So jy dink jy is 'n digter?

2013-02-09 22:13

Lizette Snyman, die poligraaf van Polokwane.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Hulle word “bose rymelaars” genoem. Brou-digters. Wannabe’s.

Mense wat op Facebook erkenning soek deur die pleeg van “gruwelgedigte”.

So sê die Matie-letterkundedosent dr. Amanda Lourens verlede week op die poësieblad Versindaba (www.versindaba. co.za).

“Sulke swak gedigte,” skryf sy, “grens aan die lees van vrouetydskrifte met suikersoet artikels. Dis so grusaam dat jy dit skoon geniet.”

Facebook het die laaste jare dié forum vir “digterlike” seggingskrag geword, met verse vol sielsuitstortings en soetsappigheid – bitter min met enige literêre waarde, erken dr. Mellet Moll, die groot indoena van Facebook-poësie, sélf.

Moll, leier van Carpe Noctem (CN), “Suid-Afrika se grootste Facebook-digtersgroep”, sê: “Daar’s seker so 3 000 Facebook-digters. As daar 50 werklik goeies is, is dit baie.

“Facebook het drie soorte digters. Die selfbejammerendes wat tussen al hul clichés graag die woorde ‘siel’ en ‘verniel’ gebruik. Die soetsappiges. Die egoïste.”

CN is die idee van Moll, ’n bedryfsingenieur en lektor van Kaapstad.

Die tweede grootste digtersgroep, Solovlug, is onder leiding van Lizette Snyman, ’n poligraaf van Polokwane.

Al lank broei daar ’n ons/julle-stryd tussen die nie-gepubliseerdes en die gepubliseerde digters.

Die internetgroepe kry die gevestigdes kort-kort voor stok. Hulle meen gepubliseerde digters en uitgewers weier om erkenning te gee aan ’n groeiende tsoenami van Facebook-“woordkuns”, dat hulle elitisties en ontoeganklik is.

Gedigte, sê hulle, is nié meer die speelveld van die gevestigdes alleen nie.

Op Versindaba, wat deur die digtersegpaar Louis Esterhuizen en Marlise Joubert bedryf word, skryf Lourens: “Waaroor ek eintlik wonder, is wat dit is wat mense laat dink hulle kan skryf as hulle hoegenaamd nie kan nie? Hoe op dees aarde is dit dan te verklaar dat volkome talentloses gedig ná gedig op Facebook plaas vir almal om te aanskou?

“Wat weet hulle van digterskap? Wat laat hulle dink hul skryfseltjies kan enigsins aan moderne gedigte verwant wees? Ek is vervaard aan’t soek na die motiverings agter verleentheidwekkende poësie.”

Joubert skryf op Versindaba: “Besinning oor wanneer ’n gedig goed of swak is, is nodig.”

Oor presies wat ’n “gedig” is, word daar al eeue lank gekibbel, sê die digter Johann de Lange.

“Vir my is daar rofweg drie kenmerke wat in verskillende verhoudings in elke gedig voorkom: Die vooropstelling van die taal, die gebruik van metafore en ander stylfigure, en ’n uitbuiting van die ritmiese aspekte van taal.

“Wanneer jy ’n gedig beoordeel, moet jy kyk wat die digter wil bereik, watter formele riglyne hy gekies het en in watter mate die gedig die absoluut beste gemaak het van daardie riglyne.”

Die digter Daniel Hugo meen “’n mens moet ’n duisend gedigte lees voordat jy vaagweg begin verstaan wat ’n gedig kan wees. Ná vyfduisend gedigte mag jy jou hand aan een waag...

“Facebook-digters beskuldig die gevestigde, boekgebundelde digters van elitisme. Dis ’n kompliment. Die digkuns is ’n elitistiese aangeleentheid.

“Waarmee die skare internet-digters hulle besig hou, is meestal outo-terapie en selfvertroeteling. Ek misgun hulle dit nie. Maar om baie van daardie skryfsels ‘gedigte’ te noem, gaan te ver.

“ ’n Gedig is ’n taalkunswerk. As jy nie respek het vir die taal waarin jy skryf nie, kan jy ook nie respek van ingeligte lesers verwag nie.”

Lourens sê sy word “bekoor deur vaardige taalaanwending, as ’n digter kommunikeer op ’n manier wat die alledaagse seggingswyse uitdaag. Die leser raak dus bewus van die woord-vakman.

“‘Swak’ is wanneer dit verveel, clichés bevat, in die taal niks nuuts bring nie. Wanneer die gedig duidelik geensins in voeling is met die tydsgees of heersende poëtiese norme nie. ’n Goeie digter weet wat en hoe ander goeie digters skryf.”

Daarenteen sê Moll sy groep “sit nie en teem oor die swak verkope van monumentale letterkundige werke nie”.

“Dit is so dat sommige skrywers se werk onafgerond is, maar ons moet in ag neem dat nie almal skryf om te publiseer nie,” sê Snyman.

“Niemand kan vaste reëls neerlê oor wat?poësie is nie. Dis die vryvlug van woorde uit die siel, sonder om te rigied te raak oor die reëls van rym, ritme en tegniek. ’n Mens verstaan soms niks van wat van die geleerde skrywers skryf nie.”

Moll meen die Afrikaanse ­poësie is in ’n penarie.

“Steeds het die uitgewers ’n probleem met Facebook-digters. Ek is al die ‘booswig van rymelaars’ genoem.

“Ek is ’n amateur. Maar niemand moet vir my sê ek weet nie wat poësie is nie. Ek koop elke nuwe Afrikaanse digbundel.

“Die digkuns is soos ’n gholfbaan. Daar’s plek vir amateurs en plek vir Ernie Els.”

Ja, almal hét plek, sê Lourens. “Maar dan moet jy nie huil oor kritiek nie. Ons moenie alle Facebook-digters oor een kam skeer nie. Daar is opkomende digters wat gretig is om te leer.”

De Lange meen ook “die huis van poësie het baie kamers. As iemand vir eie plesier skryf, is dit in orde, maar as daai mens besluit wat hy of sy skryf, is poësie, gaan dit gemeet word aan sekere standaarde.”

Volgens hom is dit moontlik dat die skrywers van “swak” poësie kommersieel suksesvoller loopbane kan hê as ernstige digters wat harder werk.

“Soos by populêre Afrikaanse musiek. Bitter min van die suksesvolle sangers kan twee ordentlike reëls aanmekaarlap, maar hulle verkoop duisende.

“Dis ’n bitter pil, maar ons moet hom maar sluk.”

spys en drank – Lizette Snyman
waar die filantroop
oor die kontinente reis
deel hy mannabrode
en kwartelvleis
met ’n bak onskuldwater
tafelgebed voor ’n maal
’n reinigingsritueel
met óf sonder halaal
waar twee of drie sit
om tafels spys en drank
word bakker- en skinkerhande
geseënd-opreg bedank
en oral waar ’n huis is
met spys en drank-gebede
word ’n eenvoudige maaltyd
’n mondvol vrede

Lewer kommentaar op hierdie artikel
69 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Lotto
Ksd: 13-20°C Afternoon clouds. Mild. Pta: 8-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 8-19°C Sunny. Mild. Bfn: 7-23°C Sunny. Mild.
Dbn: 16-27°C Sunny. Pleasantly warm. PE: 12-24°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Southern Sun - Maputo

Spend 3 nights and pay for 2 at Southern Sun - Maputo for only R4 621 per person sharing. Includes accommodation, return flights, airport taxes and airport transfers.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii 7” LCD-e-leser in kleur + R160 e-boekkoopbewys – Soos gesien op TV

Lees e-boeke, kyk na video’s en luister na musiek met hierdie ongelooflike e-leser, nou slegs R799. Koop nou.

Witwarm Weber-aanbod!

Kompakte braai van 57cm + GRATIS deksel + GRATIS visbraai vir R1299.95. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Wreck-It Ralph nou beskikbaar

Jy en jou kinders sal dol wees oor hierdie jolige avontuurpretrit van Walt Disney. Beskikbaar op DVD, Blu-ray en in 3D. Koop nou!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.