Stellenbosch staan vir die idee van vrees en stilswye
2009-10-04 00:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Mens kan beswaarlik Rapport-lesers kwalik neem as hulle ’n bietjie teësinnig raak oor polemiese stukke oor die taaldebat op Stellenbosch en ander voormalige “wit” universiteite.
Ek sal dit tog waardeer as lesers nog een keer vasbyt – al is dit net omdat ek beloof om nie te verval in ’n alfabetsop van A- en T-opsies nie.
Verlede week het die skrywer Marié Heese, wat pas bedank het as ’n lid van die Maties se universiteitsraad, in hierdie ruimte ’n helder en beredeneerde saak van etiese verval by die Universiteit van Stellenbosch uitgemaak.
Haar analise sorg vir onthutsende leesstof, juis omdat dit na dese nie meer saak maak aan watter kant van die groot Stellenbosse taalstryd jy staan nie. As Heese se argument water hou, is dit ’n skokkende aanklag teen Stellenbosch en sy bestuur.
Gedurende die afgelope paar jaar het dit mode geword in sommige oorde om die klein bende “taalbulle” op Stellenbosch as rassiste af te maak wat die universiteit wit wil hou en wat “transformasie” (wat dit ook mag beteken) tot elke prys teenstaan. Deesdae hoor mens selfs dat hulle van “obstruktiewe” metodes gebruik maak.
Tydens lang gesprekke met sommige van dié bulle kon ek nog geen bewyse van hierdie gewaande “rassistiese” ingesteldheid vind nie.
Wat ek wel sien, is mense wat in die tradisie van die verligting op rasionele wyse en met empiriese navorsing en syfers probeer om ’n punt te maak oor ’n saak waaroor hulle baie sterk glo. Dit is immers wat ’n mens sou verwag van mense wat spog met ’n graad of professoraat van een van die land se voorste universiteite.
Hierdie is ’n metode waarvoor ek groot waardering en respek het – juis as gevolg van die voorbeeld wat talle ikoniese lektore en professore op hierdie einste akker aan my gestel het. Ek, en baie soos ek, is hulle én Stellenbosch daarom ewige dank verskuldig.
Dit is juis om hierdie rede dat Heese se analise verlede Sondag so skokkend is. Sy beweer onder meer dat daar op die kampus van Stellenbosch ’n “kultuur heers wat kritiek smoor en teenstemme stilmaak”; een waar statistieke wat die instelling kan diskrediteer, verswyg word.
Sy skryf voorts dat een van haar mede-raadslede (dit was blykbaar Jacko Maree) reeds in Mei vanjaar by die universiteitsbestuur wou weet hoeveel dosente nie in Afrikaans kan of wil klasgee nie.
Verskoon my, maar selfs vir ’n leek soos ek lyk dit nogal na ’n kwessie wat sentraal staan in die hele debat. Die antwoord daarop, wat dit ook mag wees, blyk ewe belangrik vir die teenstanders én voorstanders van die behoud van Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch te wees.
Tog is daar ’n vreemde onwilligheid van universiteitskant om hierdie syfer bekend te maak. (’n Mens kan natuurlik raai wat die antwoord is. Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer skryf in ’n Vaste plek vir Afrikaans dat slegs 1 uit 72 Engelstalige dosente op Stellenbosch wat tussen 1994 en 2005 vir ’n kursus ingeskryf het om hul Afrikaanse vaardighede te verbeter, dié kursus bevredigend voltooi het.)
Die onwilligheid van die universiteitsowerheid om inligting soos dié met die res van ons te deel is tekenend van ’n universiteit wat nie meer bereid is om die spel volgens die reëls van rasionele debatvoering en die vrye vloei van inligting – die “idee” waarvoor Stellenbosch staan? – te speel nie.
Kortom: Dit is tekenend van ’n universiteit wat, as dit só aangaan, binnekort gaan ophou om ’n universiteit te wees.
Die afgelope week is daar selfs teenoor my gesuggereer dat die universiteitsadministrasie nie die syfers in die hande kan kry nie omdat die dekane van verskeie fakulteite weier om die inligting bekend te maak. As dit waar is, is daar ’n paar professore wat gerus hul kop in skaamte kan laat sak.
As dit nié waar is nie, hoor ons graag van hulle.
Rapport Weekliks sou sy plig versuim het as ons nie die afgelope week die Stellenbosse rektor, prof. Russel Botman, genooi het om op Heese se artikel van verlede week te reageer nie.
’n Mens moet die geleerde professor die voordeel van die twyfel gee en aanvaar dat hy te besig was om aan die versoek te voldoen. Besig om ’n verslag aan “die minister” te skryf eerder as om aan ’n openbare debat deel te neem oor ’n aanklag só skreiend soos die “etiese verval” van ’n instelling onder sy beheer.
Botman het wel onderneem om in volgende Sondag se Rapport te reageer op Heese se aantygings.
In die lig van die verwagte reaksie, laat my toe om Maree se vraag aan die universiteitsowerheid ook hier in die openbaar te herhaal: Hoeveel dosente op Stellenbosch kan of wil nie meer in Afrikaans klasgee nie?
Want dit is net met inligting soos hierdie tot ons beskikking dat ek en duisende ander oud- en huidige Maties ook op rasionele wyse aan die debat oor die toekoms van ons alma mater kan deelneem.
Dis immers soos ons geleer is.
* Pieter Malan is redakteur van Rapport Weekliks.
- Rapport