Malema uit in koue, maar boodskap bly
2012-02-18 13:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Kameraad van mnr. Julius Malema sê verlede week by ’n spoggerige ANC-partytjie in Kaapstad sy simpatie vir dié geskorste leier van die ANC-jeugliga het verdamp.
“Jy sien, dit gaan nou met Malema soos daai gesegde lui: ‘When days are dark, friends are few.’” Hy sê nadat die ANC se nasionale tugkomitee Malema in November skuldig bevind en met ’n skorsing van vyf jaar gestraf het, het hy nog simpatie met sy heethoofdige jeugleier gehad. Hy is immers self ’n lid van die jeugliga én nie blind vir die ANC se “foute” nie.
Die “vervreemding”, soos hy dit noem, het ’n maand later ingetree by die ANC se provinsiale leiersverkiesing in Limpopo, waar Malema die gewraakte stortkop-liedjie (’n neerhalende verwysing na pres. Jacob Zuma) gesing het. Met dié gedrag het Malema heelwat van sy simpatiseerders vervreem, en hy is een van hulle.
“As jy in die moeilikheid is, maak jy nie só nie,” sê hy. Eenvoudiger gestel: As jy in ’n gat is, hou op grou.
Gesprekke met ander oud-vriende van Malema bevestig opnuut: In die politiek strek kamerade se lojaliteit net so ver.
Daar word blindelings gevolg tot op ’n punt en dié punt breek gewoonlik aan wanneer die persoon (in dié geval Malema) nie meer veel vir jou eie politieke loopbaan kan beteken nie, of wanneer volgehoue lojaliteit aan die persoon wat in onguns verval het, dreig om jou ambisies te verongeluk.
Dit is waar Malema hom nou bevind. Eens geswore vriende is besig om die een ná die ander die pad te vat terwyl hy veg teen aanslae uit verskeie oorde. Nie net is die geldkraantjies in Limpopo toegedraai nie, verskeie ondersoeke is aan die gang oor sy rojale leefwyse en inkomste. En sy dae in die ANC is getel.
Nog ’n kameraad wat Malema die rug toegekeer het, meen hy het sy gewildheid en invloed binne die ANC en onder die jeug oorskat. “Geld en die media het hom tot ’n val gebring. Hy het begin dink hy is groter as die ANC.”
Die ligte raps met die houtlepel in 2010 toe hy vir die eerste keer daaraan skuldig bevind is dat hy verdeeldheid in die ANC saai, het Malema onder die indruk gebring hy is onaantasbaar. Hy het begin dink hy kan selfs vir Zuma aanvat en daarmee wegkom.
Maar Malema se grootste taktiese flater is waarskynlik sy eie wanbegrip van die binnewerkinge van die ANC en dié party se lang geskiedenis om teen afvalliges op te tree. Mnr. Bantu Holomisa, eens ’n lieflingseun van die ANC en nou UDM-leier, kan daarvan getuig.
’n Senior ANC-LP het ’n paar dae gelede sarkasties daarop gewys dat dit baie koud is as jy nie meer onder die regerende party se warm vlerk is nie. “Mense oorleef selde buite die ANC. Malema het dalk nog geld (om die ANC hof toe te vat), maar die fonteintjie is aan die opdroog.”
Verskeie jong ANC-lede het die afgelope weke in gesprekke daarop gehamer die ANC is in wese steeds ’n baie konserwatiewe organisasie waar respek vir die ouer garde en partyleiers kardinaal is. Die grense moet op ’n strategiese wyse getoets en verskuif word. Teenstand word tot op ’n punt geduld. Hoe jy kritiek artikuleer – veral in die openbaar – is ’n sensitiewe kwessie.
“Iemand sonder ‘struggle credentials’ kan nie van die verhoog af vir mense wat onder apartheid gely en yslike persoonlike opofferings gemaak het, voorskryf hóé die ANC vandag behoort te lyk en te doen nie,” het een van hulle verduidelik.
Waarop dit neerkom, is dat Malema en die jeugliga welslae sou kon behaal het as hulle meer strategies te werk gegaan het met hul wekroep om ekonomiese bevryding (nasionalisering en grondonteiening) en die eis om jonger leiers tot die ANC se topleierstruktuur te verkies.
Die jeugliga moes in aanloop tot Mangaung eers op voetsoolvlak onder gewone ANC-lede vir dié veranderinge steun gewerf het. ’n Jeugligalid verduidelik: “Kry eers die takke aan jou kant. Dít is wat (die voormalige jeugleier) Fikile (Mbalula) gedoen het (om oudpres. Thabo Mbeki in 2007 in Polokwane te ontsetel).”
Maar so ’n langtermynprojek verg geduld en dissipline – en Malema het nie een van dié eienskappe nie.
Tog sal die ANC dwaas wees as hy die vuil badwater (Malema se militante bravade) saam met die baba (Malema se boodskap) uitgooi. Ongeag wat eindelik met Malema gebeur, hy het ’n paar waarhede onder die ANC se neus gevryf wat dié party nie langer kan ignoreer nie.
* Eerstens sal die ANC sy interne demokratiese stelsels dramaties moet vernuwe. Dit kan mos nie taboe wees nie om aanspraakmakers op die presidentskap met mekaar te vergelyk en te debatteer oor wie Zuma moet opvolg en of hy steeds vir dié pos geskik is. Geen moderne politieke party wat sy sout werd is, kan sy leierstryd onder die mat vee en daar hou totdat diegene wat die magsposisies beklee, besluit dit is aanvaarbaar om daaroor te praat nie.
Mededinging om leiersposisies is goed, vir die party én die land. Dit moet openlik en vry wees. Dan sal faksiegevegte, omkopery, middelmatigheid en die “dis my beurt om te eet”-mentaliteit ’n mindere houvas op die ANC hê.
* Tweedens sal die ANC jonger mense tot sy top-ses posisies móét verkies. Die meerderheid van die ANC se ondersteuners is tussen 18 en 35 jaar oud (meer as 11 miljoen swart mense val in dié ouderdomsgroep). Dit is dus nie vergesog van Malema nie om aan te voer die ANC se stokou leiers is uit voeling met ’n generasie jong, ongeduldige kiesers.
Die wekroep om mnr. Gwede Mantashe deur Mbalula as sekretaris-generaal te vervang, het meriete (hoewel mnre. Nathi Mthethwa en Malusi Gigaba aansienlik beter kandidate is).
* Derdens sal die Malema-verskynsel met ons wees so lank soos die helfte van Suid-Afrika se jeug werkloos is. Die skreiende ongelykhede is ’n teelaarde vir politieke radikalisme. As Malema nie daar is om dié ruimte te vul nie, sal iemand anders wel.
Die eis vir ekonomiese bevryding is ’n tydige waarskuwing aan die ANC dat sy jeugdige ondersteuners se geduld nie vir ewig sal hou nie. Ongeag hóé hard die ANC se ouer garde teen apartheid en vir bevryding geveg het, die jeug kan nie sentiment eet nie.
Lizel Steenkamp is Rapport se politieke redakteur.