Plesierig, ja

2012-10-20 23:57

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Dis seker veilig om te sê dat geen versameling van ikoniese Afrikaanse boeke volledig sal wees sonder vier titels nie: Die 1933-vertaling van die Bybel, S.J.A. de Villiers se Kook en geniet, Groot verseboek en die FAK-sangbundel.

Oor die 1933-Bybel se plek op die boekrak hoef mens seker nie te veel te redekawel nie. Ook nie mev. De Villiers se kookboek nie. Die honger mae en siele wat oor die dekades deur dié twee gevoed is, kan vir hulself spreek. Groot verseboek is oor die jare heen ’n paar keer bygewerk en die jongste beslaan ’n fris drie dele as toonbeeld van hoe fluks Afrikaanse digters oor die afgelope 100 jaar gewoeker het met die woorde.

Wat die vierde kultuurskat op die rak betref. Wel, hier het dinge ’n bietjie gestagneer, het dit nie? Sedert die eerste in 1937 verskyn het, was daar weer ’n hersiening in die Republiekjaar van 1961 en nog een in 1979. En daarna niks.

Teen die 1980’s was die boek (was daar ’n skoolklavier in die land waarop daar nie destyds een gelê het nie?) reeds ’n bietjie van ’n anachronisme. Want selfs in daardie veel onskuldiger tye het liedjies soos Japie my skapie (nr. 140) of Lief blompies in die maanskyn (nr. 305) nie juis ’n kans gestaan om Springbokradio se Top-20 te haal nie. Nie waar nie?

Maar om op dié wyse die spot te dryf met “die FAK” (niemand het ooit die “-sangbundel” deel van die titel bygevoeg nie) is dalk ’n bietjie onregverdig. Al was baie van die liedjies geweldig geforseerd en was talle blote herberymings van Europese volksliedjies, het die sangbundel tog bygedra tot “die verruiming en veredeling van die lewe en tot waardering van al wat skoon is”, soos wat die samestellers van die 1937-bundel hul idealistiese strewe verwoord het.

’n Mens wonder wat die waardige 0u here sou gedink het van die FAK-medley waarmee die Voëlvryers in 1988 nie net hul Afrikaansheid bevestig het nie, maar hulself ook gedistansieer het van Afrikanernasionalisme waarvan die FAK-sangbundel ’n ongelukkige simbool geword het. (“Siembamba, Sipho gooi klippe...”)

Ná 1994 is die FAK herontdek deur ’n nuwe geslag kunstenaars. Sommige, soos Karen Zoid (Afrikaners is plesierig) het inspirasie daaruit geput vir iets geheel en al nuut, terwyl ander bloot hul gehore se nostalgiese verlange na die “goeie ou dae” uitgebuit het.

Teen dié agtergrond is die verskyning van ’n nuwe FAK-sangbundel (bestaan die FAK nog? hoor ek iemand vra) dus sekerlik groot nuus. Die nuwe bundel – wat uiteindelik hierdie week ná vele oponthoude van die rolpers kom – is ’n interessante dierasie. Tegelyk heeltemal herkenbaar en heeltemal anders as sy voorganger.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, is gou om uit te wys dat dit verkeerd is om na die huidige sangbundel as die “nuwe” te verwys asof dit ’n heruitgawe is. Dis eerder ’n tweede volume – ’n heel nuwe boek waarin geen materiaal uit die oue herhaal word nie.

Waar die eerste volume konsentreer op “tradisionele volksmusiek” (al sou dit in baie gevalle niks meer wees as deuntjies wat van die Duitsers, Nederlanders en Engelse oorgeneem is nie!), bestaan ’n groot deel van volume 2 uit oorspronklike Afrikaanse musiek wat oor die afgelope 30 jaar geskryf is.

Soos die eerste, volg die tweede egter ook ’n baie rigiede klassifikasiestelsel. In 1979 het “Die Liefde” nog ’n belangrik genoeg plek in die volksgemoed gespeel om ingedeel te word onder twee onderafdelings: “Nooiens & Kêrels” en “Skeiding & Verlange”. (Dis natuurlik behalwe die magdom ander afdelings waaronder “Natuurskoon”, “Volk & Vaderland”, “Slaapliedere” en “Besinning”).

Deesdae is die lewe gelukkig ’n bietjie minder kompleks en hoef ons bloot te kies tussen afdelings soos “Immergroen & ­Populêr”, “Kleinkuns”, “Geestelik” en “Koorwerke”.

Dit is dus van meet af duidelik: Die behoefte van selfs die 20ste-eeuse volksvaders (en -moeders) om te kategoriseer en te kanoniseer – om te onderskei tussen “hoër” en “laer” kuns – het nie verdwyn nie.

Ek, soos vermoedelik die meeste ander potensiële kopers van die bundel, was onmiddellik geïnteresseer in die populêre liedjies in die afdelings “Immergroen” en “Kleinkuns”. Populêre Afrikaanse musiek is per slot van rekening waar dinge gebeur en die Afrikaanse musiektoneel, van folk tot rock, lyk immers radikaal anders vandag as wat dit gelyk het toe prof. Anton Hartman in die 1970’s die voorsitter van die FAK se musiekkomitee was. En is dit nie ironies dat hierdie oplewing juis begin het met Anton Goosen-hulle se musiek-en-liriek-beweging in 1979 nie – op dieselfde oomblik as wat Hartman en sy mede-professore besig was om die proewe van die vorige bundel af te teken nie! Die musiek-en-liriekers het dan juis in opstand gekom teen die oormaat vertaalde deuntjies op radio en in “die Volk” se sangbundel.

Afrikaans se beste liedjieskrywers – mense soos David Kramer (Skipskop), Anton Goosen (Kruidjie roer my nie), Koos du Plessis (Kinders van die wind), Lucas Maree (Victoriabaai), Christopher Torr (Stuur groete aan Mannetjies Roux), Jannie du Toit (’n Liedjie vir jou) en Johannes Kerkorrel (Hillbrow) is dus goed verteenwoordig. En daar is nog vele meer!

Boonop is die liedjies opgeneem met eenvoudige melodie-lyne en kitaarakkoorde sodat selfs die musikaal-agtergeblewenes kan saamsing.

Natuurlik gaan die musiek-establishment nog lank en hard stry oor wie en wat ingesluit is. ’n Mens kan nie help as om saam te stem met Anton Goosen as hy sê sommige van die keuses is “werklik raar” nie.

Goosen se eie posisie as een van Afrikaans se belangrikste liedjieskrywers van die afgelope 30 jaar word bevestig met 19 van sy komposisies wat opgeneem is. ’n Mens wonder egter dadelik of David Kramer (met net 10) nie beter verdien nie.

En waarom net twee liedjies van Les Javan (en nie eens sy gewilde Daar’s ’n lied in my hart nie)? Geen songs op Piet Botha se wonderlike album ’n Suitcase vol winter haal die paal nie en Coenie de Villiers en Mynie Grové skitter in hul afwesigheid. (Volgens Langner wou laasgenoemde twee nie toestemming gee dat hul werk ingesluit word nie.)

Die musiekjoernalis Theunis Engelbrecht som die ongemaklikheid raak op: “Hierdie is die kanon – die Groot verseboek, die “Bybel” van Afrikaanse musiek. Mens verwag dus dat jy net die beste daarin sal kry, die room van die oes. So, hoe kry vertaalde oorsese treffers, soos die liedjies van Gé Korsten, Anneli van Rooyen en Bles Bridges, ’n ereplek in dié kanon?”

Selfs as mens aanvaar dat daar ’n plek moet wees vir eens gewilde treffers soos Troepie Doepie en Osbraai op Kromdraai (al is dit nie die “room van die oes” nie) wonder mens tog hoe wys dit was om ook kunsliedere, koorwerke en geestelike musiek in dieselfde bundel in te sluit. Ek het geen twyfel dat daar ’n reusebehoefte is om goeie Afrikaanse koor- en kunsliedere meer algemeen beskikbaar te maak nie. Maar verdien dié werke nie juis daarom hul eie toegewyde bundels nie, eerder as om dit te laat meeding met Juanita du Plessis se Skarumba?

En as die werk van Jack Parow en Fokofpolisiekar en ’n magdom talentvolle Afrikaanse hiphoppers op die Kaapse Vlakte hul aanspraak op insluiting in toekomstige bundels maak – soos hulle beslis sal – hoe gaan jy die insluiting van dié skurwe ­lirieke regverdig in ’n boek wat ook geestelike musiek bevat?

Maar dít, soos hulle in die Kaap sê, is minor. Die belangrikste is dat ons weer rede het om met ’n FAK op die skoot plesierig te raak.

FAK-sangbundel: Volume II, uitgegee deur Kraal-Uitgewers, kos R450. SMS 34388 om te bestel.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-14°C Numerous showers. More sun than clouds. Cool. Pta: 7-27°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 9-21°C Sunny. Mild. Bfn: 4-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 12-23°C Partly cloudy. Mild. PE: 9-19°C Showery. More clouds than sun. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Real Estate Manager

Pietermaritzburg
Pronel Personnel Consultants Pietermaritzburg

Teachers (Qatar)

Port Elizabeth

R240 000 Per Year

Delivery Drivers

Pretoria City Centre
Mobile Recruitment
R9 000 - R10 000 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!