Media beoefen sy rol as waghond te oorywerig

2010-08-07 17:45

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Gewoonlik is dit nie raadsaam vir ’n politikus om oor die media deur die media met die media in kritiese debat te tree nie.

Jy het immers nie die tuisveldvoordeel nie.

Dít het die laaste weke baie duidelik geblyk uit die hernieude debat oor die ANC se resolusie oor ’n onafhanklike mediatribunaal op sy nasionale konferensie in 2007. Die drie of vier ANC- en alliansie-kamerade wat die vermetelheid gehad het om weer die voorstel oor ’n tribunaal op te haal, is met ’n stortvloed negatiewe redaksionele kommentaar bestook.

En tog, onder al die negatiwiteit, het ’n paar interessante kwessies na vore gekom. Eerstens, let gerus op hoe verdeeld senior joernaliste is oor of hulle positief moet reageer op die uitnodiging van Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, om die kwessie openlik en eerlik in Luthuli-huis te kom bespreek.

Al is hy ongelukkig oor die voorstel van ’n tribunaal, kritiseer Rapport se Jan-Jan Joubert ’n bepaalde “redakteur van ’n Engelse koerant” toe dié redakteur ’n geleentheid van die hand wys om openlik met die ANC in gesprek te tree hieroor. Ek neem aan Joubert verwys na Business Day se Peter Bruce, wat die afgelope Maandag in sy weeklikse rubriek bevestig het dat hy “uit beginsel” nie die vergadering sal bywoon nie. Bruce is duidelik slegs bereid om saam te speel as hý die tuisveldvoordeel het.

Maar die vorige week in sy rubriek “Thick End of the Wedge” maak Bruce ’n hele paar interessante erkennings. Bruce gee toe dat die huidige selfregulerende drukmedia-ombudsreëling erg onvoldoende is.

Hy erken as koerante ’n verskoning moet publiseer, bied hulle dit dikwels onopvallend aan, terwyl die oorspronklike aanstootlike berig op ’n prominente plek uitgeblaker is.

Bruce verseker ons dat hy, ten minste as redakteur van Business Day, altyd ’n verskoning op dieselfde bladsy probeer publiseer as waar die oorspronklike berig verskyn het.

En inderdaad, getrou aan sy woord, plaas die Business Day binne ’n week die afgelope Maandag ’n verskoning op sy voorblad aan min. Siphiwe Nyanda weens ’n berig oor beweerde korrupsie in die skorsing van Nyanda se direkteur-generaal.

Die berig was gegrond op ’n enkele, naamlose bron en die koerant erken in sy verskoning dat dit “slordige” joernalistiek is.

Bruce (of is dit die hernieude beroep op ’n mediatribunaal?) het blykbaar ’n mode vir verskonings begin. So het The Times die afgelope Dinsdag ook ’n verskoning, weliswaar ’n halfhartige een, geplaas oor ’n berig met die opskrif “Jail journalists – Nzimande” die vorige dag.

Die koerant het erken dat ons sekretaris-generaal dit nooit op die SAKP se 89ste herdenking in Rustenburg gesê het nie.

Maar dit was nie die einde van die storie nie. Terwyl The Times Dinsdag verskoning gevra het, het Business Day – wat Maandag verskonend was – in ’n hoofartikel losgetrek oor Nzimande omdat hy “so opgewonde was oor die vooruitsig om ’n joernalis tronk toe te stuur”.

Dié kommentaar is klaarblyklik weer eens gegrond op ’n enkele bron – in dié geval die foutiewe berig in The Times!

Berigte in die media, veral sensasionele bewerings oor vooraanstaande figure, loop ver. ’n Verskoning agterna is gewoon nie goed genoeg nie. ’n Blote “jammer” wis nie die skade uit nie, hetsy dié verskoning nou prominent aangebied of in ’n hoekie van die koerant weggesteek word.

Ons het duidelik ’n probleem. Om meer spesifiek te wees: Ons het talle mediaprobleme. Deel van die verwarring in die debat oor ’n moontlike mediatribunaal is die neiging om al dié probleme saam te bondel. Die tribunaal word óf voorgestel as ’n oplossing vir al die probleme óf as ’n sinistere nie-oplossing bestempel.

Dit sal verkeerd wees om ’n tribunaal as die oplossing vir alle mediaprobleme te beskou. So is daar in die alliansie aansienlike frustrasie oor veral die drukmedia se oënskynlik eng anti-ANC-houding. Onthou julle die media-bruising toe Cope aangekondig is? Let ook op hoe stories oor die SAKP en Cosatu alte dikwels fokus op die armsalige, dog herhaalde oortuiging dat ons van die ANC gaan afstig. Dit irriteer ons, maar dit is nie die soort kwessie wat in ’n tribunaal gepak moet word nie.

Gekoppel aan die opposisionele neiging, is die media se standpunt dat hy die waghond is oor diegene met mag (gewoonlik politieke eerder as ekonomiese mag).

Natuurlik moet die media ’n waghond wees. Daar is talle voorbeelde van joernaliste wat voor en ná 1994 vergrype onthul het en ons salueer hulle. Maar daar is tye dat die waghond-oorywerigheid die ander rolle van die media vervang het – soos om akkurate inligting aan burgers te verskaf oor kwessies wat hul daaglikse lewe raak.

Maar dan, om die balans reg te kry is ook nie ’n saak vir ’n tribunaal nie – buiten in die geval van valse en ongegronde bewerings wat verbloem word as verklikkery (whistleblowing).

Nog ’n groot probleem is die eienaarskap van die media. Twee groot maatskappye oorheers die koerantbedryf – die Independent Newspaper-groep en Media24/Naspers. ’n Onlangse poging om die monopolie stop te sit, die Nigeries gefinansierde This Day, het baie gou, wel, yesterday geword.

Dié koerant is gemarginaliseer omdat die twee grotes alles oorheers, van papier tot verspreidingsnetwerke, en nie oor sy inhoud nie. Dit lyk na ’n saak vir die Mededingingskommissie en nie die voorgestelde tribunaal nie.

Daar is ’n ander probleem met die Independent-groep. Dit is in die hande van buitelanders en terwyl die plaaslike koerante ’n wins toon, is sy buitelandse koerante in die moeilikheid. Volgens talle joernaliste by die sogenaamde onafhanklike koerante in Suid-Afrika word dié surplus gebruik om kwynende titels elders aan die lewe te hou. Plaaslike nuuskantore byt die spit af. Ervare joernaliste word uit diens gestel en juniors moet stories dek waarvoor hulle kwalik toegerus is. Hoewel dié dinamika ongetwyfeld deels verantwoordelik is vir die foute wat dikwels insluip, is die kwessie van media-eienaarskap ook nie ’n saak vir ’n tribunaal nie. Die demokratisering en die ontwikkeling van ’n verskeidenheid stemme is ’n stryd wat op ander terreine gevoer moet word.

Mathatha Tsedu, in sy nuwe hoedanigheid as City Press se “interne ombudsman” (nog ’n selfregulerende stap wat te laat gedoen is en te min impak het?), erken verlede Sondag nogal ruiterlik dat die poging om Media24 se eienaarskap te transformeer ’n “grap” was.

Maar, verseker hy ons, die eienaarskap is grootliks irrelevant en dis die redaksionele personeel wat die inhoud bepaal. Al waaroor die diensdoende eienaars van Media24 bekommerd is, sê hy, is die wins – of om hom aan te haal: “If the target market is lapping the newspaper off the stands, they let the content managers be.”

In teenstelling met wat Tsedu blykbaar aanneem, is dit glad nie gerusstellend nie. As redaksionele “onafhanklikheid” op winsbejag berus, sal ons juis kry wat ons so dikwels kry: flentergat tabloids wat op die werkersklas gerig is en die middelklas se geklaery wat hom voordoen as ernstige joernalistiek.

Kortom, ’n joernalistiek wat die laagste gemene deler in sy teiken­gehoor paai.

Laat ek benadruk dat dit neigings is, nie die geheel nie. Daar is baie positiewe aspekte wat ons media kenmerk. Daar is denkende kommentators en baie professio­nele joernaliste. Daar is lewendige inbel-deelname oor ons radiostasies en ’n indrukwekkende reeks plaaslike gemeenskapsuitsaaiers.

So hoekom moet ons ’n onafhanklike mediatribunaal oorweeg?

Dit moet beslis nie wees om die media mak te maak as gedienstige skoothonde vir die oorheersende party of die regering nie. Ons kan nie terugkeer na die verlede van voor 1994 nie.

Dit moet ook nie wees om individuele joernaliste terug te betaal nie en nog minder om mense in die tronk te stop.

Die berigte van ’n individuele joernalis is selde slegs sy of haar werk – vanaf ’n kollektiewe nuuskonferensie en die toewysing van opdragte, deur na ’n subredakteur se misleidende opskrif, na die algemene mededinging en druk om geld te maak. Wat dus lyk na ’n individu se storie in die media is in wese ’n kollektiewe, institusionele produk.

As ’n tribunaal tande moet hê – soos die oplê van boetes – dan moet die onderneming, en nie die individu nie, beboet word.

Ons het beslis ’n betroubare en onafhanklike institusionele meganisme nodig waartoe die publiek, insluitend (maar nie alleenlik nie) openbare figure, hulle kan wend oor wanvoorstellings en onetiese verslaggewing.

So waar staan ons howe? Natuurlik moet ’n hofsaak in die geval van laster ’n opsie wees, maar dis gewoonlik duur, uitgerek en dikwels onbeslis.

Maar sal die onafhanklikheid van ’n tribunaal wat deur die parlement aangewys word en daaraan verslag doen nie deur die oorheersende party ondermyn word nie?

Dit is moontlik, maar ek meen die voorbeeld van ons Menseregtekommissie en die Openbare Beskermer bewys juis die teendeel.

Een ding is duidelik, soos blyk uit die afgelope week se karnaval van koerantverskonings: Self­regulering (op sy eie) werk eenvoudig nie.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-21°C High level clouds. Mild. Pta: 8-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: 4-17°C Sunny. Cool.
Dbn: 14-24°C Morning clouds. Mild. PE: 10-23°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!