Ontspan, die lewe is faikonta
2012-12-16 00:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
faikonta b.nw. Kwasie, kwansuis, kamma: As die kinders winkel speel, is die wit klippies faikonta hul geld. Moontlik van baster-Portugese oorsprong. Opgeteken in die Boland en by Clanwilliam en Calvinia langs. – Elektroniese WAT: Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A tot R). Redakteur W.F. Botha.
Dis laatnag, warm en bedompig. Ek is in ’n woonstelgebou hoog teen die hange van Seinheuwel en Leeukop. Alles is stil in die lang gange, almal slaap.
Die ou hysbak skud, ratel en rumoer terwyl dit stadig boontoe beur.
’n Flou daklig flikker, bleek.
Uit die hoek van my oog sien ek dit: ’n Gevurkte, gesplete tongetjie wat bokant die deur vroetel. Tog nie, miskien ’n verdwaalde veer van ’n verestoffer, daar waar die opsigter gewoonlik smôrens afstof.
Toe hoor ek dit. ’n Geblaas, ’n gesis, tóé die plat kop van ’n slang wat deur die opening glip.
Hy gluur my aan. Sy kop pof op, raak weer plat, reg om toe te slaan.
Oë skitterblink, ’n bek so groot soos ’n vuis wat oopvou, tande, tandvleis, gifkliere, ek kyk binne-in die pienk, vleeskleurige spelonk. Götterdämmerung.
Ek onthou dan, net laas week is daar ’n koperkapel (oftewel Kaapse kobra, die dodelike Naja nivea) gevind in die einste woonstelgebou. Someraande seil hulle teen die warm berg af op soek na kos.
As ek stilstaan beweeg hy nie.
As ek beweeg, lig die slang sy kop op en blaas lug deur sy neus. Die slang hang voor die deur, ek is ’n gevangene. Die Vader help my, ek wil piepie.
Ek sal iets moet doen. Ek druk die deur vinnig, die slang kom orent en vou sy groot bek om my voorarm, maar dis ’n droë pik, waarskuwing. Hy is my doodsengel in hierdie eensame hysbak.
’n Woede kom oor my en ek gryp die slang hard agter sy kop, ek ruk hom uit sy skuilplek en wurg hom. Vark. Ek voel sy skubbe.
Die slang is boos en sterk, baklei terug. Hy swaai sy goue romp soos ’n lyfband om my been en dié keer pik hy my seer, sy tande slaan soos ’n mens s’n? diep in my been, ek voel hoe sy stroperige taai gif deur my vel ingespuit word.
Satanskind, klamhandjies, knakstert, Swart Piet. Dis nou te laat, ek kan maar hardloop, die slang bly hang aan my en sy kake het om my been gesluit.
Gou, ek moet by die hospitaal uitkom. Ek haal reeds moeilik asem, my longe is besig om verlam te raak, oftalmoplegie tree in, die verlamming van my ooglede.
Toe hulle my by die lykshuis se koue yskas insleep, toe word ek wakker. My oorlede ma sit by my. Ek is weer ses jaar oud, in my bedjie by die huis. Sy streel my sweterige voorkop.
“Slegte droom my skat? Mamma het vir jou ’n koppie koffie gemaak.
“Toemaar,” sê sy, “die lewe is maar net faikonta, niks om voor bang te wees nie. Geseënde Kersfees.”