SA kom al wéér tweede

2012-12-16 00:05

Vroeër dié maand, op 7 Desember, was dit presies ’n eeu gelede dat genl. J.B.M. Hertzog sy beroemde toespraak by De Wildt naby Pretoria gehou het.

Destyds het Hertzog die eerste minister, Louis Botha, daarvan beskuldig dat hy oormatig oorleun na die Brits-Engelsgesinde faksie van die destydse Suid-Afrikaanse Party. Hertzog het sy standpunt met die slagspreuk “Suid-Afrika eerste” saamgevat.

Sedert (en selfs vóór) De Wildt het al die toonaangewende rolspelers in die Suid-Afrikaanse politiek uitdruklik of versweë voorgegee dat hulle Suid-Afrika eerste stel en daarom egte Suid-Afrikaniste is. Die waarheid is egter dat geen oorheersende politieke groepering die afgelope eeu Suid-Afrika, by wyse van spreke, werklik “eerste” gestel het nie. ’n Suid-Afrika wat kwansuis eerste sou wees, moes telkens seksionele belange en groepe dien en ander na ’n ondergeskikte posisie uitmaneuvreer.

Veral binnelands het Hertzog nooit Suid-Afrika nie, maar die Afrikaner eerste gestel. Suid-Afrika is dus slegs eerste gestel as dit kragtens die belange en ideale van die Afrikaners ingerig is. Op die keper beskou het Hertzog Suid-Afrika dus nie eerste nie, maar tweede gestel.

Hierin was die Afrikaner-na­sionaliste geen uitsondering nie.

Tot dusver was daar drie van hierdie “Suid-Afrikanismes”. Die eerste was die Brits-Engelse Suid-Afrikanisme wat in die 1890’s aan die Kaap gevestig is met die Britse hoë kommissaris Alfred Milner as een van sy hoofaanvoerders. Sy oogmerk was ’n verenigde Brits beheerde Suid-Afrika met ’n Engelse karakter. Toe die Boere-republieke hulle daarteen verset, het dit op die Anglo-Boereoorlog uitgeloop, wat volgens Milner se doelwitte nie net die republieke nie, maar die Afrikaner self (wat Milner as ’n gedugte teenstander beskou het) moes vernietig.

Die Suid-Afrika kragtens hierdie spesie Suid-Afrikanisme was dus nie inklusief nie en het ook nie eerste gekom nie. Dit het eerder die ideologiese doelwitte van Brits-Engelse imperialisme gedien. Ná die oorlog het faktore soos ’n hoër bevolkingsaanwas en doeltreffende politieke mobilisering onder Afrikaners die Brits-Engelse Suid-Afrikanisme spoedig verongeluk.

Afrikanernasionaliste het die kans aangegryp om die einste (Brits-Engelsbeheerde) Suid-Afrika waarteen hulle hulself eens hartstogtelik verset het, nou in ’n instrument vir ’n eie Afrikaner-Suid-Afrikanisme te ontwikkel. ’n Suid-Afrikanisme wat Afrikaner-belange voorop stel sou uiteindelik die grootste gedeelte van die 20ste eeu die oorheersende faktor in die Suid-Afrikaanse politiek wees. Demografiese, ekonomiese en politieke kragte het die voorwaardes vir dié Afrikaner-Suid-Afrikanisme in die vroeë 1990’s vernietig.

Destyds was daar groot optimisme dat die nuwe orde, anders as sy voorgangers, uiteindelik ’n inklusiewe Suid-Afrika sou oplewer – veral danksy ’n liberale Grondwet. Dit het helaas nie gebeur nie, want die Suid-Afrika wat die heersende ANC nou eerste plaas, is eweneens ’n Suid-Afrika wat primêr ten behoewe van een sektor van die bevolking ingerig is. Deur die ANC-skemas soos transformasie en die nasionaal-demokratiese revolusie is dié Suid-Afrikanisme noukeurig daarop afgestem om ’n swart elite se mags­greep te verskans. Dit is ver verwyder van ’n inklusiewe Suid-Afrikanisme wat Suid-Afrika eerste stel en is soos tevore die gekaapte werktuig ten behoewe van die heersende groepering in die politiek. Soos tevore kom Suid-Afrika op sy beste weer tweede.

Die Grondwet wat veronderstel was om Suid-Afrika in sy volle omvang vir die eerste keer eerste te plaas, draal grootliks passief op die agtergrond.

Suid-Afrika het dus nog nooit eerste gekom nie. Die rede vir hierdie aanhoudende tweedekommery is dat Suid-Afrika nie in staat is om eerste te kom nie. Daarvoor is die land se bevolkingsgemeenskappe en hul belange te uiteenlopend.

Al wat wel bereikbaar is, is ’n bedeling wat die gemeenskappe met hul uiteenlopende belange en verwagtings anders as tevore en anders as nou erken en waar dit behoorlik verreken word. Onmoontlik?

Te midde van ’n staatsorde wat dramaties agteruitgaan, is die vooruitsig vir só ’n herverrekening dalk veel realistieser as wat mens dalk dink.

Prof. Koos Malan doseer publiekreg aan die Universiteit van Pretoria.



Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Lotto
Ksd: 16-18°C Numerous showers. Mostly cloudy. Mild. Pta: 8-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 9-19°C Sunny. Mild. Bfn: 9-23°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 17-29°C High level clouds. Pleasantly warm. PE: 12-20°C Rain late. Afternoon clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Financial Accountant

Cape Town Northern Suburbs
Communicate Cape Town Engineering
R16000 - R19000

Financial Accountant

Gauteng
Communicate Cape Town Engineering
R250000 - R300000

Financial Manager

Gauteng
Communicate Cape Town Engineering
R720000 - R800000

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Southern Sun - Maputo

Spend 3 nights and pay for 2 at Southern Sun - Maputo for only R4 621 per person sharing. Includes accommodation, return flights, airport taxes and airport transfers.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii 7” LCD-e-leser in kleur + R160 e-boekkoopbewys – Soos gesien op TV

Lees e-boeke, kyk na video’s en luister na musiek met hierdie ongelooflike e-leser, nou slegs R799. Koop nou.

Witwarm Weber-aanbod!

Kompakte braai van 57cm + GRATIS deksel + GRATIS visbraai vir R1299.95. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Wreck-It Ralph nou beskikbaar

Jy en jou kinders sal dol wees oor hierdie jolige avontuurpretrit van Walt Disney. Beskikbaar op DVD, Blu-ray en in 3D. Koop nou!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.