Op ‘swart’ kampus geslyp vir SA
2013-01-13 00:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Toe my matriekjaar in 2006 ten einde loop, het ek met verlangende oë gestaar na al my vriende wat vir kursusse by Stellenbosch en Tuks ingeskryf het.
Geld vir naskoolse studies was nooit ’n probleem in ons gesin nie, maar my pa het dit duidelik gestel dat hy slegs bereid was om vir my klasgeld en handboeke te betaal.
As ek aan ’n universiteit buite Johannesburg wou studeer, sou my losiesgeld vir my eie rekening wees.
Ek het dus noodgedwonge by die Universiteit van Johannesburg (UJ) geregistreer: die “swart” universiteit, hoewel niemand dit hardop gesê het nie.
Van die trots-Afrikaanse RAU, waar feitlik my hele familie studeer het, is daar min oor.
In die regsfakulteit het die Afrikaanse klasse gekrimp tot minder as 40 studente, terwyl ons hele eerstejaar-politiek-klas in ’n enkele kantoor kon pas.
Halfpad deur my studie het Beeld boonop besluit om weens die krimpende leserstal die UJ-uitgawe van sy kampuskoerant te staak.
Die bedreigde status wat Afrikaanse studente vir hulself toegeëien het, het tot ’n vorm van onderlinge kameraderie gelei.
Afrikaanse studente was nooit suinig om klasnotas of toetswenke met mekaar te deel nie. Selfs die dosente het soms ’n pasellatjie in ons rigting gegooi, met die knipoog-versoek om geen woord daaroor aan die Engelse klas te rep nie.
En natuurlik het géén Afrikaanse student ooit daarvan gedroom om ’n kollega te verkla weens oneerlike gedrag nie. (waarvan daar heelwat voorvalle was).
As ek terugdink aan my jare aan die UJ wonder ek of ons nie ’n wonderlike geleentheid misgeloop het nie.
Die gemoedelike samesyn wat ek op die universiteit se Auckland Park-kampus tussen álle rasse ervaar het, het my oë laat oopgaan vir die soort Suid-Afrika wat moontlik is as mense op gelyke vlak sosialiseer.
Ek is nie ’n sosioloog nie, maar ek vermoed die swart studente wat die kampus met my gedeel het, was oorwegend kinders uit die nuwe swart middelklas. Hulle het toenemend dieselfde labels as ons gedra, dieselfde motors bestuur, na dieselfde TV-programme gekyk.
Maar ook dieselfde ambisies as ons gekoester.
Hoe meer die ooreenkomste toegeneem het hoe meer het die onderlinge agterdog verdwyn.
Een van my mooiste studente-herinneringe is van 2011, toe die UJ se eerste rugbyspan die Shimlas naelskraap in ’n Varsitybeker-kragmeting geklop het.
Die Westdene-stadion was stampvol met begeesterde ondersteuners wat in oranje getooi was en vlae geswaai het.
Die klank van geïntegreerde aanmoediging en dreunsang het my daarna weke lank bygebly.
Dit was die naaste wat ek aan ’n eietydse 1995-ervaring gekom het.
’n Besoek aan Stellenbosch is óók vir my ’n intense ervaring.
Die plek stimuleer my, inspireer my en práát met my op ’n manier wat die UJ nooit kon nie. Maar dalk verklap dit eerder iets van die hele Goudstad-kultuur as van die instelling in besonder.
Sou ek ’n ryker universiteitservaring gehad het as ek omring was deur studente wat dieselfde taal as ek praat? Miskien. Dalk sou ek meer sosiaal verkeer of meer selfvertroue gehad het.
Sou ’n Afrikaans-georiënteerde universiteit my beter voorberei het op ’n lewe en loopbaan in die nuwe Suid-Afrika?
Ek twyfel.