Uiteindelik is Dylan so oud soos hy klink

2011-05-28 16:51

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Robert Allen Zimmerman het Dinsdag sy 70ste verjaardag gevier.

Zimmerman het al onder verskeie name geskryf, in rolprente opgetree en veral musiek gemaak. Elston Gunn, Bob Landy, Robert Milkwood Thomas, Blind Boy Grunt, Lucky Wilbury, Jack Frost en Sergei Petrov.

Maar jy sal Zimmerman waarskynlik die beste onthou vir sy bekendste en mees invloedryke alias: Bob Dylan. Musikant, skrywer, akteur, skilder en een van die min mense wat sonder vrees vir hiperbool as ’n “lewende legende” beskryf kan word.


Wat my laat wonder: Hoe oud is Bob Dylan hierdie week?

Die naam Bob Dylan was in ’n stadium sinoniem met 1960’s-kontrakultuur, met protesliedjies en die eerste tekens van psigedeliese rock, met die Beats en die hippies, met die generasiegaping en burgerlike verset. Dit is merkwaardig dat Dylan die jeugdige simboliek wat aan sy naam gekleef het, hoegenaamd oorleef het. Dat hy die 1960’s oorleef het.

Maar hy hét. Ondanks dwelmmisbruik en ’n dramatiese motorfietsongeluk in 1966 is Bob Dylan nie jonk dood nie. Hy is ook nie verdoem tot die absurde pantomime van ewige maar toenemend meer desperate jeugdigheid wat baie van sy tydgenote gedwing was om vol te hou nie.

Hy moes natuurlik swoeg om die 1960’s en die mantel van woordvoerder van ’n generasie en jeugdige profeet af te skud. Daar was byna letterlik blood on the tracks. Gaan lees maar wat hy skryf oor die vloek van ander se verwagtings in sy uitstekende outobiografie, Chronicles, Vol. 1.

Gaan luister ook weer na Self Portrait uit 1970. Dit is sekerlik een van die mees radikale dokumente van selfontluistering en doelbewuste naam weggooi in populêre musiek. Dit is ’n album waarop hy sy eie Like a Rolling Stone as ’n melancholiese wals vertolk, ontdaan van woede en drif; en waarop hy, die geïdealiseerde rock ’n’ roll-digter, soms hele liedjies deur net “la-la-la”…

Bob Dylan is nou al 40 jaar lank op vlug uit die 1960’s uit. Sy ontsnappingsroete, sy baie vermommings en die musikale jakkalsdraaie wat hy in die proses gegooi het, bly fassinerend. Sy loopbaan het ’n skynbaar eindelose proses van herverbeelding en herontdekking geword. Daar is waarskynlik nie een Dylan-aanhanger vir wie die oorspronklike albums meer genoeg is nie. Ons leef vir die alternatiewe weergawes, vir die soms radikale hervertolkings van bekende liedjies. Ons teer op die aanhalings, toespelings en appropriasies uit ’n tydlose Amerikaanse tradisie wat sy werk deurspek.

Die tradisie waarvan hy deel is, naamlik folk en die blues, het in elk geval nie plek vir die avant garde, die heerskappy van die jeug, die wet van die generasies en die taksonomie van dekades nie. Ook nie vir “genialiteit” as ’n soort individuele bron van kreatiwiteit nie.


Dylan se kuns bestaan uit die herhaaldelike opneem en transformasie van tradisionele materiaal. Hy werk volgens ’n beginsel van aanhaal, omvorm en aangee, van love and theft, om die titel van sy meesterlike album uit 2001 aan te haal.

In Dylan se musikale verbeelding is dit nie selfversekerde jeug nie, maar bejaardheid wat die septer swaai. Dis die blinde ou blues-manne, eerder as studente en hippies wat met die duiwel konkel en die musiekwiel laat draai. Wat met profetiese versiendheid, met ’n soort inheemse “suidelike surrealisme”, praat oor God, vloede, slawerny en die wêreld se wreedhede.

Dylan se verwysingsraamwerk is meestal nie eietyds nie, maar ’n amper mitiese Amerika, ’n revolusionêre staat met ’n identiteit wat net so arbitrêr en plooibaar is as dié van Dylan self.

“It was in another lifetime, one of toil and blood / When blackness was a virtue, the road was full of mud / I came in from the wilderness, a creature void of form…” So sing hy in Shelter from the Storm. In sy beroemde studie van The Basement Tapes verwys Greil Marcus na Dylan se “invisible republic”.

Met die skalkse ironie wat so baie van sy latere werk kenmerk, noem Dylan een van sy onlangse albums Modern Times. Maar daar is weinig “modern” aan die musiek wat Dylan sedert die vroeë 1990’s maak. ’n Beter beskrywing van sy musiek en sy persona is waarskynlik te vind in die titel van ’n ander album: Time Out of Mind.

Dylan was sy tyd vooruit, maar hy was ook oud voor sy tyd. Hoeveel Dylan-aanhangers word werklik nog oortuig deur die jeugdige aanstellerigheid van Blowing in the Wind en The Times They are A-changing? En is sy ikoniese Like a Rolling Stone nie juis ’n siedende aanval op die pretensies van jeugdige eiegeregtigheid nie?

“Once upon a time you dressed so fine / You threw the bums a dime in your prime / Didn’t you?” Moet in jou tyd en jou jeug nie vertrou nie, snou Dylan haar toe.

Dis die teenpool van The Who se My Generation. Dis die blues wat sy regmatige plek in rock opneem en sigself wreek op die pretensies van “pop”…

Gaan luister ’n slag na Dylan se vroegste opnames, nog voor hy sy elektriese kitaar ingeprop het. Sy modelle is die Woodie Guthries en Leadbellies van die wêreld: dromende drifters, gehawende survivors, blues-profete. Hy dwing daardie kenmerkende stem van hom om te klink soos whisky en rook.

Ja, Bob Dylan vertolk al baie jare lank die rol van ’n 70-jarige.

In Moonshiner, ’n tradisionele liedjie wat hy vroeg in sy loopbaan opgeneem het, sing ’n 21-jarige wat sy lyf ouman hou: “And if whisky don’t kill me, then I don’t know what will.”


Meer as 40 jaar later, op die uitstekende Nettie Moore, herbesoek hy daardie stelling, maar nou met meer outentieke spore van ouderdom en oorlewing in sy stem: “They say whisky will kill ya, but I don’t think it will…”

Robert Zimmerman het hierdie week 70 jaar oud geword, oud genoeg vir sy persona Bob Dylan om nie meer te hoef vóór te gee hy is ’n ou, deurwinterde bluesman nie.

Ja, die tyd vat aan ’n man. In Po’ Boy sing Dylan: “Time and love has branded me with its claws.” Maar in Spirit on the Water nooi hy ons nogmaals uit, speels en uitdagend: “You think I’m over the hill, you think I’m past my prime? / Let me see what you got, we can have a whoppin’ good time…”

* As Desmond Painter nie musiek luister nie, doseer hy sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

- Rapport

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 6-20°C Sunny. Cool.
Jhb: 3-17°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Cool.
Dbn: 15-26°C Sunny. Mild. PE: 16-24°C Sunny. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

BMW

320d EXCLUSIVE (E90)
2009
R 269,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

NISSAN

Hardbody 2400i D-Cab Hi-Rider PU
2004
R 124,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Fifty Shades Trilogie

deur E.L. James

Romanties, bevrydend en totaal verslawend, die Fifty Shades Trilogie sal jou vermaak, verslaaf en vir altyd by bly. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.