Private skole groei

2012-10-13 23:17

Dr. Chris van der Merwe, uitvoerende hoof van Curro Holdings. | Foto: Edrea Du Toit

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die getal Afrikaanse leerlinge wat in hul moedertaal in onafhanklike skole skoolgaan, het die laaste paar jaar skerp gestyg.

By die skole van die Curro-groep het Afrikaanse leerlinge van 350 in 2006 tot ’n verwagte 7 000 aanstaande jaar gegroei.

Die Suider-Afrikaanse vereniging van onafhanklike skole (Isasa) bevestig die groei in Afrikaanse private onderrig, veral in parallelmediumskole.

Volgens dr. Jane Hofmeyr, uitvoerende direkteur, het Isasa tien Afrikaanse en tien parallelmedium-ledeskole. Dit sluit Curro uit, wat nie lid van Isasa is nie.

“’n Beduidende getal leerlinge uit Afrikaanse families is ook in Engelse onafhanklike skole,” sê Hofmeyr.

Volgens Gerhard Keyter, hoof van die private Laerskool Jan Celliers in Johannesburg, het ouers se onsekerhede oor die gehalte van openbare onderwys hulle vanjaar beslis meer navraag laat doen oor onafhanklike skole.

Duurder skoolgeld bly egter steeds ’n faktor.

En daar is steeds talle uitstekende Afrikaanse openbare skole, soos getoon deur goeie matriekuitslae en die sukses van studente op universiteit.

Volgens dr. Chris van der Merwe, uitvoerende hoof van Curro Holdings, groei hul Afrikaanse mark aggressief, maar dit is nie hul grootste mark nie.

Dié genoteerde groep het vanjaar landwyd 16 tradisionele parallelmedium-skole met 12 500 leerlinge van wie 40% in Afrikaans skoolgaan. Nog sulke skole open aanstaande jaar in onder meer Bloemfontein en Centu­rion. By laasgenoemde is 700 leerlinge reeds ingeskryf.

Vir Engelse leerlinge het Curro twee bykomende handelsmerke: een vir duur, eksklusiewe skole, en een vir meer bekostigbare skole.

Dit is veral in laasgenoemde kategorie waar groot groei verwag word.

Volgens Van der Merwe is die kernwaardes in die Curro-groep se skole kindvriendelikheid, ’n Christelike etos, positiewe dissipline en ’n kurrikulum wat kreatiewe denke stimuleer.

Die skole lok maklik onderwysers: Sowat 6 000 onderwysers het aansoek gedoen om die 350 nuwe poste wat aanstaande jaar in die groep se onderskeie handelsmerke beskikbaar is.

Tradisionele Curro-skole het volgens hom klein klasse, ’n geborge atmosfeer wat veiligheid, stabiliteit en gehalte-onderwys meebring, en verskeie sport- en kultuurbedrywighede.

Hul skoolgeld beloop maandeliks gemiddeld R2 400 vir die ­laer grade en R3 500 in die hoërskoolgrade.

Van der Merwe sê dit is ’n werklikheid dat die demografie van tradisionele Curro-skole mettertyd die profiel van hul omgewings sal weerspieël.

Keyter sê die Laerskool Jan Celliers het die laaste paar jaar stelselmatig gegroei.

Vroeër vanjaar is die skool oorval met oproepe van ouers ná berigte dat skole in Johannesburg aanstaande jaar gedwing gaan word om Engels as enigste medium te gebruik.

Hy sê die handboekdebakel en ander onsekerhede speel ook ’n rol.

“Ons het aanstaande jaar die eerste keer vier pleks van drie gr. 1-klasse.”

Nie alle ouers kan of wil die duurder skoolgeld betaal nie.

“Maar ons het ouers wat groot opofferings maak om hul kinders hierheen te stuur, wat baie vroeg opstaan en baie ver ry.”

Vir Keyter is een van die voordele van die skool dat onderwysers nie aan bande gelê word deur die staat se kurrikulum nie.

“Solank ons aan die staat se minimum vereistes voldoen.”

Die skool bied Engels op huistaalvlak aan en van sy leerlinge gaan na afloop van hul laerskoolloopbaan na onafhanklike Engelse hoërskole.

By skole van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) is die skoolgeld vergelykbaar met dié van openbare skole – van R200 tot R1 500 per maand, sê Lucia van Wyk, uitvoerende hoof van BCVO.

BCVO-skole is in 1992 begin en het 42 skole met sowat 3?500 leerlinge. Dié skole bedien ’n spesifieke mark: Afrikaner-kultuur word bevorder en die kurrikulum word uit ’n Christelike oogpunt aangebied.

Die inhoud van die matrieks se lewensoriëntering- en letterkundeklasse verskil byvoorbeeld van die staat se kurrikulum.

Van Wyk sê hulle het verlede jaar ’n bietjie meer belangstelling as gewoonlik gehad, maar BCVO-skole se grootste getallegroei was in die 1990’s.

‘Alle ouers wil gehalte hê’

Ouers stuur hul kinders na onafhanklike skole vir “meer, beter en andersoortige (different) onderrig”.

So sê dr. Jane Hofmeyr, uitvoerende direkteur van die Suider-Afrikaanse vereniging van onafhanklike skole (Isasa).

Isasa is met 698 lede die grootste en oudste organisasie vir onafhanklike skole. Sy lidmaatskap het die afgelope vyf jaar met sowat 15% gegroei.

Hofmeyr sê die departement van basiese onderwys se syfers wys die getal onafhanklike skole het van 1 486 verlede jaar tot 1 571 vanjaar gegroei.

Dit verteenwoordig 6% van alle skole. Die getal leerlinge het in net een jaar met 24 586 tot 504 395 vanjaar gegroei.

Hofmeyr sê kenners raam egter daar is eintlik 2 500 geregistreerde onafhanklike skole, wat ’n drastiese styging is van die 518 in 1994. Onakkurate of onbygewerkte provinsiale databasisse lei volgens hulle tot ’n laer amptelike syfer.

Hofmeyr sê dié groei wys onafhanklike skole dra ál meer die staat se verantwoordelikheid om toereikende onderrig te voorsien, veral in minderbevoorregte gemeenskappe.

Die grootste groei is juis in skole wat lae tot gemiddelde skoolgeld vra. Sowat 50% van Isasa-lede se skoolgeld beloop vanjaar tussen R15 000 en R45 000 per jaar en 20% s’n R1 900 tot R15 000. Slegs 30% van Isasa-lede vra R45 000 of meer.

Hofmeyr sê die grootste groei in die onafhanklike skole-sektor is onder swart ouers, van baie arm tot baie ryk.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het in 2010 in antwoord op ’n parlementêre vraag gesê 72% van leerlinge by onafhanklike skole is swart en 58% is Afrikane.

“Soos alle ouers wil swart ouers gehalte-onderrig hê, meer individuele aandag, gesonde dissipline, ’n sterk grondslag van waardes en veral goeie onderrig in Engels, wiskunde en wetenskap.”

Privatisering nie oplossing

Afrikaanse openbare skole kan gemaklik kers vashou met die bestes in die wêreld.

Die top-skole onder hulle is net so goed indien nie beter nie as die beste onafhanklike skole.

Aan die woord is Paul Colditz en Chris Klopper, uitvoerende hoofde van onderskeidelik die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Colditz sê hy het al na baie stelsels en skole wêreldwyd gekyk: “By Afrikaanse skole is ek telkens in verwondering oor die toewyding, inisiatief, kreatiwiteit en energie wat Afrikaanse ouers, lede van beheerliggame, skoolhoofde en onderwysers aan die dag lê.

“Hier en daar is daar sal ons top-skole by sekere lande afsteek, soos met wiskunde teenoor sommige Oosterse lande.

“Maar selfs daardie lande bied nie wat oor die algemeen kragtens ’n holistiese opvoeding aan Afrikaanse kinders gebied word nie.”

Colditz sê in bruin Afrikaanse skole gaan dit beter as in die meerderheid openbare skole in Suid-Afrika, hoewel daar skole is wat nie op peil is nie.

Vir hom is privatisering op groot skaal nie ’n oplossing vir onderwys in die land nie, want daar waar die meeste probleme is, kan mense nie onafhanklike skole bekostig nie.

Verder loop Afrikaans die risiko om gereduseer toe word tot ’n “kombuistaal” sou Afrikaanse onderrig grotendeels geprivatiseer word, sê hy.

Volgens Klopper kry Afrikaanse openbare skole dit reg om ’n suksesvolle substelsel binne die groter stelsel te wees.

“Maar ons mag nooit die persepsie skep dat ons eilande vir ’n bepaalde kultuurgroep is nie.”

Hy sê dit is vir die SAOU belangrik om ’n gespreksverhouding met die ANC te hê en om sy bona fides te bewys.

Volgens Klopper is van die risiko’s vir gehalte-onderrig in Afrikaanse skole die oproepe dat skole nie mag skoolgeld vra nie, ’n tekort aan onderwysers, inbreuk op beheerliggame se magte om onderwysers aan te stel en op hul magte om beleid te bepaal oor kapasiteit, toelating, taal en godsdiens.

’n Bron uit die geledere van Afrikaanse organisasies het aan Rapport gesê planne word gemaak om oor 15 tot 25 jaar bekostigbare Afrikaanse onafhanklike skole te kan hê.

Dit sal “bekostigbaar vir werkers” moet wees en bruin ouers moet ook betrokke wees.

Een van die moontlikhede is dat kerke ’n rol moet speel.



Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
8 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 9-19°C Mostly sunny. Mild.
Jhb: 6-15°C Sunny. Cool. Bfn: 2-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-22°C Sunny. Mild. PE: 10-22°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!