Pedro kry sleutel tot Broadway
2012-10-20 23:57
Van Brackenfell na Baxter na Broadway.
Die Kaapse akteur Pedro Kruger, wat nog tot die einde van die maand in Hennie van Greunen se drama Normality in die Baxter-teater in die Moederstad op die planke is, vat daarna die pad na 42nd Street, Broadway, New York.
“Dit is dié kunsadres in New York, of nee wag, eintlik in die hele wêreld,” vertel hy opgewonde.
“Ek voel ’n bietjie gespanne, opgewonde, totale ekstase... Maar dit alles het ’n deksel op. Vir nou fokus ek op die Baxter en om ’n sukses van my vertonings daar te maak.”
Kruger sê die plaaslike gehore is net so belangrik soos die Amerikaanse gehore wat op hom wag, daarom kan hy nie nou kop verloor met Broadway-drome nie.
Normality vertel die verhaal van die liefde tussen die gestremde Alex en ’n joernalis, Lisa.
“Die eerlikheid van die teks, die storie agter die teks, en dan die belangrike kommentaar wat deurentyd op gestremdheid gelewer word sonder om prekerig te klink, dra alles by tot die sukses van die drama,” sê Kruger.
Vir hom lê die groot uitdaging in New York om die Amerikaanse gehore met die karakter se eerlikheid oor te haal.
“Ek het al 26 jaar lank ’n verhouding met die plaaslike gehore opgebou. As die gordyn lig, kan ek die strome liefde van die mense af voel.
“In Amerika gaan dit amper soos ’n blind date wees. Dis my eerste ontmoeting met die gehoor daar, en ek moet hulle aan my kant kry, of daar is nie weer ’n date nie.”
Hy is egter geen onbekende op die internasionale verhoë nie.
In 2009 was hy op die Edinburgh Festival Fringe met Normality op die verhoog waar hy ook die fringereview.com-Hidden Gem-prys gewen het.
Slegs 200 eenmens-produksies van oor die hele wêreld is toe aanvaar, met Normality die eerste Suid-Afrikaanse stuk tot in daardie stadium.
Van Greunen glo dat Suid-Afrikaanse toneelstukke dit “nog groot gaan maak” op die internasionale verhoë.
“Wêreldteater het ’n tekort aan goeie stories... en ons het dit.”