerige onbeholpenheid van die polisie toegeskryf, terwyl die Afrikaanse koerante gesê het dit is “’n bewys van hoe flink die veiligheidsafdeling optree”.

Nog ’n amusante anekdote is dat die joolblad van die Universiteit van Stellenbosch in 1966 ’n “tweegeveg” tussen die Afrikaanse Olaf Bouwer en die Engelse James Bond in die vorm van ’n strokiesprent geplaas het, met Al Debbo wat agter ’n masker as die uiteindelike “wenner” te voorskyn tree.

Die 1960’s, die dekade van pop en permissiwiteit, bly waarskynlik die fassinerendste tydvak in die moderne Afrikaanse kultuur.

Al Debbo, Gé Korsten, Min Shaw en ander het onder Afrikaners ongekende gewildheidsvlakke gehaal en is byna soos Hollywood-sterre behandel.

Pienaar sê baie van sy lesers was so oortuig van Olaf Bouwer en sy spesiale eenheid, SS-15, se bestaan dat die mense van Ork­ney ’n biduur vir Bouwer gereël het nadat hy tydens een van sy avonture deur kannibale in die Kongo gevange geneem is en op die punt gestaan het om deur hulle verorber te word!

Helaas het hy egter geen behoefte om sy held – wat destyds beskryf is as “?’n genadelose agent met humorsin” – te laat herleef nie.

Ná die einde van die bipolêre stryd tussen Oos en Wes veg die helde van spioenasieverhale deesdae nie meer teen die berugte Russiese KGB of SMERSH nie, maar teen fundamentalistiese Moslems, georganiseerde misdaadsindikate en dergelike misbaksels.

Die kans is dus goed dat Olaf Bouwer ons wêreld taamlik verwarrend sou vind. Trouens, ek sit hierdie artikel en tik in ’n kafee in Bram Fischer-rylaan in Randburg – genoem na Bouwer se voormalige aartsvyand. Voorheen was dit bekend as Hendrik Verwoerdrylaan – die man wat nie net eerste minister in Bouwer se tyd was nie, maar ook ’n leidende rol gespeel het in Perskor, eienaar van die publikasies waarin die Bouwer-verhale verskyn het.

So vorm fiksie en geskiedenis ’n wrange verhaal van neerlaag en oorwinning.

Dan Roodt is uitgewer en skrywer.


Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 15-20°C Mostly sunny. Mild. Pta: 9-24°C Afternoon clouds. Mild.
Jhb: 11-19°C Afternoon clouds. Mild. Bfn: 11-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
Dbn: 19-22°C a few tstorms. Mostly cloudy. Mild. PE: 13-16°C Heavy rain. Mostly cloudy. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!