Kyk na verlede voor jy ’n -isme volg

2012-08-12 00:11

“My hele lewe lank is ek gekonfronteer deur verskillende ideologieë wat andere op my wou (of steeds wil) afdruk,” skryf dr. Costa Georghiou.| Foto: Nicolene Olckers

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ek onthou die eerste keer dat ek met die vuis geslaan is nog baie goed: Dit was 7 September 1966, ’n koel lenteoggend op die speelgrond van Harrismith se Kleinspanskool.

Ek was maar net nege jaar oud en in st.?1. ’n Groepie seuns het in ’n kringetjie om my gestaan en geskreeu: “Jy is ’n Griek! Jou pa het ons leier doodgemaak!”

Dit was die dag nadat Dimitri Tsafendas dr. Hendrik Verwoerd vermoor het.

My pa was ’n Cipriese Griek en ’n winkeleienaar op die dorp en hoewel ek toe nog te klein was om te verstaan wat eintlik aan die gang was, was dit my eerste kennismaking met ideologiese verskille.

Later het dit vir my duideliker geword dat ek ’n “buitestander” was – nie deel van die uitverkore “volk” nie.

Dit was veral duidelik nadat my suster Venessa eendag in trane by die huis aangekom en vertel het haar klasmaats het die onderwyser gevra “of sy ook wit is” aangesien sy nie Afrikaans is nie.

Dit was egter veral op hoërskool waar ek die invloed van ideologie die negatiefste ervaar het.

Dit was die tyd van die rooi gevaar en swart gevaar; van driloefeninge en weerbaarheidsperiodes en ’n skoolhoof wat sowel weermagmajoor as Broederbonder was.

Weeklikse haarinspeksies vir seuns is dikwels opgevolg deur sessies waar die skoolhoof sélf met die haarknipper ingespring het om die seuns borselkop te skeer.

Elke skooldag is geopen met Skriflesing en gebed waartydens ’n ideologiese mengsel van politiek en godsdiens aan ontvanklike leerlinge oorgedra is.

In gebede is God selfs een keer bedank omdat “ons nie soos die Rooms-Katolieke glo nie” – ondanks die teenwoordigheid van ’n paar Katolieke leerlinge in die saal.

’n Ander keer het die skoolhoof weer die Here gedank dat die Afrikaner “nie soos die Portugees, Italianer en Griek is nie”.
Ideologie het natuurlik nie net ’n politieke komponent nie.

’n Jare lange vriend van my, ’n dokter, het twee praktyke, ’n spoghuis en sportmotor prysgegee vir ’n klein eenmanwoonstel. Daar sit hy, ’n Christen-fundamentalis, nou al 23 jaar en wag vir die “wegraping”.
Almal gaan miskien nie tot sulke uiterstes nie, maar tog lyk dit vir my asof die mens aan iets móét glo om sy bestaan te regverdig.

Elkeen kies sy eie god, hetsy Zeus, Allah, Jahweh, Mohammed, Jesus, Darwin, Verwoerd, Marx, Mandela of Malema. As jy nie jou eie ideologie kan skep nie, hang jy iemand anders s’n aan.

Ongelukkig is die ideologiese “waarhede” waaraan mense glo so uiteenlopend dat dit dikwels konflik, tweestryd en selfs die dood tot gevolg het.

Die term “ideologie” kom van die Grieks: idee en logie (wetenskap). Die konsep “ideologie” is in 1796 deur die Franse filosoof Antoine-Louis-Claude Destutt de Tracy (1754-1836) geskep om te verwys na ’n nuwe “wetenskap van idees”.

Alle ideologieë bied ’n perspektief of wêreldbeeld van (a) die bestaande orde, (b) ’n model van ’n ideale toekoms en (c) ’n riglyn vir politieke verandering wat ’n “beter gemeenskap” tot gevolg sal hê.

Die “-ismes” waarmee ons vandag gekonfronteer word, is legio: liberalisme, konserwatisme, idealisme, humanisme, sosialisme, Marxisme, fascisme, anar­gisme, feminisme, Islamisme, fundamentalisme, apartheid en dies meer.

Elkeen met sy normatiewe perspektief oor hoe die wêreld georden behoort te word.

En dis juis oor hierdie voorskrywende aard van die ideologie waaraan ek ’n broertjie dood het.

My hele lewe lank is ek gekonfronteer deur verskillende ideologieë wat andere op my wou (of steeds wil) afdruk.

Daar bestaan talle voorbeelde in die geskiedenis van moord op ideologiese andersdenkendes: Josef Stalin se strafkampe, Adolf Hitler se konsentrasiekampe, verskeie ideologiese oorloë tydens die Koue Oorlog, die afdwinging en afgryse van apartheid, die oorlog in Joego-Slawië, die 9/11-aanvalle op die VSA en oorloë in Iran, Irak en Afgani­stan.

Die ideologiese debat is nou sterker as ooit tevore en besig om ’n evolusionêre verandering te ondergaan.

Dit bring my terug na my eie ervarings van diskriminasie aan die hand van Afrikaners destyds op skool.

Met die lees van Afrikaanse koerante bespeur ek ’n ewigdurende ondertoon: Dat Afrikaanse mense vandag voel daar word teen hulle en hul taal gediskrimineer terwyl hulle in die proses boonop verarm. Dit is inderdaad so en die Afrikaner het my simpatie.

Maar soos filosowe soos Polybius, Dionisius van Halicarnassus, Niccolo Machiavelli, George Santayana en selfs Arnold Toynbee argumenteer, is die geskiedenis as ’n dialektiese proses altyd besig om homself te herhaal. Die Boeddhis noem dit karma; vir die Christen is dit “wat jy saai sal jy maai”.

Hitler het byvoorbeeld in die verlede teen Jode gediskrimineer; vandag word die Jode van diskriminasie teen die Palestyne beskuldig.

Die Afrikaner het gediskrimineer teen diegene wat nie deel van die “volk” was nie. Vandag word daar teen hom gediskrimineer.

Die Britte moes ’n duur prys in twee wêreldoorloë vir hul imperiale vergrype betaal.

Hierin is ook ’n les vir die ANC en sy jeugliga: As jy met jou ideologie ander mense, groepe of nasies te na kom, gaan jy uiteindelik ook die prys betaal.

Georg Hegel (1770-1831) het geglo die menslike bewussyn is ’n historiese ontluikende realiteit wat verskillende moontlikhede en beperkinge gedurende verskillende tydvakke openbaar.

Die geskiedenis is ’n proses en het dus sy eie logika. Dit gebeur dus nie “sommer maar” nie, maar volg ’n bepaalde rasionele plan.

Baie denkers se idees word uiteindelik realiteit, partymaal ten goede, maar ook ten slegte.

Politici se idees is dikwels verwronge en die bevolking moet dan die gevolge dra.

Ervaar ons dit nie juis veral vandag in Suid- en Suider-Afrika nie? Gevalle van xenofobie en vooroordeel is dikwels juis ideologies gefundeerd.

My punt is dus dat ek ideologieë as gevaarlik beskou en dat ek ideologies-neutraal of non-ideologies sou wou wees, as daar so iets is. Maar dis helaas onmoontlik en onwenslik om ’n neutrale posisie in te neem.
Ideologieë is per slot van rekening nie gelyk nie. Daar is goeies en slegtes. Party is meer suksesvol as ander. Daar is ideologieë wat vir sekere state en regerings op ’n bepaalde tyd prakties werkbaar is, en ander wat nooit sal werk nie.

Ek wens dus dat almal wat so ideologies gedrewe is, ’n bietjie meer geskiedenis wil lees. Hulle sal dalk besef dat, soos die Afrikaner nou boetedoening doen, ook húlle eendag vir hul ideologiese misvattings verantwoording sal moet doen.

Dr. Constantine (Costa) Georghiou is ’n voormalige diplomaat en tans lektor in internasionale politiek aan die Universiteit van ­Johannesburg.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
20 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C Showers early. More sun than clouds. Cool. Pta: 8-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-13°C Sunny. Cool.
Dbn: 11-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Senior Electrical Building Serivces Engineer

Gauteng
Communicate Cape Town Engineering
R550 000 - R700 000 Per Year

CA(SA) IFRS Specialist

Gauteng
Communicate Specialist Resource
R600 000 - R700 000 Per Year

Senior Electrical Building Serivces Engineer

Gauteng
Communicate Cape Town Engineering
R600 000 - R700 000 Per Year

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!