Terug in die kring van die dooies

2013-02-02 23:27

Ivan Abrahams is verbluffend as die arm skaapskeerder Koot ­Geduld.| Foto: Jesse Kramer

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Met Die laaste karretjiegraf loop Athol Fugard terug op diep spore wat hy met stukke soos The Blood Knot, Boesman and Lena en Master Harold and the Boys in die toneelwêreld getrap het.

Sy uitmergelende, maar meesleurende uitbeelding van uitsiglose armoede wys dat hy steeds op volle vaart is.

Sy jongste stuk staan viervoet geplant in kenmerkende Fugard-tematiek. Koot Geduld, patriarg van die trekarbeidergesin waaroor die drama handel, is ’n soortgenoot van Boesman. Koot is pas vrygelaat uit die tronk, waar hy beland het nadat hy sowel sy eerste as sy tweede vrou vermoor het. Hier het ons dus in teruggekeerde gedaante die gewelddadige nomade wat sy blinde, ongeformuleerde, sat woede teenoor sy ongenaakbare bestaan in houe op sy vrou laat neerreën.

Die vrygelate Koot (op verbluffende wyse deur Ivan Abrahams gespeel) vind sy kinders – Pienkies, Toek-Toek en die tweeling Outjie en Rokkies – in absolute reddeloosheid gestrand ná die afsterwe van hul ouma, wat na hulle omgesien het.

Die gesin se bestaan as “karretjiemense” – wat met donkiekarre van plaas na plaas trek om stukwerk te doen – is op ’n end. Om te oorleef moes die kinders Koot se donkies verkoop en sy karretjie as brandhout gebruik.

Die plakkerskamp is nou hul voorland, maar aan die einde van die drama kon Koot steeds nie daarin slaag om sinkplate vir ’n eie “pozzy” saam te skraap nie.

Die uitbeelding van hierdie laaste generasie karretjiemense is intiem. Hul gefolterde familielewe lewer kragtige teater op, veral Richard September in die rol van die gestremde Toek-Toek wat in ’n toneel met sy hond die gehoor in ontstellende dieptes dompel. Kim Pietersen is ook net reg as Rokkies, die afgebreekte roosknop van ’n kindvrou.

Fugard se vorige drama, The Train Driver, het afgespeel in ’n begraafplaas waar die naamlose lêplekke van “the sleeping ones” met wieldoppe eerder as grafstene gemerk is. Met Die laaste karretjiegraf plaas die dramaturg sy gehoor weer in die geselskap van die dooies, met ’n openingstoneel langs die vars graf van ouma Mieta Ackerman, wat die dood gesien het as ’n terugkeer na die aarde waarvan sy deel is.

In die metafoor wat Fugard in Die laaste karretjiegraf ontwikkel, is die dooies allermins “the sleeping ones”. Hulle is wakker. Hulle besit en beliggaam in die dood die landskap wat hulle in hul leeftyd nie kon opeis nie.

Teenoor die armstes van armes staan Sarah, ’n antropoloog wat haar magisterverhandeling oor die karretjiemense geskryf het. Sy tree die drama binne deur vir die gehoor ’n lesing te gee oor karretjiemense, ’n stuk oor-eksplisiete eksegese wat meer gepas vir Fugard se Amerikaanse gehore is as vir ’n plaaslike gehoor wat nie net vertroud is met die onderwerp nie, maar met opgewondenheid die publisiteit oor sy eerste Afrikaanse drama gevolg het.

Sarah, wat die Geduld-familie ná jare weer kom opsoek, bring skroot wat sy by hul vorige staanplek opgetel het: die snoeiskêr waarmee Koot sy tweede vrou vermoor het, ’n blikbeker soos die een waaruit ouma Mieta water gedrink het, die verwronge oorblyfsels van ’n bord waaruit dunsop geëet is. Soos die wieldoppe waarmee Simon Hanabe in The Train Driver die grafte merk, lê sy dit op ouma Mieta se graf. By die graf konfronteer sy ook vir Koot.

Hul gesprek vorm die spil waarom die drama draai. Dit blyk mettertyd dat Sarah se verwyt teenoor Koot, wat in dronkenskap sy twee vroue vermoor het, aangevuur word deur die dood van haar suster, die slagoffer van ’n motorongeluk wat deur ’n besope bestuurder veroorsaak is.

Die wyse waarop sy Koot tot verantwoording roep, is vintage-Fugard, maar dat dit gemotiveer word deur haar parogiale beheptheid met haar eie voorstedelike smart, maak dit skreiend. Daar is ook die terugflitse waartydens sy soos ’n wafferse ­Margaret Mead met kamera en bandmasjientjie etnografiese data insamel sonder blyke van introspeksie of verrekening van postkoloniale komplikasies vir haar dissipline.

Simpatieke rapport met dié karakter word verder gekortwiek deur haar oppervlakkige en sentimentele stelling dat sy haar in die geselskap van die Gedulds by mense bevind wat lyding verstaan. Op Koot se betowerde (en betowerende) vertelling van die tokkelos-agtige figuur wat in ’n visioen aan hom verskyn het, reageer sy oorbluf en uit haar diepte.

Die rol van Sarah as afgewaterde afspieëling van Roelf Visagie, wat in The Train Driver met sy eie duiwels in die begraafplaas stoei, is hierdie drama se achilleshiel. Haar verhouding met die Gedulds is landmyn-terrein en ongelukkig is die teks se voetwerk nie baie fyn nie.

Die laaste karretjiegraf is desnietenstaande ’n onmisbare teaterervaring en waardige toevoeging tot Fugard se oeuvre. Dit sal hopelik in druk uitgegee word, aangesien dit ’n voor die hand liggende aanspraakmaker op die Hertzogprys is.

Die laaste karretjiegraf in die Fugard­-teater, Kaapstad, duur tot 23 Februarie.

Belofte gestand

Die laaste karretjiegraf is ’n baie spesiale mylpaal vir Athol Fugard, Suid-Afrika se grootste dramaturg.

Dit word opgevoer in die jaar waarin hy 80 word, met ’n première in die intieme Kaapse teater wat na hom genoem is. Dit is sy eerste drama in Afrikaans, wat hy aangepak het om ’n belofte van lank gelede aan sy Afrikaanssprekende ma gestand te doen. Sy het hom voor haar dood vertel van ’n ontmoeting met ’n trekarbeider wie se vrou op die punt gestaan het om onder ’n donkiekar geboorte te gee. Sy het toe gevra dat hy eendag ’n drama oor dié mense in háár taal skryf.

Fugard, wie se bakermat die Karoo en Oos-Kaap is, woon die laaste paar jaar in San Diego.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-15°C Numerous showers. Morning clouds. Cool. Pta: 12-32°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 14-26°C Sunny. Pleasantly warm. Bfn: 7-19°C High level clouds. Mild.
Dbn: 17-35°C Showers late. Afternoon clouds. Hot. PE: 14-21°C Partly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Executive PA

Cape Town
DAV Professional Placement Group
R210 000 Per Year

Technician

Cape Winelands
Pronto Personnel Services

IT Operations Manager

Sandton
Only the Best Randburg
R480 000 - R600 000 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!