Maties is nie onder ’n kalkoen uitgebroei
2010-02-27 18:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Paar dae gelede pieng ’n e-posboodskap in my inboks.
Dit is gestuur van ’n anonieme gmail-adres, maar onderteken deur die drie bekende sakemanne Edwin Hertzog, Desmond Smith en Gerhard van Niekerk.
Die e-pos herinner my, as oud-Matie, dat die universiteit binnekort ’n raadsverkiesing hou en dat “ons alma mater se voortgesette akademiese statuur afhanklik is daarvan dat bekwame, goed toegeruste persone?… verkies sal word”.
Ons weet dat Smith homself verkiesbaar gestel het vir die raadsverkiesing wat volgende maand plaasvind. Die afleiding is dus dat Hertzog en Van Niekerk hulself met sy aspirasies vereenselwig. Niks verkeerd daarmee nie. Dis hoe demokratiese verkiesings werk.
’n Paar dae later kry ek weer ’n boodskap van dieselfde anonieme adres.
Dié een is nie op dieselfde gemoedelike ons-is-mos-almal-een-groot-Matie-familie-en-ken-mekaar-op-die-voornaam-manier onderteken nie – daar is om die waarheid te sê geen aanduiding van wie dit kom nie. Die e-pos nooi my bloot uit om ’n skakel te volg na ’n outomatiese internet-meningspeiling. Hierdie “vinnige en annonieme” (sic) peiling laat egter die hare rys. Die vrae, klaarblyklik ontwerp om respondente se “siening van die US se taalbeleid” te bepaal, is só gelade dit lyk soos voorbeelde uit ’n eerstejaar se statistiek-nota’s oor hoe om nié die tipe navorsing te doen nie.
Vraag drie wil weet: “Is dit die primêre taak van die Universiteit van Stellenbosch om Afrikaans te red?”
En dan: “Indien ja, hoe kan dit gedoen word sonder risiko, bv. sonder om internasionale akkreditasie in gevaar te stel?”
’n Volgende vraag lui: “Wat is vir jou as oud-Matie die belangrikste? Afrikaans as onderrigtaal of ’n graad wat internasionaal erken word?”
Waarom mense soos Smith, Hertzog en Van Niekerk hulself sal bemoei met so ’n halfgebakte en intellektueel bedenklike “meningsopname” kan ’n mens net raai. Sedert hulle jare gelede hul grade aan Stellenbosch verwerf het, het al drie uiters suksesvolle sakeloopbane gebou. Smith was in ’n stadium die grootbaas van Sanlam, Van Niekerk het tien jaar gelede gehelp om Ou Mutual te demutualiseer en Hertzog, ’n gekwalifiseerde narkotiseur, het die Medi-Clinic-groep opgebou tot die gesondheidsreus wat dit vandag is.
Oud-Maties wat die afgelope paar dae dié “vraelys” ontvang het, kan tereg beledig voel dat sulke gedistingeerde mede-alumni só min van die res van ons se kritiese vermoëns dink dat hulle gevra word om deel te neem aan so ’n bedenklike projek in die naam van navorsing.
Hertzog sê die e-pos-veldtog is begin met die hulp van ’n Johannesburgse kommunikasiespesialis, Charmain Lines. Die vraelys is deur haar opgestel, maar die “inhoud en die manier waarop dit opgestel is, hinder hom nie”.
Hierop kan ’n mens net jou hande in ongeloof saamslaan. Tot watter insigte hoop hulle om te kom deur mense te vra om ja of nee te antwoord op die vraag of dit die “primêre rol” is van ’n universiteit om Afrikaans “te red”? Selfs ’n aangeklamde tweedejaar op die Coetzenburg-paviljoen sal vir jou kan uitwys dat die vraelys só geplooi is om een uitslag te verseker: syfers wat toon dat die meerderheid oud-Maties nie ’n duiwel omgee dat Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch afgeskaf word nie en dat ’n universiteit geen rol het om ’n taal te “red” nie.
Dit mag so wees dat die meerderheid oud-Maties so voel, maar hierdie peiling gaan beslis geen geloofwaardige aanduiding van dié feit wees nie.
In hierdie eenvoudige swart/wit wêreld is daar geen plek vir ’n argument dat universiteite wel tale kan bevorder (in plaas van “red”) of dat ’n universiteit uitnemend kan wees én in Afrikaans (of Gujarati of Japannees of Spaans) kan onderrig gee nie.
Natuurlik is dit die slim dokter se goeie reg om meer te probeer uitvind hoe alumni oor dié sake voel en in die proses sy vriend se kampanje bevorder om tot die raad van die universiteit verkies te word.
As Stellenbosch enigsins wil ontsnap uit die maalkolk van die verlammende taaldebat is inligting soos dié van kardinale belang. Maar om dit te doen op ’n intellektueel onregverdigbare wyse doen Smith of die universiteit geen eer aan nie.
’n Mens sou hoop dat Stellenbosch die meeste oud-Maties minstens één ding geleer het: Om verder te dink as wat hul neuse lank is.
Pieter Malan is ’n redaksielid van Rapport.
- Rapport