Respek: 'n Duur paar verbrande skoene
2012-01-28 13:37
Met rollende oë neem Mbali my notaboek en skryf: “Okhu wrong khu write (sic).”
Wat beteken dit, vra ek.
“Om verkeerd te doen is reg.”
Dis haar en haar maats se credo.
Dis ’n warm en bedompige Vrydagmiddag en ek stap saam met Mbali en ’n paar van haar vriende in die Dorothy Nyembe-park in Soweto. Oral hang groepies jong mense rond. Die oudstes is in hul laat tienerjare; die jongstes kan nie meer as ses of sewe wees nie. Die oueres drink alkohol, die jonges gooi die leë bottels stukkend teen die rotse van ’n riviertjie wat deur die park kronkel.
Die kinders in die park drom in klein sirkels saam, bottels binne reikafstand, terwyl hulle wag dat iets gebeur. Daar is ’n konsternasie aan die oorkant van die riviertjie. Ons hardloop soontoe om te kyk wat aangaan. ’n Vet seun in ’n geel Bafana-hemp word deur vier of vyf kleiner seuns geskop. Hy ontsnap al snikkende van sy aanvallers terwyl die kleiner seuns jil. Mbali gee my ’n kyk: “Om verkeerd te doen is reg.”
Ek is in Soweto saam met vyf tieners en 24 bottels cider. Onder hulle is twee 18-jarige seuns, Bongani en Nhlanhla, en drie meisies: Rifilwe (17), Mbali (16) en haar niggie Thabisilwe, ook 16.
Thabisilwe spog by my met die twee piercings in haar tong waardeur knopies gedruk is.
Die seuns is mal daaroor, verseker sy my.
Ons is op soek na iZikhothane, die nuwe gier onder swart townshipkinders. iZikhothane is ’n mengsel van ’n modeparade, ’n danskompetisie, macho bravade en buitensporige nihilisme.
Volgens Bongani het die gier in Katlehong aan die Oos-Rand begin. Ander sê dit het van Daveyton oorgewaai. Hoe dit ook al sy, die basiese beginsels bly dieselfde. Dit gebeur op partytjies, in parke en soms selfs in die straat, sê Bongani.
“As jy R50 000 se klere dra, moet jy dit wys. Jy moet wys wie die rykste is.”
En die manier waarop jy spog, is deur na ander jong mense met geld te gaan soek. Dan volg ’n ritueel waarin jy hulle uitdaag in ’n dialoog wat bestaan uit ’n mengsel van Sotho, Zoeloe, Engels, mafia-sleng en neologismes.
“Jy vertel hulle dat hul hartseer armgatte is, lui varke. ‘Hier,’ sê jy vir hulle, ‘vat vir jou ’n paar duisend rand en gaan koop vir jou ordentlike klere.’ Intussen drink jy – J&B, Hennessy of cider. En jy dans op die maat van wilde township-house-musiek terwyl die meisies skree en jou aanmoedig.
“Dan trek jy jou skoene uit en gee jou opponent ’n ‘een-punt-vyf-klap’, ’n R1 500-hou, die waarde van jou Carvela-skoene. En hy behoort bly te wees oor daardie hou; dat jy hom so bederf. Op sy beurt probeer hy jóú beïndruk deur sy Paul Smith-hemp uit te trek en dit te skeur. Wat beteken dat jy iets meer ekstreem moet doen. So, jy gooi petrol oor jou R1 500-Carvelas en jy steek hulle aan die brand.”
En wat kry jy daaruit?
“Jy loop weg met die mooiste meisie. Want sy sien dat jy vol geld is.
“Ek het baie meisies. En ja, ek gebruik altyd ’n kondoom,” sê Bongani, wie se idee van die hemel sy weeklikse besoek aan die duurste klerewinkels is.
Hy is versot op Italiaanse handelsmerke: Carvela-skoene, Roberto Cavalli-hemde en ’n Carlucci-belt. Sy ouers, wat geskei is, betaal vir als.
Die meisies speel ook saam.
Mbali vertel sy beplan om op ’n partytjie die volgende dag R5 000 se klere te verbrand.
“My ouers vra nie vrae nie.
“Hulle weet ek dra ontwerpersklere,” sê sy, terwyl sy die waarde van haar uitrusting opsom: R1?400 vir die skoene, R400 vir die broek, ’n baadjie vir R700, ’n T-hemp vir R250 en ’n goue tand vir R1 000.
“My ouers moet dit vir my gee.
“Ek het nie gevra om gebore te wees nie.”
En waarom doen sy dit?
“Roem, pret en nog roem. Om verkeerd te doen is reg!”
Byeenkomste waarop daar so gespog word, is niks nuuts in Johannesburg nie. Dink maar aan die danskompetisies wat al dekades lank in hostelle gereël word.
Maar in daardie kompetisies ding volwasse mans mee en dis ontdaan van die blatante verbruikerskultuur van die jong iZikhothane. Die dansers spog eerder met hul klere en hul dansver- moëns en aan die einde van die aand is daar ’n ordentlike prysuitdeling vir die wenners.
Hierdie kinders is deel van die “vrye generasie”, wat apartheid net ken uit die stories van hul ouers en onderwysers. Hulle glo dis hul reg om ’n luukse lewe te kan lei.
Hul rolmodelle?
“Ons ouers was slawe van apartheid. Hulle het vir ons vryheid gesterf,” sê Bongani. Hul helde is egter nie Nelson Mandela, Steve Biko of Chris Hani nie, maar popsterre soos DJ Fresh en DJ Sbu. Die meisies bewonder Khanyi Mbau, Johannesburg se “queen of bling”. Almal hou van die sakeman Kenny “Soesji” Kunene. En nog ’n held is Julius Malema; nie vanweë sy politieke standpunte nie, maar die manier waarop hy ryk geword het.
Dis die “Coca-Cola-generasie”, sug die 45-jarige Bongani Linda in sy huis in Soweto. Linda werk al 20 jaar lank met township-kinders as deel van sy Victory Sonqoba-teatergroep.
“Hierdie generasie is baie deurmekaar. Hulle het niks wat hulle bymekaarhou nie. Vir hulle is dit net ’n kwessie van klas, styl en pret. Dis gee, gee, gee. Hulle het geen ambisie nie. Ten minste het apartheid vir my generasie ’n gedeelde visie gegee.”
Hoe verduidelik hy hierdie nihilistiese gekheid? “Dis die afwesigheid van fokus. Hulle wil ’n stem hê. Hulle wil verstaan word, maar niemand verstaan hulle nie.
“Hulle wil iets hê om mee te spog om by die samelewing te kan inskakel. Hulle wil goedkoop respek hê.”
Verlede jaar het die SAUK se Cutting Edge ’n dokumentêr oor iZikhothane gewys waarin die belang van Carvela-skoene beklemtoon is. Vier weke later het die Spitz-tak in Soweto se Ma- ponya Mall se omset met R300?000 gestyg. Die kinders het hul ouers letterlik gesmeek vir ’n paar Carvelas. Hul ouers, wat gely het onder apartheid, is maar te gewillig om vir hul kinders die goed te gee wat hulle nooit gehad het nie. Linda sê baie ouers eindig by die mashonisas, die geldskieters, om hul kinders te beïndruk en tevrede te hou.
Akademici is toenemend geïnteresseerd in die Coca-Cola-generasie. Die sielkundige Malose Langa doen navorsing aan die Universiteit van die Witwatersrand oor die kwessie: “Wat beteken dit om ’n seun te wees in die township?”
Hy sê ná 1994 het politiek uit die jeugkultuur verdwyn en klas het die belangrikste onderskeidingskenmerk geword.
Aan die een kant was daar die snelgroeiende swart middelklas, van wie baie lede uit die townships na die voorstede verhuis het. Hulle luister na YFM, gaan na private skole en hang in modieuse winkelsentrums uit. Hulle sien Carvelas en goue tande as “ghetto- kultuur”. Hulle is die amabujwa, die bourgeois.
En dan is daar die kinders wat nie uit die townships kan ontsnap nie. Dis hulle wat grootliks vir die iZikhothane-gier val.
“As ’n sielkundige vind ek die feit dat hulle daarmee spog om goed te verbrand uiters insiggewend,” sê Langa. “Daar is iets gewelddadigs in verbranding, amper iets selfvernietigends: Die onderbewuste wil homself verbrand.
“Waarskynlik is daar ’n sin van verlies wat nie op ’n openbare manier geuiter kan word nie.”
Interessant genoeg is al die kinders met wie ek praat baie hoopvol vir die toekoms. Hulle verorber die lewensverhaal van mense soos Kenny Kunene, wat van armoede tot miljoenêrstatus gevorder het.
Ons is terug in die Dorothy Nyembe-park, op soek na ’n partytjie. Naby die water kry ons ’n groepie jong seuns wat, so verseker Bongani my, beslis iZikhothane is.
’n Seun van omtrent 14 begin dans op die maat van musiek op sy selfoon, ’n dans wat wissel van vinnige, robotagtige bewegings tot die wankelende stap van ’n dronkaard.
Ons vorm ’n sirkel om hom.
Die meisies begin gil. Maar ná ’n minuut of twee is alles verby en ons loop weg, op soek na nog aksie. In die verte blink die liggies van Johannesburg. Maar hulle is vasgevang hier; gevangenes van hul eie, wilde drange.
Ons stap na ’n parkeerterrein terwyl ’n taxi met donderende luidsprekers wegry na ’n partytjie êrens anders waar daar hopelik klere verbrand word.
’n Dronk Thabisilwe steek haar tong met die piercings in die mond van ’n seun met ’n luiperdvel-hemp.
Ek vra stil-stil vir Nhlanhla hoekom hy ’n uitgewaste T-hemp en goedkoop jeans dra. “Hei, jy moet môre kom,” sê hy. “Dan dra ek my duur klere. Dan bestee ek R2 000.”
Ek het genoeg gehad en neem die tieners terug na hul huise in Dube. Die meisies klim eerste uit.
“Ek maak die kattebak oop sodat hulle hul orige cider kan uithaal. Dan sien ek hoe Nhlanhla, wat op die agtersitplek sit, die kleingeld tussen die voorsitplekke waarmee ek karwagte betaal, probeer vaslê.
“Dis om ’n sigaret te koop,” probeer hy skerm toe ek hom daaroor uittrap.
Een hartseersigaret. Maar môre, môre steek hy R2 000 se klere aan die brand. Net môre.
Fred de Vries is ’n vryskutjoernalis en skrywer.