Met Rooi slap riem gevang
2012-07-21 23:59
By die onlangse viering van Mimi Coertse se 80ste verjaardag is haar beroemde vertolking van O Boereplaas weer telkens opgehaal of oor die radio gespeel.
Seker ook tereg, want die “plaaslied”, met sy hartroerende woorde deur C.F. Visser en verwerking deur die bekende Dirkie de Villiers, roer die hartsnare van vele.
Diegene met ’n basiese kennis van Europese volksmusiek sal egter in die “volkseie” lied die wysie van die Duitse Kerslied O Tannenbaum herken. Dit is ’n tradisionele lied waaraan die orrelis en komponis Ernst Anschütz van Leipzig in 1824 moderne gestalte gegee het.
Die Engelse het hul eie weergawe, O Christmas Tree.
Die wysie het egter ook ’n spesiale plek in die harte van diegene aan die linkerkant van die politieke spektrum. Hulle ken dit as The Red Flag en dit is, onder meer, die tradisionele “partylied” van die Britse Arbeidersparty.
Die woorde van The Red Flag is reeds in 1889 deur die Ierse sosialis en dokwerker Jim Connell geskryf.
Die opruiende woorde, wat gewaarborg is om elke sosialis se bloed te laat bruis, lui onder meer: “The people’s flag is deepest red/ It shrouded oft our martyred dead;/ And ere their limbs grew stiff and cold/ Their life-blood dyed its every fold./ Then raise the scarlet standard high;/ Beneath its folds we’ll live and die./ Though cowards flinch and traitors sneer,/ We’ll keep the red flag flying here.”
Daar lê egter ’n wonderlike stukkie ironie daarin dat O Boereplaas en The Red Flag ’n wysie deel. Dis ’n verhaaltjie waarop ek afgekom het tydens my navorsing vir my boek oor die Afrikaner-kommunis Bram Fischer.
In 1975 toe Fischer in Bloemfontein begrawe is nadat hy aan kanker oorlede is, het vriende, aktiviste en kamerade op die Vrystaatse hoofstad toegesak om hul laaste eer te betoon.
“Byna elke kommunis van naam was daar,” is gesê.
Fisher se dogter, Ilse Wilson, vertel dat hulle die orrelis, wat in Boeremusiek gekonfyt was, vooraf vroom gevra of sy asseblief O Boereplaas sal speel terwyl haar pa se kis in die verassingsoond gestoot word.
Salig onbewus dat die wysie ook dié van ’n sosialistiese strydlied is, het sy onmiddellik ingestem.
Selfs Die Vaderland het in hul berig oor die begrafnis dié ironie heeltemal misgekyk en oor die begrafnis berig onder die opskrif: “‘O Boereplaas’ toe Bram na die oond beweeg”.
Só is Bram Fischer, die bekende Afrikaner-kommunis en aartsvyand van “die volk”, danksy O Boereplaas met die opklink van ’n opruiende sosialistiese strydlied die ewigheid ingestuur.
En almal was tevrede: “O Boereplaas, geboortegrond!/ Jou het ek lief bo alles.”
Hannes Haasbroek is die skrywer van ’n Seun soos Bram, ’n biografie oor Fischer.