Maties se leierskorps trap in al die bestuurslaggate
2009-09-27 00:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit het mode geword om
universiteite te benader asof hulle sakeondernemings is. Dit kan na my mening in
sekere opsigte tot mistastings lei, maar in ander opsigte is daar wel belangrike
ooreenkomste. Ek glo byvoorbeeld dat Marianne Jennings se werk The
Seven Signs of Ethical Collapse
(St. Martin’s
Press, 2006) oor etiese verval in sakeondernemings
met vrug ook op inrigtings van hoër onderwys toegepas kan word.
1. Terugwerkende regverdiging
Alle
organisasies het bepaalde doelwitte. Maar ’n organisasie met ’n swak etiese kode
begin by ’n eindpunt en gryp dan terug, sodat hulle sake terugwerkend regverdig.
Hulle verkeer, sê prof. Jennings, in ’n “zone of perversity”. Soos die
Universiteit van Stellenbosch (US) se bestuur wat reken hulle kan hul
integriteit herwin deurdat die raad dubbelmedium-onderrig amptelik goedkeur,
want hulle weet klasse word reeds in dubbelmedium aangebied. Die feit dat
hierdie goedkeuring strydig is met die raad se eie taalbeleid en taalplan steur
hulle nie. Hulle kan dié lastige saak mos maar terugwerkend regstel. Waarskynlik
eersdaags.
2.
Vrees en stilswye
’n
Kultuur heers wat kritiek smoor en teenstemme stilmaak. So is dit by die US,
waar daar een enkele stem in die taalkomitee is wat daarop durf wys dat
fakulteite se taalplanne wat strydig is met die beleid nie aanvaar mag word nie.
Wat doen die taalkomitee? Beraam planne om van die enkele moeilikheidsoeker
ontslae te raak. Statistieke wat die inrigting dalk kan diskrediteer, word
verswyg. ’n Raadslid vra: Hoeveel dosente kan of wil nie in Afrikaans klasgee
nie? Antwoord: Dis nie in die US se databasis nie. Hoekom nie? Voorts word ’n
raadslid se bedankingsbrief verswyg.
3.
Ikoniese
uitvoerende hoofde
Bedenklike organisasies het
onaantasbare leiers wat omring word deur jabroers, sê Jennings. Rhoda Kadalie
skryf in Die
Burger van 1 September 2009: “Talle voormalige wit universiteite met ’n
swart rektor het verbode terrein geword, die spergebiede van diegene wat vrye
debatvoering smoor en akademici terroriseer wat dit waag om vrae te stel.” So is
dit ook by die US. Hier is dit ’n kwessie van lei jy, ons volg. Ons is ’n
persoonlike juigkommando, wat nie net in gelid marsjeer wanneer die ikoniese
leier bewonderenswaardig voor loop nie – wat hy wel meermale doen – maar ook,
blindelings, op ’n afdraande weg. Op pad na ’n afgrond.
4.
’n
Swak raad
Die raad van
’n bedenklike organisasie ervaar interne konflikte, gee nie goeie leiding nie en
verseker nie dat die strategiese rigting wat hulle aangedui het wel realiseer
nie. Ongelukkig tipeer hierdie beskrywing die situasie wat betref die US-raad
heel akkuraat. Die raad laat toe dat sy eie beleid, taalplan en ’n duidelike
verbod op gefederaliseerde fakulteit-taalplanne verontagsaam word. Algemeen
geldende beginsels van prosedure en administratiefreg word tersyde gestel. Die
raad volg. Hulle lei nie.
5.
Vermyding van konflik
In
so ’n organisasie word konflik vermy. Almal doen maar net wat hulle meen
goedkeuring sal wegdra. Duidelik ly die senaat van die US aan die verskynsel van
groepdenke. Almal praat saam, daar is geen teken daarvan dat ’n enkele
akademikus die gang van sake bevraagteken nie. Voorwaar ’n vreemde verskynsel in
’n akademiese omgewing. Andersins uiters skaars.
6.
Merkwaardige innovasie
Die
geloof begin posvat dat hierdie organisasie so besonders en innoverend is dat
gewone realiteitsbeginsels nie vir hulle geld nie. Hy kan regkry wat niemand
anders kon regkry nie. Die US dink blykbaar hy sal veeltalige onderrig kan
bekostig, die dominante taal sal nie oorneem in die lesinglokale nie, en
risiko-
studente sal nie druip weens mindere begrip in ’n gedwonge tweede
taal nie. Want hy gaan dit anders bestuur as wat enige ander akademiese
inrigting op die planeet nog ooit kon regkry.
7.
Uitmuntendheid
op sommige gebiede vergoed vir tekortkominge elders
Sonder twyfel is die US in bepaalde opsigte werklik uitmuntend. Daar is velerlei projekte en prastasies waarop almal met reg trots kan wees. Die vergoed egter nie vir die onaanvaarbare ontwikkelinge op die gebied van onderrigmedium nie. Uitmuntende navorsing is bewonderenswaardig. Suksesvolle gemeenskapsprojekte moet geloof word. Uitblinkers op sportgebied maak almal se harte bly. Maar 'n universiteit moet in die lesinglokaal ook slaag. Die US bedien 'n tradisionele hinterland wat ten beste in Afrikaans tereg sal kom. Internasionale navorsing oor dekades bewys dit. Taalkenner in Suid-Afrika beaam dit. Op hierdie gebied mag ons nie tekort skiet nie. Daarvoor sal geen ander prestasie vergoed nie. Nie nou nie, en ook nie in die toekoms nie.