Skrif aan muur; werkers vergete

2012-09-22 23:49

Slegs 6% van werkers kan die name van die vakbondleiers wat hulle verteenwoordig, maar dié feit was die afgelope week nie hoog op die agenda van die Cosatu-kongres nie. | Foto: Felix Dlangamandla

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die ANC se toksiese binnegevegte hou Cosatu op die oomblik so besig dat hulle vergeet van die probleme van gewone lede, skryf Lizel Steenkamp.

Cosatu is in die moeilikheid.

Dié vakverbond sal waarskynlik oor ’n paar jaar terugkyk na sy pas afgelope kongres by Gallagher Estate en toegee dat ’n waterskeidingsoomblik verspeel is.

Cosatu is so besig met ANC-politiek dat hy sy eie mense – vakbondlede – toenemend versaak, maar steeds het die 3 000 afgevaardigdes in Midrand nie gesien die skrif is aan die muur nie.

Talle waarnemers – van buitelandse joernaliste, onafhanklike ontleders en oorsese gaste – het die afgelope week eerstehands beleef hoe die ANC se toksiese binnegevegte na Cosatu oorspoel sonder opregte pogings van die federasie se leierskap om dit te stuit.

Die onderliggende spanning was van Maandag af daar.

Die “warm patat”, soos Numsa se Irvin Jim na pres. Jacob Zuma se leierskap verwys, het teen Donderdagmiddag tot hewige struweling gelei toe vakbonde onder mekaar gestry het oor Cosatu se steun al dan nie vir Zuma in Mangaung.

Dit was asof die afgevaardigdes skielik vergeet het waarom hulle Midrand toe gekom het. Of miskien het hulle uit die staanspoor nie erns gehad met die helse uitdagings wat Cosatu in die gesig staar nie – waarvan die grootste hul verlore legitimiteit en vertrouensbreuk met vakbondlede in die mynsektor is.

Diegene wat in die konferensiesaal was, het gesing en gedans: sommige vir Zuma en ander vir adj.pres. Kgalema Motlanthe. Buite het groepies onder bome praatjies gemaak oor Cosatu se “Lula-oomblik”: ’n Beleid geskoei op dié van oudpres. Lula da Silva van Brasilië wat in 2006 radikale ekonomiese skuiwe geïmplementeer het om miljoene armes uit hul ellende te verlos en die ekonomie te transformeer.

Gegewe die Marikana-tragedie en die feit dat die onrus nou ook van die platinum-sektor na die goudmyne en steenkoolkontrakteurs oorspoel, sou mens verwag Zwelinzima Vavi en Kie. sal hul energie kanaliseer na dít wat veronderstel is om hul hoofprioriteit te wees: werkersake.

Maar pleks van om te praat oor die vertrouensbreuk en vervreemding tussen mynwerkers en die leiers van die National Union of Mineworkers (NUM), is Cosatu deur die ANC-magstryd meegesleur. Presies soos in 2007 in die aanloop tot Polokwane gebeur het.

Cosatu was die afgelope week só desperaat om die illusie van ’n verenigde front voor te hou dat sy topleiers Maandag binne ’n kwessie van sewe minute herkies is. Dit was dalk demokraties, maar onder gewone afgevaardiges het gerugte dik geloop van ’n agterkamer-ooreenkoms wat vóór die kongres reeds tussen die strydende Cosatu-vakbonde beklink is: Vavi se vyande sal niemand benoem om dié vurige kritikus van die Zuma-regering teen te staan nie in ruil daarvoor dat Vavi-bondgenote niemand benoem om S’dumo Dlamini (Cosatu-president en Zuma-bondgenoot) in die leiersverkiesing uit te daag nie.

Deur dié kunsmatige proses is twee vlieë skynbaar met een klap gedood: Eenheid binne Cosatu het geseëvier en die vooraf-bohaai oor die invloed wat die uitslag op die ANC-leiersverkiesing in Desember sou hê, is tydelik in die kiem gesmoor.

Maar die oorgretigheid om die voorspelde “bloedbad” tussen Vavi en Dlamini se ondersteuners af te weer en die reperkussies vir Mangaung te beperk, gaan Cosatu nog berou.

Verdeeldheid onder die pro- en anti-Zuma-groeperinge in Cosatu se topleierstruktuur gaan net vererger en die krake sal ná Mangaung ’n gapende canyon wees.

Terwyl goudmynwerkers die afgelope week in Carletonville se stof voete gestamp het vir beter salarisse en Lonmin-myners foto’s van NUM-leiers verbrand het, het afgevaardigdes in ’n lugverkoelde saal gesit en kibbel oor ideologie en agterna aan braaihoender en lamskerrie gesmul.

Daar is skaars aandag gegee aan die opname wat Cosatu vroeër vanjaar onder vakbondlede gedoen het. Dit toon 60% is ontevrede met die salarisse wat vakbondbase by die onderhandelingstafel namens hulle beding; dat vakbonde 53% van hul sake voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verloor; en dat net 6% van lede weet wie die leiers is van die vakbond waartoe hulle behoort.

Pleks om reguit te praat oor dié bevindings, wat deur Vavi as “’n ramp” bestempel is, is daar retoriese aanvalle gedoen op Suid-Afrika se miljardêrs, wit kapitaal en neo-liberaliste.

Hoewel daar in ’n deklarasie onderneem is om te werk aan die “sosiale afstand” tussen lede en vakbondbase, is dit onduidelik hóé Cosatu dit gaan regkry.

Miskien was dit voorheen in Cosatu se belang om in die ANC-alliansie te dien, maar nie meer nie.

Hoe langer Cosatu in dié onheilige genootskap bly, hoe meer lede gaan hy aan splintervakbonde afstaan. Deels omdat hy te behep is met ANC-politiek ten koste van werkersake en andersyds omdat al hoe meer vakbondlede meen hul leiers is kop in een mus met ANC-tenderpreneurs.

Maar die vakbondbase blyk nie juis bekommerd te wees oor dié persepsies nie.

Vir hulle is ’n vakbond ’n aanloopbaan na die regeringstrog – ANC-leiers soos Gwede Mantashe (sekretaris-generaal), die sakeman Cyril Ramaphosa en Motlanthe het immers almal hul tande in die NUM geslyp.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 11-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 7-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 7-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-23°C Showers late. Morning clouds. Mild. PE: 11-20°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!