Repliek: Raak liefs kwaad oor wáre ongeregtigheid
2011-11-19 17:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek was aanvanklik aangenaam verras om verlede week in Rapport Weekliks te lees dr. Marié Heese is “ernstig die bliksem in” oor die miskenning van die regte van mede- Suid-Afrikaners.
Daar is immers baie dinge in Suid-Afrika wat enige mens met ’n greintjie sin vir geregtigheid ernstig die bliksem in sou kon maak: Baie mense gaan slaap snags honger in ons land terwyl korrupsie seëvier, leiers ons geld steel en baie van die eertydse onderdrukkers rol in die geld.
Ja, die selfgeregtigheid van sommige Afrikaners wat (met die bystand van die Engelse wit kapitaliste) swart Suid-Afrikaners van hul menswaardigheid beroof het omdat hulle nie wit was nie of nie Afrikaanssprekend was nie, sou mens maklik die bliksem in kon maak.
Maar nee, die vroom en vetgevrete bekkies – wat maar net nie swart Suid-Afrikaners kan vergewe vir apartheid nie – skreeu ten hemele oor die “onreg” wat hulle nou moet ervaar, naamlik dat hul taal nie meer as die brutale, “baas van die plaas en hou jou bek”-taal by die Universiteit van Stellenbosch koning mag kraai nie.
Heese is egter, tot my skok, nie die bliksem in oor die huigelary en morele geheueverlies van sommige Afrikaners nie.
Miskien het ek dit mis, maar Heese het na wat ek kon vasstel nog nooit ’n skrywe aan die koerante gerig om te verkondig hoe die bliksem in sy is oor die onreg en onderdrukking wat in die naam van Afrikaner-Nasionalisme (en met goedpratery uit Matie-geledere) teenoor die meerderheid van ons landsburgers gepleeg is nie.
Sy was nooit deel van die struggle vir geregtigheid nie. Sy het nooit haar stem laat hoor toe Stellenbosch universiteitskoshuise rasgesegregeer gehou het nie. In haar perverse en immorele wêreld word die eertydse onderdrukkers – wat Stellenbosch as hul intellektuele tuiste geag het en bly ag – nou ewe skielik die arme slagoffers van onreg omdat hul kinders dalk hier en daar in ’n klas deels in Engels onderrig moet word.
Het die mense soos Heese dan geen skaamte nie? In watter groteske morele wêreld leef hulle?
Dis soos Duitsers wat ná die Tweede Wêreldoorlog sou kla dat hulle nou verontreg word omdat hulle gedwing word om toelatingsvereistes by hul universiteite aan te pas om dit makliker te maak vir Jode om daar te studeer.
Ag, sou hulle kon uitroep, wie gee tog om vir die ses miljoen Jode wat ons vermoor het as selfs een Duitser dalk gedwing word om in Engels of Hebreeus klas te loop!
Heese, wat in die apartheidsjare (toe ’n tweederangse skrywer nog ’n geldjie daaruit kon maak) Afrikaanse romans geskryf het, publiseer nou vanweë haar algehele toewyding aan Afrikaans (en dalk om ’n ekstra inkomstetjie te verdien vir die oudag) romans in Engels.
Toegegee, sy gooi die Rooitaal beter as wat ek kan, dalk omdat ek maar Engels moes leer by die Hoërskool Pietersburg by ’n Broederbond-Afrikaner wat ons gewaarsku het om maar hard te leer sodat “die zotters nie julle werk afvat nie”.
Maar van geregtigheid en eerlikheid en (jammer om dit nou maar in Engels te sê) just plain common decency, weet sy so min soos ’n kat van saffraan.
Dis ’n onbetwiste feit dat daar meer as 35?000 swart studente aan die UK en UWK studeer, terwyl sowat 8?000 swart studente (minder as 4?000 van hulle “African”) aan Stellenbosch studeer.
As mens aanneem dat die oorgrote meerderheid swart studente nie Stellenbosch vermy omdat dit ’n swak universiteit is of omdat ongure karakters soos Heese in die US se raad gedien het nie, is die enigste aanname wat mens kan maak dat die oorgrote meerderheid swart studente kies om nie aan Maties te studeer nie omdat dit nog gesien word as ’n dominante wit Afrikanerinstelling.
Heese – en ander taalbulle wat die morele kluts kwyt is – sou seker kon sê: “So what! Na die moer met die swart nerwe wat nie aan ons eertyds onderdrukkende taal onderdanig wil wees nie!” So ’n standpunt sou ten minste eerlik wees.
Maar om na die handjievol bruin Afrikaanssprekendes te wys wat aan Stellenbosch wil studeer en dan te beweer die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch vervreem nie die meerderheid swart Suid-Afrikaners nie, is absurd en onlogies.
Die meeste swart Suid-Afrikaners het nog nie vergeet D.F. Malan en H.F. Verwoerd en B.J. Vorster en P.W. Botha was kanseliers van daardie eertydse bakermat van fascisme nie.
Liewe dr. Heese, ek is bly jy is die bliksem in. Dis ’n eerste stap op die pad na ’n meer eties regverdigbare bestaan. Nou moet jy maar nog net leer om die bliksem in te raak vir ware ongeregtigheid wat oral om ons in ons land te bespeur is. Die hoop beskaam nie.
Mens sou natuurlik ’n begin kon maak deur te erken dit is onregverdig en onverskoonbaar dat ’n nasionale bate soos die US ’n taalbeleid volg wat dit vir die meeste swart Suid-Afrikaners (wie se ouers dalk deur Afrikaner-polisiemanne gemartel of vermoor is of in opstand gekom het teen die gedwonge leer van Afrikaans in Soweto) onmoontlik maak om daar te gaan studeer.
Sulke studente verkies meestal die soms skynheilige liberale UK bo die geskiedenis-ontkennende Maties. Nie dat ek moed het dat Heese die waarheid sal insien nie. Mens moet eers vrede maak met mens se eie aandadigheid aan die onderdrukking van mede-Suid-Afrikaners voordat mens eerlik, opreg en op ’n moreel geloofwaardige wyse met die kwessies sou kon omgaan.
En dalk sal dit help om te begin deur mens se bek en mens se beursie te laat praat deur romans te skryf in die taal wat mens voorgee om so innig lief te hê.
Prof. Pierre de Vos is ’n grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad.