My kerk se mense

2012-12-09 00:10

Ab Anselm van der Linde van Oostenryk, ’n oudleerling van die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Katoliek? “Maar jy is dan Afrikaans,” eggo ’n kollega my woorde toe ons gesprek nou onlangs by kerk en taal loop draai. Nou ja.

Toegegee, sedert die 19de eeu, toe die Katolieke wetlik toegelaat is om ’n kerkstruktuur in Suid-Afrika te vestig, was dié histories “immigrante-kerk” vir talle Suid-Afrikaners sinoniem met Engels. En dan die Roomse Gevaar...

Maar baie het verander. Afrikaans in die Katolieke Kerk is tans in ’n gunstiger posisie as in 1840 toe ’n kategismus in Nederlands, en nog een eers in 1917 uitgegee is – ook in Nederlands. Toe was die kerk ’n paar duisend Afrikaanse lidmate sterk.

Nou word dit op meer as 360 000 Afrikaanssprekendes (uit 3,3 miljoen Katolieke) geraam.

Groot erns word gemaak om Afrikaans as geloofstaal in die Katolieke Kerk te bevorder en te bestendig. Vertalings van liturgiese boeke, werke oor die Katolieke geloofsleer, kategismus of gebedeboeke is die taak van die Suider-Afrikaanse biskoppe se Afrikaanse apostolaat, die sogenaamde Afrikaanse Taal Pastorale Streek (ATPS).

Priesters in die twee Afrikaanse bisdomme, Oudtshoorn (onder leiding van die Suid-Afrikaans gebore Portugese biskop Francisco de Gouveia) en Keimoes-Upington (met biskop Edward Risi, van Italiaanse afkoms), behartig die vertalings namens die ATPS. Selfs al ervaar talle Afrikaanssprekende Katolieke nog hul geloofslewe deur Engels, vind jy etlike Afrikaanse gemeentes in ander bisdomme.

Ná eeue van Latyn as die sakrale taal van die Katolieke Kerk, is dit ’n volgehoue uitdaging om ’n eie sakrale terminologie in Afrikaans te ontwikkel, sê vader Leon Mostert van die Oratorium van St. Filip Neri op Oudtshoorn, wat deels verantwoordelik is vir die kerkvertalings. Rome, sê Mostert, kyk erg krities na die vertaalde tekste wat vir die amptelike recognitio voorgelê word.

Om te sorg dat alle liturgiese vertalings so getrou moontlik die Latynse bronteks weergee, het die Vatikaan se Kongregasie vir die Erediens in 2001 die dokument Liturgiam Authenticam uitgereik. Geen aanpassings van die oorspronklike teks mag gemaak word sonder die spesifieke toestemming van Rome nie, lui ’n voorskrif.

En as Rome nie tevrede is met ’n vertaling nie?

Dan stuur hulle die vertaling terug na die plaaslike biskoppe vir hersiening of aan ’n Afrikaanssprekende in die Vatikaan wat vaardig is in Latyn.

Of aan iemand soos Anselm van der Linde van Oostenryk, ’n oudleerling van die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria.

HT, soos sy vriende en familie hom ken, is sover bekend die eerste Afrikaner wat die titel van ab (geestelike hoof van ’n kloosterorde), met dieselfde status as biskop, in die Katolieke Kerk het. Met sy verkiesing tot ab van die Cisterciënserklooster van Wettingen-Mehrerau in Oostenryk vier jaar gelede het hy (toe 38 jaar oud) hoof van 20 kloosters wêreldwyd geword.

As uitruilstudent op hoërskool het hy ’n pelgrimsreis na Rome onderneem waar hy pous Johannes Paulus II ontmoet het. Die pous het hom omhels en hy het besef “ek is vir hierdie lewe beskore”. Ná sy studie in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria en ’n pos in die departement van buitelandse sake is hy 19 jaar gelede Oostenryk toe om ’n monnik te word.

Van immigrante-kerk gepraat. Menige immigrant sal jou vertel jy leer baie vinnig Afrikaans praat in ’n Afrikaanse bisdom. Soos die Susters van Voorsienigheid wat uit lande soos Roemenië, Togo, Indië en Italië kom en op Oudtshoorn pastorale werk doen. In Keimoes-Upington is dit nie vreemd om hier en daar ’n verafrikaanste Poolse of Amerikaanse priester raak te loop nie.

Dit herinner aan ’n tyd toe die kerk van sy priesters na die universiteite van Potchefstroom, Bloemfontein en Stellenbosch gestuur het sodat hulle Afrikaans, en die Afrikaanse kultuur, mentaliteit en leefwêreld onder die knie kon kry.

In die 20ste eeu het die Katolieke Kerk sy eerste volwaardige Afrikaanse apostolaat in die Suid-Kaap en Klein-Karoo begin. Hieroor sou ’n priester, vader Oswin Magrath, in die 1930’s uit die St. Niklaas-priory op Stellenbosch skryf: “Die taal is eers van die 1920’s in gebruik geneem en die paar Katolieke wat dit gepraat het, het Hoog-Hollands in die skool geleer... die Pallottiners het liturgiese, gebede- en gesangboeke uitgegee; in Duitse Afrikaans.”

Uit die St. Niklaas-priory verskyn toe in 1942 A First English-Afrikaans Vocabulary of Catholic Terms deur Magrath. Hiervoor het hy hulp en raad van onder andere prof. J.L.M. Franken, J.J. Smith en W. Kempen gekry.

Opvallend baie nie-Katolieke se spore lê diep in die Katolieke Afrikaans. Toe die plaaslike biskoppe in 1950 ’n departement vir Afrikaanse aangeleenthede tot stand bring en ’n Katolieke Afrikanersentrum in 1951 opgerig is, het ’n tydperk begin wat bekend staan as een van die merkwaardigste in die geskiedenis van die (Afrikaanse) Katolieke Kerk in Suid-Afrika. Dié sentrum is in die 1970’s gesluit.

Téén die Roomse Gevaar in het bekendes (soos die vier aanvanklik nie-Katolieke skrywers hieronder) bygedra tot die skep en ontwikkeling van ’n eie Afrikaanse Katolieke terminologie. En ’n breër publiek aan die sienings en denke van dié Afrikaanse volksdeel bekend gestel.

Soos prof. Martin Versfeld, Afrikaanse filosoof wat later Katoliek geword het. En Karel Schoeman, wie se bydrae tot Afrikaans se verkenning van en blootstelling aan ’n nie-Calvinistiese wêreld van onskatbare waarde bly, al was hy later nie meer Katoliek nie. Van belang is sy Afrikaanse Katolieke geskrifte, onder meer oor die lewe van die heilige Franciscus van Assisi, sy bydrae tot die Katolieke Kerkwoordeboek/Church Dictionary en sy vertaling van Die Amptelike Handboek van die Maria-Legioen (met N.P. van Wyk Louw as proefleser).

Vergeet nie die Afrikaanse digter Sheila Cussons, wie se digkuns ook ’n nuwe Katolieke wêreld vir Afrikaanse mense oopgemaak het. En vader Bona-venture Hinwood, ’n Rooms-Katolieke Afrikaanse priester-digter wie se vertalings van die psalms alombekend is.

Vir my het Afrikaans in die Katolieke Kerk ’n ver pad gekom van my kindertydse gemeentepriester se gemeentebrief met die aanhef “Hartjie gemeentelid” vir “Dear parishioner”.

Roomse Gevaar?

Dit spreek boekdele dat talle “nuwe” Katolieke wat deur Rapport genader is, liefs nie in die openbaar wil praat oor hul “ver- Roomsing” nie. Ook nie oor waarom dié geheimhouding nie.

Maar ’n verbeelde of werklike vrees vir die Roomse Gevaar verhinder nie die befaamde Stellenbosse koorleier Acáma Fick om saam met die Afrikaanse apostolaat aan ’n CD met Afrikaanse liturgiese musiek te werk nie.

“Afrikaanse weergawes van onder meer die Magnificat (die lofsang van Maria) vir die vesperdienste, die Benedictus (Sagaria se lofsang) vir die Laudes-gebedsuur en die aangrypende Verwytinge vir die Goeie Vrydag-liturgie sal op die CD verskyn,” sê Fick. Dié CD, wat volgende jaar verskyn, is ’n leerhulpmiddel vir Afrikaanse gemeentes en kore.

Roomse Gevaar ofte nie, menige Afrikaanssprekende ken ­vader Carlo Adams, seun van die Noord-Kaap, wat ’n gemeentepriester vir die Huis van Monaco is – ’n Afrikaanse Katoliek.

“Soos ek ook,” sê Cas van Rensburg, skrywer van onder meer Die prinses in elke vrou.

“Ek het amper 50 jaar gelede as jong student op Stellenbosch lid van die Katolieke Kerk geword. Die paadjie daarheen het aan huis van Dirk Bester (later professor in tandheelkunde) en sy vrou, Marguerite, begin waar ek gereeld kon inluister op kopskuiwende gesprekke tussen die jong Van Zyl Slabbert en sy vrou, W.A. de Klerk en sy vrou, die Degenaars en vader Albert Nolan. Onder leiding van Nolan, nou ’n wêreldbekende teoloog wie se boeke in meer as 20 tale vertaal is, is ek (Dopper gedoop) uiteindelik in die Katolieke Kerk ontvang.”

Deur die jare het hy baie teenstand uit Afrikaner-geledere gekry, maar deesdae bespeur hy ’n groter openheid jeens Katolieke. Veral by ouer mense.

Hy is dus geseënd, sê hy.

binne rapport

Weer
Ksd: 13-16°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 4-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-13°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-9°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-19°C More sun than clouds. Cool. PE: 10-18°C Rain showers. Afternoon clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!