Om sin te maak van ’n deurmekaar stad
2009-11-07 23:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Soos baie van Yeoville se woonstelgeboue lyk Radoma Court deesdae maar erg verwaarloos en vervalle.
Buite skilfer die verf af en waar daar eens ’n pragtige tuin in die binnehof was, hang daar nou wasgoed – die wapperende hemde en panties simbolies van die manier waarop die inwoners die argitek se sin vir ontwerp en estetika in die wind slaan.
Ten spyte van die inwoners se argwaan raak Clive Chipkin steeds opgewonde oor ’n gebou wat verlede jaar reeds sy 70ste verjaardag gevier het.
“Kyk na die reguit lyne, die hoek van die gebou wat op pilare gelig word om plek te maak vir ’n ingangsportaal,” beduie hy opgewonde.
“En hier, die trappe wat deur ’n muur van glasstene belig word.”
Op die rype ouderdom van 80 word Chipkin tereg beskou as die grand old man van Suid-Afrikaanse argitekte, ’n titel wat pas herbevestig is met die publikasie van sy boek Johannesburg Transition: Architecture and Society from 1950.
Saam met sy voorganger, Johannesburg Style: Architecture and Society 1880s-1960s (wat reeds in 1993 verskyn het), het dié boeke Chipkin gevestig as die goudstad se voorste geboue-biograaf.
Toe ek tien jaar gelede as verskrikte Pretorianer vir die eerste keer in Johannesburg kom woon het, was Chipkin se eerste boek die gids wat my gehelp het om my nuwe stad beter te verstaan.
Uiteindelik was hy ook deels die inspirasie agter my digbundel Retoer, ’n bundel waarin die geskiedenis van Johannesburg sterk figureer.
Toe ek hom bel vir ’n onderhoud stel hy voor dat ons liewer deur die stad ry en geboue kyk en probeer sin maak van die deurmekaar stad waarin ons woon.
Een van ons eerste stoppe is Radoma Court in Yeoville. Chipkin het in Yeoville grootgeword, in een van ’n reeks skakelhuise net oorkant die straat van Radoma Court in Cavendishstraat.
Die oprigting van Radoma Court het ’n onuitwisbare indruk op die jong Chipkin – toe net nege jaar oud – gemaak.
Waar die gesin se woonplek, Bedford Flats, soos tipiese Engelse cottages lyk, was die nuwe gebou ’n modernistiese betonblok met balkonne en groot vensters.
Destyds het hy nog nie die filosofie agter dié ontwerp verstaan nie, maar sy belangstelling in die boukuns is geprikkel. Tydens sy studie aan die Universiteit van die Witwatersrand in die vroeë 50’s sou hy leer dat Radoma Court deur die argitek Harold le Roith ontwerp is, ’n student van Rex Martienssen, wat sy studente aan Wits besiel het met die ontwerpfilosofie van sy vriend, die Franse modernistiese meester Le Corbusier.
Radoma Court bevat dus vele van Corbusier se beginsels; beginsels wat Chipkin geesdriftig aan my uitwys: Die reguit lyne, ruim, funksionele wooneenhede, die muur van glasstene?...
Corbusier was ’n utopiese denker wat geglo het dat argitektuur ’n ordelike, egalitêre samelewing kan skep.
Moderne woonstelgeboue moes die kronkels en draaie van Europa se ou stede vervang, met groot tuine tussenin waarin mense in hul vrye tyd kon drentel.
In die eerste helfte van die 20ste eeu het studente van Martienssen ’n amper vergeefse stryd gevoer om Corbusier se beginsel in Hillbrow en Yeoville in werking te stel – ordelike woonstelgeboue met groot tuine.
Die enigste probleem was dat Johannesburg se ontwikkelaars glad nie die Fransman se visie gedeel het nie. Hulle was meer geïnteresseerd in wins, wat slegs gemaak kon word deur soveel moontlik mense in die kleinste moontlike ruimte te prop.
Die gevolg is die Hillbrow soos ons dit vandag ken: Woonstelgeboue wat heeltemal te naby aan mekaar staan. Corbusier wou lig in wooneenhede hê, met vensters van die dak tot die vloer; sonder gordyne. In ’n Hillbrow waar die bure aan die oorkant van die straat alles kan sien wat in jou sit- en slaapkamer aangaan, was dit heeltemal onprakties.
’n Mens sou verwag dat ’n argitek met afgryse vervul sal wees, maar Chipkin lag heerlik as hy daarvan vertel. Dis ’n sentrale tema in sy boek: Die feit dat die beste planne van stadsbeplanners en argitekte selde uitwerk.
Johannesburg se ander groot sosiale ingenieurs was natuurlik die beplanners in die apartheidsregering. Een van hul eerste beplanningsprojekte was die opheffing van Afrikaner-werkerklaswoonbuurte soos Melville en Westdene. Om dit te doen, moes Sophiatown platgeslaan word om plek te maak vir Triomf.
Die SAUK, die Randse Afrikaanse Universiteit en die Broederbond se kantore het ook almal in die omgewing verrys.
Aanvanklik was dié projek taamlik suksesvol. Ná die kunstenaars, die akteurs en die joernaliste het die beroepsklasse – die dokters, rekenmeesters en prokureurs – gevolg en hulle in dié gebied gevestig.
Die nasionaliste se sukses was uiteindelik ook hul ondergang, want in die trendy kroeë van Melville het jong Afrikaners vinnig die nasionalisme van ouds verruil vir ’n meer liberale en kosmopolitiese identiteit.
Ons gesprek verskuif noodwendig na meer onlangse argitektuur.
Die postmoderniste het in die 1970’s in opstand gekom teen Corbusier se modernistiese dissipels.
Waar moderniste met strak lyne en orde gewerk het, het die postmodernisme teruggegryp na die verlede en torings en pilare uit ou kastele op ’n speelse manier as detail in hul geboue gebruik. Dit was ook ’n reaksie op die moderniste se utopiese (en fascistiese) aspekte.
In Suid-Afrika het baie van die postmoderne argitekte ook teruggegryp na Europese ontwerpelemente. Talle Europese pilare en torinkies in soveel van Sandton se geboue is voorbeelde daarvan.
Die funksie daarvan was om wit Suid-Afrikaners ’n gevoel van veiligheid te gee in ’n land wat vinnig aan die verander was – ’n illustrasie hoe ’n idee verwring word wanneer argitektuur met ’n samelewing in gesprek tree.
Dis egter nie net groot kommersiële projekte en herehuise wat Chipkin se aandag trek nie. Hy raak net so opgewonde oor argitektonies belangrike woonhuise.
Hy wys my ’n huis in Beaumont Straat 12 in Oaklands, ontwerp deur Norman Eaton, ’n argitek wat later in sy loopbaan ’n belangrike rol sou speel in die vestiging van ’n eie Afrika-argitektuur.
Die huis is natuurlik dié van die destydse SAKP-leier Bram Fischer: “That famous house,” soos Nadine Gordimer in haar skryfwerk daarna verwys. Die beeldhouer Anton van Wouw was nog een van Eaton se beroemde kliënte. (Heel toevallig het ek ook in ’n Eaton-huis grootgeword.)
’n Gesprek met Chipkin draai wyd.
Hy lag lekker oor Johannesburgers se pretensie, oor die pogings van mynmagnate om grênd outydse villas op te rig, en oor die feit dat Sandfontein se naam na Sandhurst verander is om dit meer gesofistikeerd te laat klink.
“Dis ’n snaakse stad,” sê hy, “jy moet ’n sin vir die ironiese hê om dit te waardeer.”
Een van die laaste stoppe is die huis wat Chipkin vir hom en sy gesin ontwerp en gebou het in die voorstad Dunkeld. Hy trek sy skouers op as ek hom uitvra oor die feit dat die nuwe eienaar besig is om die huis heeltemal te herbou en te verander.
“Dis hoe dit werk,” antwoord hy, in pas met sy filosofie dat argitekte se beste planne selde uitwerk presies soos hulle in gedagte gehad het.
Tog kan ek sien dat hy effe ongemaklik na die huis terugkyk as ons verbyry.