Kritici in SA skiet dikwels ver te kort
2012-01-28 13:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Politieke korrektes put dikwels groot genot daaruit om kritiek gelyk te stel aan swartgalligheid.
Kritiek, so wil hulle voorgee, is die pessimis se wapen van keuse en hulle wat krities is, is op ’n manier bevlek of, selfs erger, hul etiese kode is gekompromitteer. In die proses word ’n belangrike intellektuele oefening verskraal.
Die waarheid is egter dat daar geen verwantskap tussen pessimisme en kritiek is nie. Kritiek is ’n oordeel oor en ’n evaluasie van iets of iemand se sterk en swak punte. As daar swakhede is, kan ’n mens net tot ’n kritiese gevolgtrekking kom.
Kritiek vereis ’n goeie argument en logika. Dit is ’n rasionele reaksie op ’n gegewe werklikheid.
Die sterkte van die kritikus se saak sal die argument se geloofwaardigheid bepaal. Dit is die hoeksteen van objektiwiteit.
Pessimisme, aan die ander kant, het niks meer as ’n emosionele respons nodig nie. Dit is nie gegrond op redelikheid nie, maar eerder op jou ingesteldheid. Dit is dus verkeerd om te kenne te gee dat eerlike kritiek die produk van swartgalligheid is.
Kritici is daarom ’n belangrike onderdeel van ’n gesonde demokratiese kultuur. Of jy nou daarvan hou of nie, hul bydrae is beduidend.
Niemand hou daarvan om gekritiseer te word nie, maar enige kultuur wat onwillig of nie bereid is om deel te neem aan kritiese refleksie nie, sal agteruitgaan – net so seker as wat dit waarskynlik in outoritarisme sal verval. In watter ander omgewing is dit makliker om ander te onderdruk as een waar geen kritiek geduld word nie?
Aan die ander kant is dit net so moontlik vir kritici om sleg of onbevoeg te wees.
Die ander kant van die munt van rede en logika is dat dit self ook geëvalueer kan word. As ’n kritikus nie rede en logika ordentlik aanwend nie – en eerder van subjektiwiteit en vooroordeel gebruik maak – kan die gehalte van hul bydrae tot die openbare debat gemeet word.
Hoe groter hul vooroordeel, des de swakker word hul vermoë om rede en logika (en daarmee saam taal en betekenis) te bemeester. En hoe groter word die kans dat hul kritiek glad nie kritiek is nie, maar blote persoonlike pessimisme – en op sy ergste onnadenkende venyn en skeldtaal.
Die uiteindelike toets vir enige kritikus is ’n eenvoudige een wat toegepas behoort te word deur enigeen wat so ’n persoon se mening lees en waarde daaraan heg: Gebruik die kritikus rede en logika om ’n afleiding te maak? Is dit op feite gegrond? En, as gevolg hiervan, is dit objektief?
Objektiwiteit beteken nie dat jy nie ’n mening het nie. Dit beteken bloot dat jy ’n mening het wat op ’n redelike argument gegrond is.
Die vraag is hoe Suid-Afrikaanse kritici vaar, gemeet aan dié toets.
Wel, nie goed nie. Maak enige koerant oop of luister na enige nuusbulletin en jy hoor een van ’n klein groepie, dikwels selfbelangrike, (dikwels) celebrity-kommentators wat hulle “ekspert”-mening oor bykans enige saak lug.
Om die indruk te wek dat hulle objektief is, plaas hulle gewoonlik baie klem op hul self-opgelegde titels. So en-so, ’n “onafhanklike politieke ontleder” is seker die gewildste, asof die titel alleen genoeg is om hulle te reinig van enige vooroordeel en met oneindige wysheid te seën. Dit is natuurlik glad nie so maklik nie.
Dit is ook ’n hartseerfeit dat baie van hulle nooit die basiese beginsels van goeie kritiek onder die knie gekry het nie.
In die eerste plek kan jy seker wees dat daar min is waarop hulle ’n kenner is en nog minder waaroor hulle gewillig is om ’n mening te hê.
Aan die ander kant is hul wysheid dikwels nie veel meer as die gemeenplase nie en is hul mening óf verkeerd of stroomop.
Die kombinasie van dié twee dinge – hul alleswetende insig en hul bereidheid om ’n mening oor alles te hê – is sonder twyfel ’n bydraende faktor tot die middelmatige aard van Suid-Afrika se openbare debat, asook die ruimte wat daaraan afgestaan word.
Miskien kon ’n mens hulle dit vergewe as hulle hulself nie so ernstig opgeneem het nie.
Ai. As jou reputasie afhang van die korrektheid van jou mening, tree jy op in die geloof dat die wêreld ’n beter plek is as gevolg van jou sieninge. In die proses beteken dit dat jou eie ego enige kritiese selfondersoek in die wiele ry.
Dit alles is tot die nadeel van ons openbare diskoers. Is dit nie opmerklik nie dat die een ding waaroor hierdie “kenners” nie bereid is om kommentaar te lewer nie, die gehalte is van hulle bydra?
’n Mens mag wel vra: Wie kritiseer die kritici? Die antwoord is: die publiek.
Daar is ’n spesiale verpligting op ’n ieder en ’n elk van ons “nuusverbruikers” om nie kritici se menings bloot te aanvaar nie. Nie omdat kritici pessimiste is nie, maar omdat hulle nie noodwendig so onafhanklik is soos hulle voorgee nie.
Luister na wat hulle sê. Is dit gegrond op feite en rasionele argumente? Jy sal verbaas wees hoe dikwels hulle te kort skiet.
Gareth van Onselen is die direkteur van politieke navorsing en ontwikkeling by die DA. Dit is sy eie mening hierdie en verteenwoordig nie dié van sy party nie.