Kán hy?

2012-10-28 00:01

Oor nege dae gaan Amerika weer ’n president verkies.

Wie sal dit wees? ’n Flambojante, grootpraterige Mormoonse ­Republikein en miljoenêr genaamd Mitt Romney of Barack Obama, die dienende president wat beloof dat hy in sy tweede termyn drasties anders sal lyk en optree as die huidige stillerige alleenfiguur wat lyk of hy sy ­mojo verloor het.

’n Skamele maand gelede was die blote idee van ’n Obama-nederlaag lagwekkend, maar die winde van verandering is besig om oor die prêries te waai en dit lyk of Romney ’n sterk kans het om Obama te klop.

Hy is nou so opgepomp dat hy selfs die afgelope week ’n ou Obama-treffer afgestof het vir sy eie veldtog: hoop.

Op ’n Obama-agtige plakkaat word gespot met Romney met die onderskrif: The Great White Hope.

Die feit is dat wit kiesers die eens onstuitbare Obama in hul massas verlaat. Sy hoop is nou op ongetroude swart en ­Latyns-Amerikaanse vroulike kiesers en stoere Demokrate.

’n Mens kan amper hoor hoe Obama se slimjanne en hoopverkopers op Air Force One hul koppe krap: Hoe het dit gebeur?

Nugter weet.

Romney is ’n opblaaspop wat al hoe groter word hoe meer wind hy opskop. Die maklikste manier om hom op te som, is: ’n “Reagan Lite”en ’n “George W. Bush Bright”.

Die wêreld kan net hoop hy is ’n Reagan-na-aper – ’n klassieke Amerikaanse manlike heldefiguur wat sy sjarme inspan om die volk te betower.

Almal buiten die Tea Party – die regterfalanks van die Republikeine wat aanvanklik die windbol van Massachusetts verafsku het – sal hoop en bid hy is nie ’n tweede Dubya wat ’n Irak op Iran gaan trek nog voordat hy Obama se pantoffels uit die Withuis gesmyt het nie. Hy is gelukkig nie ’n klassieke cowboy nie, al kom hy so voor.

Die vrees is net dat hy al sy eie grootpratery – tussen die dubbelpratery en bontpratery – gaan begin glo en soos Koos Kombuis se “d**s van Bellville-Oos” vir sy generaals gaan neurie: “Ek het my vinger nog op die sneller...”

Hy het juis die afgelope week met nog ’n Obama-refrein – verandering – beloof dat Amerika op 6 November ’n dramatiese verandering sal ondergaan.

“Ons gaan groot veranderinge teweegbring om Amerika weer sterk te maak. Ek bedoel, wil julle regte, egte verandering in die land sien?”

Yeah!” het die skare in Cincinnati, Ohio, gejuig.

In Ohio het Romney “big change” sy slagspreuk gemaak: Groot veranderinge teenoor Obama wat net oor “klein dingetjies” gesels.

Hierdie veranderinge is egter meestal op die ekonomie gemik. Vir eers.

Romney se resep is eenvoudig: Vir hom draai alles om geld. Geld en die “vryheid” om dit te maak. Die arm 47% kiesers wat hoop vir aalmoese van die staat is Obama-kiesers en kan maar afgeskryf word, volgens hom.

Hy is ’n gladde, sjarmante smous wat die Amerikaanse droom aan Yanks opdis met ’n Colgate-wit glimlag en ’n Reagan-kuif. En Obama is die Moslem/Arabier/swarte/sosialis wat jóú geld vat en uitdeel.

Hy en die regses het die vals beeld van Obama as ’n swart Frankenstein-monster so goed aan die Yanks verkoop dat hulle dit al glo. Al wat oorbly, is om die Withuis “terug te vat” vir die regte Amerikaners.

Volgens Real Clear Politics (RCP) se meta-peiling van al die nasionale peilings loop Romney met ’n haarbreedte voor Obama: 47,7% teenoor 47%.

Die afgelope week was hy en Obama selfs gelyk onder vroulike kiesers – eens een van Obama se steunpilare.

Die Republikeine begin reeds die vreugdevure aansteek vir die man wat amper per ongeluk die party se kandidaat geword het.

So selfversekerd is die Romney-kamp dat hy reeds ’n “Readiness Project” van stapel gestuur het met 100 amptenare wat werk aan wetgewing wat hy wil deurvoer!

Dit kan hopeloos te vroeg wees.

Om mee te begin: Romney se grootpratery oor “big change” in Cincinnati was die verkeerde plek. Die man wat Ohio se 18 kieskollege-stemme wen, het ’n goeie kans om president te word. En hier is Obama gerieflik voor met 49% teenoor 44% van die steun.

Obama loop steeds voor in al die state wat die meeste saak gaan maak om die wenner verby die vereiste 270 stemme in die kieskollege te kry.

RCP se peiling wys dat Romney op die oomblik voorloop met 206 van die stemme teenoor Obama se 201.

Die internetblad The Huffington Post se prentjie verskil egter drasties hiervan. Volgens sy vooruitskatting kan Obama reken op 271 kieskollege-stemme teenoor 191 vir Romney.

Dié onsekere prentjie beteken dat die gevegte in state soos Nevada, Colorado, Iowa, Wisconsin, Ohio, Virginië, Noord-Carolina, Florida en New Hampshire deurslaggewend gaan wees.

Romney het beslis nou die momentum, maar sy veldtog het die gevoel van ’n vinnige golf wat op sy hoogste is. Hy blaas baie van sy fortuin van $250 miljoen op sy groot obsessie – om Amerika se uitvoerende hoof te wees.

Obama het die afgelope week die derde en laaste openbare debat met gemak gewen – en dit reggekry om Romney te laat lyk na die politieke draaijakkals sonder oortuigings en beginsels wat baie glo hy is.

Toe hy Paul Ryan, die Tea Party-kroonprins, as sy adjunkpresidentskandidaat aangewys het, was hy so regs as kan kom. Nou seil hy in meer gematigde waters in ’n poging om soos ’n staatsman te lyk.

Obama se antwoord op Romney se beskuldiging dat die Amerikaanse vloot nou kleiner is as in 1917 was ’n bekstilmaker soos min: “Wel, goewerneur, ons het ook minder perde en bajonette as toe, want die aard van ons weermag het verander. Ons het hierdie goed genaamd vliegdekskepe, met vliegtuie wat daarop land. Ons het skepe wat onderwater beweeg – kernduikbote.”

Tog bly die presidensiële verkiesing van 2012 ’n boksgeveg tussen twee persoonlikhede wat mekaar afstoot: Meneer Ego teen President Geheimsinnig.

Die uiteindelike wenner sal binne die volgende week sy neus voor moet kry.

Een vrot dag of, nog erger, ’n natuurramp soos die dreigende “super­orkaan” oor die Golf van Mexiko, kan die kandidate se lot bepaal.

Obama en daardie ou Demokratiese meester, Bill Clinton, gaan in die komende dae sáám die kiesers bearbei.

Dinge gaan nog interessant word.

Charles Smith is adjunkredakteur van
Volksblad en was drie jaar lank Media24 se verteenwoordiger in ­Washington.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
19 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-20°C Sunny. Mild. Pta: 6-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 3-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-25°C Sunny. Mild. PE: 15-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!