Koos Sedoos: Somer is nie snoesig nie...
2010-11-27 18:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die somer het my vanjaar verras. Tot middel November is die Kaapse Skiereiland periodiek gelooi met koue fronte.
Die een ná die ander donker noordwestewind het wolke en handevol reën oor ons kom gooi. En toe, een môre, word ek wakker, en die somer sit op my vensterbank soos ’n stout kleuter.
Ek het al amper vergeet hoe lyk die somer se gesig.
Nou moet ek sê dat ek hierdie rubriek skryf met gemengde gevoelens. Eintlik, om nou heeltemal eerlik te wees, is ek ’n wintermens in my hart. Spesifiek ’n Kaapse wintermens. Dit is hoe ek grootgeword het, dit is die soort weer wat onder my vel ingekruip het vandat ek ’n paar bakstene hoog is.
Ek weet dis iets wat onaanvaarbaar en vreesaanjaend is vir die Gautengers wat hulle hier probeer vestig, maar winterreën is vir my so natuurlik soos botter op my brood. Ek is dol oor die Kaapse wintermaande, die tye van introspeksie voor my rekenaar, die tye wanneer nuwe idees stadig gestalte kry in die vorm van roman-titels en half ontwykende wysies van nuwe liedjies.
In die somer jaag ek deadlines, dien ek my voltooide projekte in, dan vlieg ek die wêreld vol in Boeings en gaan raas in die kroeë en teaters van ander provinsies. Maar in die winter lei ek my brein bietjie nat.
Ai, die Kaapse winter.
As die somer ’n opgewekte een-dag-flerrie met goue strikkies en ’n silwer laggie is, die soort meisie saam met wie jy piekniekmandjies wil pak en strand toe neem, of gaan krieket kyk, of staproetes aanpak, is die Kaapse winter ’n ander tipe vrou.
Sy is diep. Sy lees sonnette voor die kaggel. Sy gaan saam met jou uiteet en jy kan in haar oë kyk terwyl jy ’n glasie rooiwyn proe. Sy hou jou warm in die nagte en, saans as die son sak, sê: “Dis oukei, jy hoef nie uit te gaan vanaand nie, jy kan net hier by my bly vir altyd.”
Dalk is dit een van die redes hoekom Kapenaars nogal onsosiaal is! Ons woon in die mooiste provinsie in Suid-Afrika, maar ons is regte werfbobbejane. Selfs in die somer sal ons eerder werskaf en foeter en verf en takies doen om die huis, kar was, lere klim, hark en stoep vee, enigiets om die hoofweë en die verkeersknope te vermy.
My hart is winter, my wese is winter, ek wil snoesig wees selfs in die somer. Ek voel waarlik mens in die Kaapse winter.
Die Kaapse winter is soos om warm sjokolade te drink. Die somer is soos om ’n lemoen te eet. Wie wil nou ’n lemoen eet as jy warm sjokolade kan drink?
Tot die somer jou eendag onverwags betrap soos iemand wat anoniem ’n bos blomme aflewer. Soos die skielike warrel-pienk van jasmyn in die hoek van jou oog. Soos die ou-bekende, half-vergete reuk van sonbrandolie as jy die doppie afdraai.
Soos kinders wat diamant-halssnoere glinster-water spat in die agterplaas-swembad voor hulle soek na hulle ou Spiderman-handdoeke wat Sophie verlede jaar iewers onder in ’n kas gebêre het. En saans, honger en moeg, al hulle kos opeet sonder teëstribbeling en onmiddellik aan die slaap raak as jy die duvet oor hulle trek.
Natuurlik het elke seisoen sy nukke en oorloggies. Soos die modderspore oor die sitkamermat in die winter, sit ons in die Kaapse somer opgeskeep met vlieë en muggies. Die vlieë zoem al vroegaand soos vegvliegtuie al om jou kop die oomblik as jy die vuur aansteek, want hulle weet vuurmaak lei tot braaivleis.
Terselfdertyd wriemel die eerste lente-muggies al onder jou kraag en jou broekspype in. En snags, wanneer jy swetend rondrol, met al die vensters wyd oop vir ’n koel luggie, hoor jy die waarskuwende sirenes van naderende muskiete. Soos bomwerpers sirkel hulle al om jou kop en wag dat jy eindelik insluimer.
Somer. Soos ’n lemoenskyfie wat jy nie dadelik wil hê nie. Maar dan, wanneer jy hom eindelik in jou mond indruk, ontplof hy in ’n reënboog van smake. En dan, skielik, onthou jy. En jy verwonder jou aan hoe gou jy vergeet het dat die somer ook jou vriend kan wees.
Somer is dalk nie so intiem en snoesig soos jou vrou nie, maar hy’s jou lekkerste speelmaat. Hy’s jou pel saam met wie jy biere wegslaan. Ja, sonder die somer sou ons dalk nie die winter waardeer het nie, né.
Die somer het my vanjaar verras. Ek was maande lank toegewikkel in my eie gedagtes, vasgevang in ’n eensame heelal van boeke, kerslig en komberse. Maar toe, eendag, rol die hemel homself oop, en dis lig, en my huis gooi sy vensters oop, en my seuntjie kom staan by die agterdeur met sy eerste bloed-gestampte toon, en toe onthou ek meteens: Die mens kan nie van kaggels en warm sjokolade alleen lewe nie.
Die somer is weer hier.