Oorplanting-pionier sterf
2012-12-02 00:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Joseph Murray, die Amerikaanse dokter wat in 1954 die wêreld se eerste suksesvolle orgaanoorplanting gedoen het, is Maandag oorlede. Hy was 93.
Terwyl Suid-Afrikaners graag daarmee spog dat die wêreld se eerste hartoorplanting deur die Suid-Afrikaner Chris Barnard gedoen is, was Murray die ware pionier met orgaanoorplantings en die ontwikkeling van metodes om te keer dat die liggaam ’n nuwe orgaan verwerp.
Uit die lesse wat hy geleer het in veloorplantings op gewonde soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog het Murray besef daar is maniere om te keer dat die liggaam oorgeplante vel en organe verwerp.
Ná die oorlog is hy na die Peter Bent Brigham-hospitaal in Boston waar hy die tegniek om niere oor te plant op honde vervolmaak het.
Sy eerste sukses was toe hy in 1954 die 23-jarige pasiënt Richard Herrick ontmoet het wat besig was om aan ’n niersiekte te sterf. Richard se identiese tweelingbroer, Ronald, was gewillig om ’n nier te skenk. Die operasie, wat op 23 Desember 1954 uitgevoer is, was ’n sukses.
Richard het nog agt jaar geleef voordat hy weer siek geword het van dieselfde niersiekte en sy broer het ’n normale lewe gelei.
Hierdie deurbrake is eers 30 jaar later deur die mediese establishment erken toe Murray in 1990 die Nobelprys vir fisiologie en medisyne gedeel het met Donnall Thomas, wat pionierswerk gedoen het op die gebied van beenmurgoorplantings.
Murray het sy deel van die prysgeld geskenk aan sy alma mater, die Harvard- mediese skool, en die hospitale waar hy gewerk het.
* Joseph Edward Murray, medikus. Gebore 1 April 1919, oorlede 26 November 2012.