Só dien LP’s SA nie

2013-02-23 23:05

Sommige sê die parlementêre proses dryf hulle tot raserny. Ander, soos die IVP-parlementslid prof. Themba Msimang, raak van verveling aan die slaap. | FOTO: Yunus Mohamed

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Mense vra dikwels hoe dit in die parlement gaan.

Ek kan diplomaties wees en sê die instelling het sy frustrerende oomblikke, of ek kan dit à la ANC-jargon versuiker en dit “uitdagings” noem. Maar om doodeerlik te wees: Die parlement kan ’n mens op die beste van tye tot raserny dryf.

Nie omdat die lede wat elke jaar R850 000 in die sak steek dikwels onbeholpe en oningelig is nie. Ook nie omdat alles so stadig gebeur nie. Ook nie omdat talle LP’s tydens vervelige debatte in die Nasionale Vergadering op hul slimfone en iPads besig is, eerder as om te luister nie.

Selfs met die ingesteldheid van “môre is nog ’n dag” kan ’n mens saamleef, ook met komiteevergaderings wat laat begin, soms met te min lede om ’n kworum te vorm.

Wat my onderkry, is dat daar ná vyf jaar se staatsredes, sittings, debatte, verhore, vergaderings, verskynings, vrae en verslae niks verander het nie. Dit is ’n geraas en ’n geblaas met min dividende.

Die toppunt van magteloosheid is om jaar ná jaar eerstehands te sien hoe ministers en staatsamptenare met spreekwoordelike moord wegkom.

Onlangse voorbeelde is Angie Motshekga (onderwys), Thulas Nxesi (openbare werke) en Lulu Xingwana (vroue en kinders).

Een rede daarvoor is dat die regerende party die parlement as ’n rubberstempel vir ANC-beleid beskou en sy LP’s vanuit Luthuli-huis beheer. Dink maar aan Nyami Booi wat in 2010 as voorsitter van die portefeuljekomitee oor verdediging gepos is omdat hy die wêreld te warm gemaak het vir Lindiwe Sisulu. So ook is Sindi Chikunga verlede jaar van voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie tot ’n adjunkminister “bevorder”, waarskynlik omdat sy haar oorsigrol te ernstig opgeneem het.

Ministers word vanuit Luthuli-huis teen robuuste parlementêre oorsig beskerm en hulle en hul amptenare weet dit. Tweedens is LP’s dikwels onvoorbereid en ontbreek die tegniese kennis om amptenare die regte vrae te vra.
Daar ís uiteraard uitsonderings, maar hulle is in die minderheid. Selfs die ANC-LP’s wat wel die durf het om tydens komiteesittings onder ministers (hul seniors in die party) in te klim, maak weinig verskil. So ook die opposisiepartye se parlementêre vrae waarin talle skandes soos Nkandla blootgelê word. Pakke verslae van die ouditeur-generaal, die openbare beskermer en departemente se eie jaarverslae toon met reëlmaat hoe ons elke jaar agteruitboer. Ja, LP’s skop ’n bohaai op, maar as die stof gaan lê het, karring ons weer aan.

Miljarde rande gaan in die staatsdiens verlore weens korrupsie, wanbestuur, onbevoegdheid en laksheid. Maar dit is nie nuus nie.

Grandiose regrukplanne vir die SAUK en die Suid-Afrikaanse Lugdiens toon weinig resultate – laasgenoemde spog met nege sulke planne sedert 2003 en ’n verlies van R14,7 miljard die afgelope dekade. Waar was ons parlementêre oorsig in dié tyd?

Nes verlede jaar sal Pravin Gordhan ons Woensdag met sy begrotingsrede waarsku teen die swak wêreldekonomie en maan almal moet spaar. Hy sal weer erken belastingbetalers kry nie waarde vir geld nie, maar terselfdertyd die strop stywer trek om die nek van die gans wat die goue eiers lê.

Departemente se begrotingsredes sal in Junie volg en die parlement met sy ANC-meerderheid sal dit aanvaar, net om teen September geskok te wees oor die miljoene wat in die 2012/’13-boekjaar vermors is.

Selfs Trevor Manuel het die afgelope week tydens die debat oor pres. Jacob Zuma se staatsrede vir LP’s gesê dis tyd om hulself reg te ruk.

“Aanspreeklikheid in die parlement is swak en die instelling misluk in die vervulling van die mees basiese oorsigrol,” het Manuel gesê. In gewone taal beteken dit LP’s doen nie waarvoor hulle betaal word nie. Hulle versaak hul plig teenoor die miljoene kiesers wat hulle daar gesit het.

Sonder dringendheid en ’n fokus op inwerkingstelling sal die nasionale ontwikkelingsplan wat onder Manuel en Cyril Rama­phosa, die ANC se adjunkleier, opgestel is, nêrens kom nie.

Benewens vir ’n houdingsverandering op alle regeringsvlakke sal LP’s departemente moet meet aan dienslewering en die toepassing van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, veral met betrekking tot die toekenning van staatstenders en verkrygingsprosedures.

Max Sisulu, speaker in die Nasionale Vergadering, het verlede week in ’n onderhoud aan Rapport gesê hy sou die parlement nie ’n “A” gee vir prestasie nie, maar die LP’s is darem nie so vrot soos ons voorgee nie. Hulle word opgelei, hulle stel belang en is pligsgetrou.

Die register van LP’s se bywoning van komitees en sittings wat deur die onderlinge partye gehou word, sal waarskynlik van die teendeel spreek – daar is verskeie LP’s (en hulle is nie net van die ANC nie) wat ek selde by vergaderings sien.

Sisulu sê partye se hoofswepe moet sorg dat hul LP’s hul vet salarisse verdien.

Hy erken vertroue in die parlement is nie wat dit moet wees nie, maar net LP’s kan die persepsies dat die instelling irrelevant is, verander.

“Daar is geleenthede vir relevante toesprake en verklarings. Die debat oor die staatsrede is ’n goeie voorbeeld. Die LP’s moet dit beter benut.”

Miskien sekondeer partye enersyds nie hul beste mense na die parlement nie en andersyds word van ANC-LP’s verwag om na Luthuli-huis se pype te dans.

Tog bly die parlement die enigste plek waar ons – die media en die publiek – onbelemmerde toegang tot staatsinligting, ministers en senior amptenare het. Dit is ook net hier waar Zuma verplig is om opposisiepartye se ongemaklike vrae te beantwoord.

Ons moet dit nie geringskat nie.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
14 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-25°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Cool. PE: 12-25°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!