Kyk net so, Staatsteater
2012-11-17 23:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
"Ons moet nog met die uitvoerende hoof onderhandel oor regte. Maar dit is die finale ronde. Ons is baie opgewonde,” het Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale by MultiChoice, eergister gesê.
Dr. Quinton Simpson, sedert Mei uitvoerende hoof van die Staatsteater in Pretoria, is op ’n missie om die teater se voortbestaan met selfgegenereerde inkomste te verseker.
Hy het Woensdag in die parlement aan die portefeuljekomitee oor kuns en kultuur gesê die teatersentrum, wat onder meer vyf teaters insluit, kom deesdae sy geldelike verpligtinge na en het inkomsteplanne tot duskant 2015. Dié teater moes in 2000 amper sy deure sluit.
Rapport verstaan Simpson was ’n welkome aanstelling. Musiek speel deesdae in die teatergange en die mure is weer kleurryk.
Simpson, nie van die teaterwêreld nie, sê hulle het bestekopname gedoen. Ontwikkelingsteater werk nie.
“Nie swart of wit mense stel hierin belang nie en met beperkte besteebare inkomste vir vermaaklikheid is daar nie ondersteuning hiervoor nie.” Hy sê die Nasionale Lotery borg dié projekte.
Een teaterwerker reken dié projekte kon die laaste nege jaar nie op die been kom nie. “Die stelsel werk nie. Hoewel die produksies ’n begroting het, betaal dit salarisse en is daar nie geld vir rekwisiete of verf nie. Die show is gewoonlik leeg.”
Dis ’n groot probleem, sê Simpson. Die Staatsteater is maar gemiddeld 40% vol. Dramas kry nie aftrek nie.
“Swart en wit teatergangers hou van borrelgom-produksies en musiekvertonings. Swart mense verkies jazz en wit mense opera of Afrikaanse musiek.” Hy sê dit kos R2 miljoen om ’n opera vir twee weke op die planke te bring.
Amanda Strydom, ikoon van die Afrikaanse teater, meen ligte vermaak is goed, maar “mens moet darem ’n ordentlike maaltyd” kry.
“Balans is so belangrik. Wanneer die estetiese afgeskeep word, bloei ’n volk dood weens ’n gebrek aan ordentlike voedingstof. Hulle raak gewoond aan gemorskos. Dis verstommend dat kunstenaars in hierdie genres oorsee moet wyk om die erkenning te kry wat hulle verdien,” het sy aan Rapport gesê.
Dit het gebeur met Mies Julie, wat luidens The New York Times Amerika aan die gons het, maar in die Staatsteater misluk het en gekanselleer is.
Nog ’n teaterwerker beskryf dit as een van haar afgryslikste teaterervarings. “Mense wat nie gewoond is aan teater nie is van die straat ingenooi omdat daar so baie leë sitplekke was. Hulle het gelag en die akteurs ontstel met hul uitlatings...”
Die bemarking van die Staatsteater is glo skraps. ’n Paar plakkate word in en om die teatersentrum aangebring, opgevolg deur min of geen persverklarings of radio-onderhoude.
“Produksies moet maar self die bemarking hanteer as hulle mense wil lok,” sê een bron.
Volgens Simpson is komplimentêre kaartjies nie meer ’n uitweg nie.
“Sowat 65% van die komplimentêre kaartjies word gebruik,” het hy gesê.
Een teaterwerker sê hulle verwys reeds na die kykNET-teater. “Dalk voel mense gemakliker met ’n bekende naam daaraan gekoppel.”