Rigtingbedonnerd

2012-07-15 15:00

Is Afrikaners rigtingbedonnerd? Miskien. Laat vier Afrikaners om ’n tafel sit en jy sal immers vier politieke oortuigings en vier verskillende kerkverwantskappe hê. Kyk jy egter ’n bietjie nader, sal jy sien dat byna elkeen dieselfde doel het: Om waardig te oorleef en te bly voortleef as Afrikaners, verkieslik in Suid-Afrika, skryf Fred de Vries. Hieronder tipeer hy vier bekende Afrikaners...

1. Die Opportunis

Pieter Mulder

Pieter Mulder: ‘Ons gaan nooit weer die land regeer nie’

Daar is van die suiwer Afrikaner- politieke partye omtrent niks meer oor nie. Die enigste wat nog ’n rol speel, is die Vryheidsfront Plus (VF+). Dié party het in 1994 sonder die plus begin toe genl. Constand Viljoen uiteindelik afgesien het van planne om deels met behulp van die weermag vir ’n Volk­staat te stry.

In die verkiesing van 2004 het dié party net vier setels gewen. Vyf jaar later het hulle steeds op vier setels gestaan. In ’n onverwagse stap het pres. Jacob Zuma die partyleier in daardie stadium, Pieter Mulder, in 2009 tot adjunkminister van landbou, bosbou en visserye benoem.

Mulder het hangende Paul McCartney-oë, maar met sy platgekamde, kort hare laat hy jou aan ’n skoolseun dink.

“Om hier te sit as onderminister is ’n goeie manier om invloed uit te oefen as jy nie meer mag het nie,” sê Mulder.

“Dít is die debat in Afrikaner-kringe: Ons gaan nooit weer die land regeer nie; ons kan dus net sowel so goed toi-toi as wat ons kan. Sommige gaan woon in die buiteland omdat hulle dit nie meer kan vat nie. Ander isoleer hulself en sê: ‘Neuk maar aan. Dis my huis dié en moet my net nie lastig val nie.’ En nog ander probeer om in die politiek te lobby: Laat ons ’n slag kyk of ons op dié manier nog invloed kan uitoefen.”

Uiteindelik kom dit daarop neer dat as jy as wit mens in Suid-Afrika nog iets wil beteken, jy moet aanpas, sê hy. Want die swart kultuur is nou eenmaal anders. En swart mense het nóú die sê.

Hy grinnik. “En nou kan jy jou hewig daaroor ontstel of jou daarby aanpas.”

Aanpas, dus. Anders het hy nie hier gesit nie. En hy sit op ’n goeie plek, ten spyte van die regse Afrikaners wat hom nie vergewe vir hierdie knieval voor die “vyand” nie.

Want hoe kan jy nou in ’n regering sit en terselfdertyd daarbuite staan? Hoe kan jy ’n onderdeel daarvan wees en ook in die openbaar kritiek daarop uitspreek?

Mulder speel ’n gevaarlike spel. As hy faal, is dit neusie verby met sy politieke loopbaan en waarskynlik ook met sy party, die laaste Afrikaner-party. “Daardie risiko moet ek neem,” sê hy.

“Ek is ’n Afrikaner en dít sal ek altyd bly. As ek hier in Suid-Afrika myself kan wees, sal ek as ’n lojale inwoner optree. Maar as dit nie aan my gegun word nie, dan weet ek nie wat gaan gebeur nie.”

2. Die Ekstremis

Dan Roodt

Dan Roodt: ‘Afrikaners is nog altyd deur propaganda verwar’

Dainfern, aan die rand van Johannesburg, is aan die toppunt van beveiligde gemeenskappe: Dis een van die grootste, veiligste en mees groteske. Agter die muur lê ’n uitgestrekte, postmoderne Walhalla. Waar Orania ’n beskeie variant van The Truman Show is, is hierdie die luukse weergawe.

Dat Dan Roodt, die Afrikaner-aktivis, in Dainfern woon, is nie verbasend nie. Roodt geniet ’n reputasie as voorstander van politieke onafhanklikheid vir die Afrikaner. En hier voel jy ver weg van daardie dikwels verwenste swart Afrika.

Die lys beskrywings van Roodt is net so indrukwekkend as wat dit verwarrend is: skrywer, digter, uitgewer, spekulant, filosoof, nasionalis, rassis, ekstremis, anargis, libertyn, fascis, intellektueel, verleier, frankofiel, polemikus, Brittehater.

“Apartheid was miskien in ’n mate onregverdig en het vir baie mense probleme veroorsaak, maar dit was nie ’n volksmoord nie, geen misdaad teen die mensdom nie,” sê Roodt.

Apartheid, dink hy, was ’n fout. Die Afrikaners het die kolo­nialisme wat die Britte ingevoer het, verder gevoer en verantwoordelikheid vir die hele bevolking aanvaar, wit en swart.

Dit was dom. Die droom, sê Roodt, is ’n Volkstaat. “Alles van die ou Suid-Afrika, behalwe apartheid. Thabo Mbeki het gesê dat ons mekaar nodig het. Swart mense het ons miskien nodig, maar ons nie vir hulle nie.”

Toe Roodt in 1992 uit Europa na Suid-Afrika terugkeer, het hy ’n land aangetref waarin die rol van die Afrikaner vinnig aan die kwyn was. “Ons probleem is dat ons in radikale omstandighede lewe, in een van die gewelddadigste samelewings op aarde. Maar almal konformeer. Dié wat weier, word verstoot of gestigmatiseer. Dan is radikale denke nodig.”

Hy is lank gerespekteer as ’n intellektueel en denker. In sy laaste weeklikse rubriek in Rapport in Augustus 2003 het hy gepleit dat alle jong swart mans drastiese medikasie moet ontvang omdat hulle verantwoordelik is vir die meeste aanvalle, moorde en verkragtings. As eugenetikus het hy verbande gelê tussen ras, IK en kriminaliteit. Die testosteroonvlak van hierdie jong swart mans moet verlaag word, het hy gesê. Rapport het geweier om die stuk te plaas en Roodt se rubriek gestaak.

“Uiteindelik sien ek nie hoe Afrikaners in fisieke, kulturele en taalkundige opsig binne die huidige Suid-Afrika gaan oorleef nie. Maar Afrikaners beskik oor ’n geweldige vermoë om ’n eie wêreld te skep, om vir hulself te sorg. Dis net dat die wil nie nou daar is nie. Hulle is verward. Eers die apartheidspropaganda en nou weer ANC-propaganda.”

3. Die Populis

Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr: ‘Ons wil by die nuwe Suid-Afrika hoort’

Steve Hofmeyr is televisiester, glanspersoonlikheid en popsanger, maar bo alles sekerlik die beroemdste en sigbaarste Afrikaner-aktivis.

Hofmeyr, die man wat hom beywer vir die behoud van die naam Pretoria, wat eis dat die name van wit soldate wat in die Grensoorlog gesneuwel het ook op die Vryheidspark­monument moet verskyn, wat voorloop by optogte teen misdaad of plaasmoorde en beswaar maak teen die regering se “verdraaiing van die geskiedenis”.

Hy is ook die man wat ’n onderhoud en braai met pres. Jacob Zuma gehad het en wat al die k-woord in ’n liedjie gebruik het, glo as teenvoeter vir Julius Malema se “Skiet die Boer”.

Lyk na ’n bakleierige ou, hierdie Steve. “Ek weet presies hoe ver ek kan gaan,” sê hy. “Die tannies het nie ’n probleem daarmee nie. Ons het nou ’n slag ’n alfaman nodig, noudat die metroman al die sê het.”

Ja, hy is uitgeslape. Hy gebruik sy gewildheid as popster om sy status as aktivis ’n hupstoot te gee. En andersom. Maar hy is ook sjarmant, eerlik en opreg.

Hy is ’n populis, die stem van voorstedelike Afrikaners wat hou van braai en rugby, wat besorg is oor die toekoms van hul kinders, maar nie sommer die strate sal invaar nie, wat nog te sê die wapen opneem. Steve verwoord wat hulle dink.

“Dit gaan oor mense wat trots is op hul Afrikanerskap, maar wat weet dat apartheid verkeerd was. Dit is die grootste groep, ’n stewige klomp, nog steeds. Ons wil by die nuwe Suid-Afrika hoort, maar ons wil nie ons identiteit daarvoor opgee nie. Ons wil net erkenning hê vir wie ons is en wat ons tot die land bygedra het.”

Sy bekering tot die Afrikanerdom in die tweede helfte van die negentigerjare het begin toe hy besef het dat “ons in ’n hoek gedryf is. Die doelbewuste marginalisering van die Afrikaners het begin. Ons kultuur en bydrae aan die land is buite rekening gelaat.” Sedertdien beweeg Hofmeyr op plofbare terrein, waar ’n eenvoudige popliedjie of ’n blog veel meer kan losmaak as watter asembenemende gedig van Breyten Breytenbach ook al.

“Mense kom na my toe en sê: Fok, jy moet staan vir president, dan het ons weer wit oorheersing! Dan sê ek: Waarvan fokken praat jy? Wat van die 30 miljoen swart mense? Ek praat uit ’n Afrikaner-agtergrond, maar in die geheel gesien, verkies ek geregtigheid bo Afrikaner-oorheersing.”

4. Die Pragmatis

Flip Buys

Flip Buys: ‘Net ’n paar idiote dink ons is die uitverkore volk’

Een van die grootste rolspelers in terme van Afrikaner-belange is Solidariteit, ’n oorkoepelende belange-organisasie met meer as ’n dosyn subgroepe, waaronder AfriForum wat vir Julius Malema voor die hof gedaag het oor die sing van “Dubul’ iBhunu”, oftewel “Skiet die Boer”.

Die uitvoerende hoof van die vakbond en ook voorsitter van AfriForum is ’n bebaarde man van in die 40 met dun, effens gryserige hare, Flip Buys. Onder sy leiding het die ledetal van Solidariteit binne 12 jaar vervierdubbel tot 150 000.

Buys is energiek maar bedagsaam, en hy beskik oor ’n bewonderenswaardige teoretiese kennis.

“Daar doen te veel samesweringsteorieë oor die Afrikaners die ronde, oor die onheilige drie-eenheid van die NG Kerk, Broederbond en Nasionale Party. En dat ons ons as die uitverkore volk sou beskou. Ek het nog nooit ’n Afrikaner ontmoet wat só dink nie. Ja, miskien ’n paar idiote,” sê hy.

“Ek wil nie moeilik wees nie, maar die Afrikaner is te dikwels as die sondebok gesien.”

Buys takel veral die verkeerde gebruik van regstellende aksie.

Die manier waarop dit toegepas word, lei tot die beroerde dienslewering wat die oorsaak is van strate vol gate, water- en elektrisiteitsprobleme en onveiligheid. “Natuurlik kan jy nie net wit amptenare in ’n swart land hê nie. Maar as ’n vakature by die polisie nie gevul word nie omdat die enigste geskikte kandidaat wit is, kan jy nooit ’n doeltreffende polisiemag hê nie. ’n Stad funksioneer slegs goed as die amptenary goed funksioneer.”

Buys tipeer Suid-Afrika as ’n “falende staat”. Dit klink vir my na ’n ietwat oordrewe stelling: Daar is ’n parlementêre demokrasie met ’n fantastiese Grondwet, industrialisasie, grondstowwe, toerisme, top-universiteite en uitstekende infrastruktuur. Mismoedig skud hy egter sy kop. “Die vernaamste rol van ’n staat is om sy inwoners te beskerm. As ’n staat nie meer hierdie kerntaak vervul nie, is dit ’n teken van ’n falende staat.”

Apartheid kan boonop nie vir alles die skuld kry nie.

“In talle Afrika-lande wat nie iets soos apartheid geken het nie is die situasie erger. Dit sê ek nie om die stelsel te verdedig nie, maar om te toon dat sake nie so eenvoudig is dat jy al die skuld vir werkloosheid en ongelykheid op wit mense kan pak nie. Dis nie só dat ons net die swart mense uitgebuit het nie. Ons het vir hulle inrigtings gebou, universiteite en skole wat voor 1994 veel beter presteer het as nou.”

Hy kyk na my. “En nou het ons alles verloor...”

  • Hierdie is 'n verkorte uittreksel uit Fred de Vries se boek Rigtingbedonnerd: Op die spoor van die Afrikaner post '94. Die boek verskyn vandeesmaand by Tafelberg. De Vries is 'n gerekende Nederlandse joernalis en skrywer wat al vir langer as tien jaar in Suid-Afrika woon.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
33 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 10-18°C High level clouds. Mild. Pta: 2-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-19°C Morning clouds. Mild.
Dbn: 7-22°C Sunny. Mild. PE: 11-18°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Good Morning, Mr Mandela van Zelda la Grange

Good Morning, Mr Mandela vertel die uitsonderlike verhaal van hoe ’n jong vrou se lewe, oortuiginge, vooroordele en alles waarin sy eens geglo het verander is deur die grootste man van haar tyd. Nou R221. Plaas jou voorafbestelling nou!

Bespaar 25% op die gewildste 25 boeke!

Kry 25% afslag op die topverkoperboeke, wat insluit Low-Carb Living for Families, The Book Thief, How to Train Your Dragon en nog baie meer. Koop nou!

Tot 60% afslag met die opruimingsverkoping!

Bespaar tot 60% op toestelle, boeke, elektroniese ware, speelgoed, flieks en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe Afrikaanse uitreikings

Sien jy uit na die nuutse Afikaanse titels? ’n Vuurwarm verskeidenheid boeke is beskikbaar by kalahari.com. Bestel nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!