Span die seile!

2013-02-23 23:05

Op die Lord Nelson is alles moontlik. Selfs rolstoelgebruikers of mense wat met moeite loop, soos Terry Witty, kan tot in die kraaines gehys word. | Foto: pieter malan

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Dit was net ná vier in die oggend, sowat 80 seemyl (150 km) wes van Kaapstad, dat ek vir die eerste keer vrede gemaak het met die see.

Op die voordek van ’n drie-mas-seilskip in ’n tierende suidooster is daar nie baie plek om weg te kruip nie. Om ’n groot skip in dié omstandighede te seil is harde werk. Elke seilverandering het báie en stérk hande nodig.

Ek, daarenteen, is ’n legendariese vrot seeman. Wegsteek kan ek dit nie. Daar is genoeg mede-bemanningslede van vorige seevaarte wat daarvan kan getuig. Ek is onder meer daarvan oortuig dat dit steeds lewensgevaarlik is om ’n toon in die Ierse See te druk uit vrees dat jy in helderrooi sere sal uitslaan weens die industriële hoeveelhede toksiese maagsure wat ek in die bestek van ’n paar uur in dié water gestort het tydens ’n seiljagvaart van Liverpool na Frankryk.

Hulle sê selfs ’n donkie stamp nie sy kop twee keer teen dieselfde klip nie, so hoekom staan ek om halfvyf in die oggend met ’n omgekrapte maag op die dek van ’n wiegende seilskip?

Die antwoord is twee-, nee miskien drieledig. Een is ’n besete vasberadenheid om seesiekte te oorwin. Die tweede is makliker om te verduidelik. Soos Longfellow is ek ’n slagoffer van die visioene wat by my kom spook as ek oor die see uitkyk: “All the old romantic legends/ All my dreams, come back to me.”

En van al die “ou romantiese legendes” is daar min sterker as dié van die “tall ships”, die seilskepe met tradisionele reghoekseile wat hul goue eeu in die vroeë 19de eeu beleef het. So, watter romantikus kan nee sê as ’n seldsame geleentheid hom voordoen om op ’n barg (’n seilskip met drie of meer maste) in Kaapse waters te seil?

Die Lord Nelson is boonop besonders omdat dit een van slegs twee seilskepe ter wêreld is waarop mense met liggaamlike gebrek as bemanningslede saam kan seil. Dit beteken dat elke trap toegerus is met ’n rolstoelhyser en die badkamers (of “heads”, in seemanstaal) toeganklik is vir rolstoelgebruikers. Vir hardhorendes is daar gehoortoestelle en selfs ’n pratende kompas sodat blinde stuurmanne (en -vroue) koers kan hou.

Die skip behoort aan die Britse Jubilee Sailing Trust, ’n welsynsorganisasie wat in 1978 gestig is sodat mense met liggaamlike gebrek sáám met fisiek gesondes kan leer seil.

Onmoontlik? Juis nie. Om ’n skip soos die Lord Nelson (met 18 verskillende seile!) te seil is ’n spanpoging. Maak nie saak wat jou gebrek is nie, daar is iets beduidends waarmee jy kan help.

Daar is heelwat waaraan ’n landrot hom kan verwonder tydens sewe dae ter see op ’n majestueuse vaartuig soos dié. Daar is die gevoel van absolute euforie en genoegdoening as jy vir die eerste keer op die oop see voetjie vir voetjie op die bakboordkant van ’n ra (die dwarsmas) uitskuifel om ’n seil te span terwyl die wêreld onheilspellend onder jou wieg. Of die wonder van malmokke en stormvoëls wat maande lank oor die branders swerf sonder om een keer vaste grond te voel. Wat jou egter veral bybly ná ’n vaart op die Lord Nelson is die buitengewone mense.

Soos David Kapelus, wat sy nek gebreek het toe hy tydens sy diensplig op Voortrekkerhoogte in ’n swembad geduik het. Hy vertel sy pa het kort ná die ongeluk langs sy hospitaalbed kom staan en gesê: “So, het jy al besluit wat jy gaan doen? Jy kan nie jou hele lewe hier lê nie. Jy sal mal word.”

David het sy pa se raad ter harte geneem, regte gaan studeer en is vandag direkteur van die internasionale regsfirma Norton Rose, ’n belangrike borg van die Jubilee-trust.

Russell Vollmer, wat sy nek gebreek het toe hy as jong man in Sandvlei in Kaapstad geduik het om ’n seilboot te keer wat besig was om weg te dryf, vertel ’n soortgelyke storie. Sy pa het ná sy ongeluk langs hom kom sit en gesê: “Russell, ek gaan nie altyd hier wees om vir jou te sorg nie. Jy moet na jouself kyk.” Russell het ’n baie suksesvolle rekenaarspesialis geword en het selfs weer begin seil. In 2000 het hy Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele in Sydney verteenwoordig.

Jo Sidey van Portsmouth in Engeland was nege jaar gelede in ’n verskriklike motorongeluk. Sy het ’n oog verloor en hoewel sy steeds kan loop, het sy die spierfunksie in een knie heeltemal verloor en het net beperkte gebruik van die ander knie. Voor haar ongeluk was sy ’n mariene bioloog, maar daarna kon sy nie meer op navorsingsvaarte gaan nie.

Boonop het haar ongeluk haar laat besef watter hoë premie sy op menseverhoudings plaas en dat sy meer tyd met mense as met plankton wil deurbring. Amper 20 jaar ná haar studie is sy terug universiteit toe en het pas gekwalifiseer as arbeidsterapeut.

Toe ek haar vra waarom sy op die Lord Nelson seil, het ek verwag sy sal sê dis omdat sy na die see verlang – dit was immers ’n belangrike deel van haar lewe voor haar ongeluk. Tot my verbasing dink sy lank voordat sy antwoord: “Dis die mense. Dis die intense interaksie wat jy hier met ander mense ervaar.”

Miskien die inspirerendste van almal is die 43-jarige Sean O’Connell van Windsor, wes van Londen. Sean het spierdistrofie, ’n siekte wat jou spiere aftakel, en kan net met groot moeite loop. Gedurende die sewe dae op see het ek hom egter nooit die skip se stoelhysers sien gebruik nie. Selfs op die onstuimigste see sukkel hy op eie stoom teen die wiegende trappe uit.

Hy werk vir die Britse ontvanger van inkomste (“Ek erken dit nie graag nie,” sê hy laggend, “ek is bang mense raak kwaad vir my!”) en is versot op seil. Hy reken die huidige reis is sy 25ste (“Ek is nie heeltemal seker nie, ek hou nie eintlik telling nie!”) en sy volgende vaart in April is reeds bespreek.

Toe ek op die laaste dag van Sean afskeid neem met die woorde: “Dankie Sean, jy is ’n regte inspirasie,” kyk hy verbaas na my: “Baie dankie. Dis regtig gaaf. Niemand het dit nog ooit vir my gesê nie.”

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-19°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 3-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-25°C Sunny. Mild. PE: 15-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!