‘Roepman’ – die fliek wat 'iets met jou laat gebeur'

2011-05-14 14:44

Mense stap by voorvertonings van Roepman uit en sê daar het iets met hulle gebeur wat hulle nie verstaan nie, sê Danie Bester, vervaardiger van Roepman, een van die mees veelbesproke rolprente tot nóg toe in Afrikaans.

Bester sit nooit stil gedurende ons onderhoud nie, want hy is besig met twee ander rolprente, waarvan een Hoofmeisie is – die debuut van Morné du Toit, belowende talent van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie se rolprentskool, as regisseur.

“Krisisbestuur,” maak hy verskoning as sy telefoon die soveelste keer lui. Dit is duidelik dat hy rolprente eet, droom en slaap en dat hy baie trots is op Roepman.


Roepman, gegrond op die roman van Jan van Tonder, handel oor verlies van onskuld. Oor jong Timus, gespeel deur die 12-jarige Paul Loots, se ervarings met die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd in die 1960’s. Daarmee ontneem Bester ook die Afrikaanse rolprentbedryf van ’n nuutgevonde onskuld – ’n skielike vroom maagdelikheid wat kop uitgesteek het in prente soos Jakhalsdans en besig is om rolprentgangers opnuut van die bedryf te vervreem.

Natuurlik het ons kommersiële rolprente nodig wat die onmoontlike regkry: Om Afrikaners van hul sepies terug te lok teater toe.

Maar die gevaar bestaan dat die bedryf weer ’n Boere-Mills & Boon-gemaksone skep met flieks wat blote wyedoeksepies is – nes die rolprente van die 1970’s en 1980’s.

In Roepman is daar geen sangers wat minsaam oor skulpies op die strand mymer nie.

Inteendeel. Een van die eerste beelde is ’n kondoom wat op die water dryf.


In die Bakgat!-rolprente, waarvan Bester ook die vervaardiger was, het kondome ook ’n belangrike rol gespeel, maar in Roepman is die kondoom metafories en vestig die aard van die rolprent wat gaan volg.

Nie dat daar ’n aks vulgariteit in Roepman is nie. Dit slaan jou met ’n voorhamer en terwyl jy nog orent steier, val die volgende hou.

Want die verlies van onskuld is nie ’n tema waarmee ligtelik omgegaan moet word of langer mee gespot kan word nie. Soms moet ’n mens ’n hardebaardboodskap in mense se harspan inneuk en nie net fluister nie.

Bester erken dat hy as vervaardiger beïnvloed is deur meesterstukke soos die Poolse regisseur Krzysztof Kieslowski se Three Colours-trilogie en nog ’n rolprent oor ’n volk wat sy onskuld verloor, Sam Mendes se American Beauty.

“Ek het in my eerste kortprent, Die gevoelsorgaan, reeds oor onskuld besin. Daarin was ’n reël wat deurgaans in my kop was terwyl ons aan die draaiboek en voorproduksie van Roepman gewerk het.

“Onskuld is soos ’n traan wat teen die wond van jou siel afloop.

“En nooit weer sal jy kan sê ‘ek het regtig nie geweet nie’.”

Dieselfde geld Roepman.

Die rolprent handel oor ’n spoorweggemeenskap wat in ’n 'n rustige sluimerslaap verkeer, nes die gehore in die 1970’s en ’80’s, toe verfilmde radioverhale, televisieproduksies wat hulle as rolprente voorgedoen het en prettige musiekspele die volk gesus het.

Maar nes die hoofkarakter in Roepman mense soggens wakker moet maak vir hul skofte (vandaar die naam), ruk die rolprent gehore wakker en stuur die Afrikaanse rolprentbedryf weg van Afrikaners wat blosend plesierig is.

Dit neem gehore op dieselfde ongemaklike innerlike reis as Jans Rautenbach se Die kandidaat en Katrina van destyds. Ironies genoeg speel Roepman in dieselfde tydperk as daardie twee baanbrekerrolprente af.

Wat van diegene wat hom en sy medevervaardigers gaan uitjou as volksverraaiers wat sekere geraamtes (veral seksueel en polities) uit die kas laat tuimel?

“Daar is sekere dinge waarvan geweet moet word,” sê Bester beslis.

“Vir Afrikaanssprekendes om te ontwikkel moet ons daarvan kennis neem en daaroor besin.”

Rolprentmakers kan nie net rolprente maak wat ’n nostalgiese teruggryp is na die 1970’s of waarin jong mense vierletterwoorde gebruik en hul onskuld al vloekende verloor nie.


Maar is Bester nie ewe skuldig daaraan nie? Hy was immers verantwoordelik vir die onlangse Superhelde. “Daardie rolprente was nodig, want dit het aan jong mense ’n stem gegee,” verduidelik hy.

Dit het hulle inderdaad ook meer laat ontspan oor sekere onderwerpe soos seks, hoewel politiek nie eintlik ’n rol gespeel het nie.

Roepman haal die politiek by sonder om te preek of in ’n Julius Malema-tirade te verval. Want die wagwoord is beheersing en soberheid – ’n wegbeweeg van uitbuiting en stereotipering – iets wat Paul Eilers se getemperde regie kenmerk.

“’n Lang tydperk van voorproduksie is vir my een van die belangrikste aspekte van rolprentmaak,” sê Bester terwyl sy selfoon vir die soveelste keer soebat om ’n probleem op te los.

“Ek cast die crew nes ons akteurs cast. Ja, ek kies die beste mense vir elke funksie op ’n stel, maar dit is uiters belangrik dat die span agter die kamera mekaar ken, goed oor die weg kom, mekaar respekteer en ook ’n rapport vorm met die akteurs voor die kamera. Dit wys alles uiteindelik op die skerm.”


In daardie opsig het Bester net lof vir Eilers, asook die medevervaardigers, Piet en Sallas de Jager, wat Van Tonder se roman oorspronklik na hom toe gebring het.

“Elke aspek is maande lank deeglik voorberei en deurgepraat, van die beste akteur vir elke rol, nie noodwendig sy/haar kommersiële waarde nie, tot die musiek wat ’n integrerende deel van die rolprent is.

“En dan, wanneer die rolprent geskiet word, staan ek eenkant toe en help net as daar probleme is.”

Maar wil vervaardigers nie tog onwillekeurig by produksies inmeng nie?

Bester skud sy kop. “Nie in hierdie geval nie. Ek het probeer om die beste ouens saam met die regisseur te plaas as ’n ondersteunings-meganisme sodat hy die vryheid het om homself behoorlik uit te druk. Want ’n rolprent is vir my ’n kombinasie van al die kunste.

“Dit weerspieël ’n volk se taal, kultuur, drome en toekoms.

“En dit is waaraan ’n regisseur sy aandag ongesteurd moet gee; nie die rompslomp wat agter die skerms gebeur nie.”

Met min Afrikaanse rolprente, behalwe Jans Rautenbach s’n, is al gewaag om so kaalvuis kritiek te lewer op die kerk en die rigting waarin die Afrikaner in die 1960’s beweeg het. Maar soos Die kandidaat en Katrina takel Roepman sekere taboe-onderwerpe vreesloos.

Hy gee nie ’n duiwel om of jy van hom hou of nie en of jy geskok daar uitstrompel nie. Hy maak sekere stellings wat jou tot reaksie dwing.

Anders as soveel ander Afrikaanse rolprente vergeet jy hom nie terwyl jy jou parkeerkaartjie betaal nie.

“Die rolprent vra jou om na jouself en jou verlede te kyk,” sê Bester, “want dit wat met jou gebeur het, vorm ’n maatstaf van wie jy in die toekoms gaan wees.”

Met Roepman, soos met Ouma se slimkind en baie ander rolprente waaraan hy as vervaardiger deel gehad het, gee Bester ’n nuwe geslag regisseurs en skrywers kans om hul sê te sê.


Dalk is die bedryf te lank oorheers deur dieselfde name wat dieselfde soort rolprente oor en oor gemaak het en daarom, miskien onwillekeurig, die Afrikaanse rolprentbedryf laat stagneer het.

Baie van hulle het ook eintlik maar net verfilmde televisie gelewer en veilige stories verfilm wat die geld sou laat inrol.

Roepman laat die kondoom egter op die water dryf en dwing jou om dit uit te haal, krities te beskou en te ontleed soos ’n wafferse lid van CSI.

En daarna te besin daaroor.

Hierdie rolprent piepie skuim.

* Leon van Nierop is ’n rolprentresensent en is nou besig met Daar doer in die fliek, ’n program oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent wat op 7 Julie op kykNET begin.

* Leon van Nierop beskou Roepman as een van die vier beste Afrikaanse rolprente tot nog toe. Sy toptien is:

1. Die kandidaat – Jans Rautenbach

2. Katrina – Jans Rautenbach

3. Paljas – Katinka Heyns

4. Roepman – Paul Eilers

5. Jannie Totsiens – Jans Rautenbach

6. Fiela se kind – Katinka Heyns

7. Pappalap – Jans Rautenbach

8. Sarah – Gordon Vorster

9. Storie van Klara Viljee– Katinka Heyns

10. Daar doer in die Bosveld – Jamie Uys


- Rapport

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 15-20°C Mostly sunny. Mild. Pta: 9-24°C Afternoon clouds. Mild.
Jhb: 11-19°C Afternoon clouds. Mild. Bfn: 11-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
Dbn: 19-22°C a few tstorms. Mostly cloudy. Mild. PE: 13-16°C Heavy rain. Mostly cloudy. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!