Van Voëlvryers tot Draaitafel-jafels
2009-10-10 15:36
Dit is vanjaar die 20ste herdenking van Voëlvry – die beweging in Afrikaanse musiek waartydens skerp satire en verset in ons musikale moedertaal ’n hoogtepunt bereik het.
Die Voëlvryers het afgereken met baie ideologiese, godsdienstige en sosiale mites, taboes en praktyke waarmee die Afrikaanse jeug tot in daardie stadium gebreinspoel is.
Die ou Suid-Afrika is soos die karkas van ’n vark op ’n spitbraai oopgespalk en gedissekteer.
En toe kom die Nuwe Suid-Afrika. Ná 1994 is daar gereeld in oppervlakkige kletsprogramme en onderhoude aan die Voëlvryers gevra: “Waarteen verset julle julle nóú? Wie is die nuwe vyand?”
Dit is nou 15 jaar later en op enkele uitsonderings na – Kobus, Die Menere, Die Antwoord, Battery 9 en Koos Kombuis se Bloedrivier – klink dit of die vlymskerp satire en verset van Voëlvry nie weer op groot skaal geëwenaar is nie. Daar is selfs mense wat meen Afrikaanse musiekliefhebbers het glad nie meer ’n sintuig vir ironie en satire nie, dat hulle nie meer weet wat dit is nie. (En nee, satire is juis nié die streke van hansworse soos Thys die Bosveldklong, Leon Schuster en Wicus van der Merwe nie. Ware satiriese musiek kan nooit gemoedelik-lokaal wees nie.)
Juis daarom laat twee nuwe Afrikaanse CD’s – Thys Nywerheid se Husse met lang messe en NuL se Drie – die ore weer spits. Hier voel ’n mens weer iets van daardie anargistiese energie wat genoeg is om volksmoeders se beenhare penorent te laat staan en pastoriepiesangs ’n wip in die wors te gee.
Net ’n kykie na sommige van hul liedjies se titels laat ’n mens al besef jy het nie hier te doen met jou tipiese geborstrokte of tiener-beangsde Afrikaanse musiek nie. Die titels Fear and Loathing in Menlyn Mall, Vir funk en vaderland, Mieliepraatjies,Psychedelicossewa, Die Kortbroek-vastrap (met Marthinus van Schalkwyk se stem), God red die president en Mystic Bohemia is allesbehalwe gemoedelike songs.
Thys Nywerheid is nie die naam van ’n solosanger nie, maar van die duo Dawid Kahts en Jamie Sharpe (beter bekend as Die Draaitafel-jafel). Kahts speel ook kitaar vir NuL – die ander lede is Adriaan Pelzer, sy vrou, Mareli Minnaar, en Simon Kruger.
Hulle kom almal van Pretoria, toevallig die plek waar een van die mees klassieke satiriese Afrikaanse liedjies – Bernoldus Niemand se Snor City – hom afspeel. Thys Nywerheid betuig dan ook gepas hul hulde aan Niemand met ’n kokende weergawe van Snor City op Husse met lang messe. (Gaan kyk gerus na Snorreblom Films se video daarvan op YouTube terwyl kykNET en MK kopkrap oor of hulle dit sal uitsaai.)
“Die ruimte vir verset en sosiale kommentaar is nou groter as ooit tevore,” sê Pelzer. “Daar is lank laas soveel drooggemaak soos nou, en daar is nog nooit in so ’n kort tydjie soveel k*k aangejaag?as?in?die?laaste paar jaar nie.
“En ek praat nie net van politici nie – dis net die puntjie van die ysberg. Almal is gatvol en as gevolg van die voorbeeld wat deur die regering gestel word, haal almal hul gatvolheid op mekaar uit, wat almal nog gatvoller maak. Die situasie is besig om te sneeubal.
“Solank ons in ons two-tone-knoophemde aanhou sokkie en braai, weet almal wie ons is en sal almal nou en dan vir ons sê ons is lekker ouens as ons hulle ’n bietjie biltong score,” sê hy.
“Die beste voorbeeld van hierdie verskynsel is die feit dat die term ‘Afrikaanse musiek’ nie meer verwys na musiek waarvan die lirieke in Afrikaans geskryf is nie, maar na ’n genre – die Afrikaanse ekwivalent van Duitse oempa, begelei deur een of ander helder, oop stem wat deur ’n autotuner gegooi word. Wanneer het dit gebeur?”
Die moderne Afrikaner is tans oor die algemeen in ontkenning en beleef ’n identiteitskrisis, meen Kahts.
“Dis baie duidelik as ’n mens na die populêre kultuur kyk waar ’n romantiese ontvlugting aan die orde van die dag is. Wanneer musiek wel politieke temas takel, neem dit die vorm van idealisme en wensdenkery aan. Die beste voorbeeld is Bok van Blerk se De la Rey, wat na my mening eintlik ’n baie goeie song is, maar die oënskynlike politieke boodskap agter die liedjie is ’n blote hersenskim van ’n ruiter op ’n wit perd.
“Sulke boodskappe bied geen oplossing vir die probleme waarmee mense tans in hierdie land worstel nie en bemagtig ook nie die individu nie. Werklike vooruitgang kan dalk eers plaasvind wanneer verskillende kulture na mekaar toe uitreik en vars, nuwe klanke skep.
“Wat verset teen die stelsel betref, sit ons tans met ’n korrupte, outokratiese regime en ’n pseudo-demokrasie. Dis nie veel anders as die dae van die Groot Krokodil nie. Die rykes word steeds ryker en die armes nog armer. Die Broederbond het plek gemaak vir tokenisme en nepotisme wat geskied onder die eufemisme van regstellende aksie,” sê Kahts.
Op ’n vraag hoe hy NuL se musiek sal beskryf aan iemand wat dit nog nie gehoor het nie, sê Pelzer: “Tegnies gesproke bou ons ’n styl wat bestaan uit ’n mengelmoes van elektroniese style waarvan die meeste in industriële musiek gewortel is. Ons noem dit elektroniese revolusiemusiek. Ons styl bevat invloede van aggrotech, EBM, industrial metal en glitch.”
Thys Nywerheid is baie soos die ANC-jeugliga, antwoord Kahts as hy dieselfde vraag gevra word. “We say what we mean and we mean what we say. Basies doen ons maar net ons eie ding sonder enige agting vir huidige modes en suksesresepte. Ons jaag nie ’n spesifieke genre na nie. Ons neem enige musiekstyl, van country, kwaito, reggae, rock, punk tot gospel blues, en draai dit op sy kop.
“Ons het nie ’n Excel-spreadsheet opgetrek en ’n demografiese ontleding gedoen van die ouderdomsgroepe, geslag, ras- en kultuurgroepe wat moontlike aanhangers van ons musiek kan wees nie.
“Die laaste ding wat ons wil doen, is om nog soniese muurpapier te maak. Daar is genoeg middelmatigheid wat die ronde doen.
“Thys Nywerheid is baie spelerig en ek dink dis sentraal tot die energie van die musiek. Ek dink as Thys te ernstig sou word, sal die hele ding nie meer werk nie.
“Nadat ek die Draaitafel-jafel (Sharpe) ontmoet het, het Thys Nywerheid die beste popduet sedert Wham! geword! James is een van die beste DJ’s in die land en hy het my geleer dat turntables ’n volwaardige musiekinstrument is met net soveel soniese teksture as ’n elektriese kitaar. James kan ook baie goed sing en tussen die twee van ons kan ons amper soveel oktawe bereik soos Chris Chameleon.”
Dit blyk dat Kahts en Pelzer baie van hul idees vir liedjies uit nuusberigte kry. NuL se Mystic Bohemia het ontstaan nadat die polisie op 7 Maart 2008 klopjagte op studentekuierplekke in Stellenbosch uitgevoer het.
Die liedjie begin só: “In ’n klein studentedorp op ’n Vrydagaand het die Pote ongevraag op die studente losgebrand, ouens gebliksem en meisies betas, vir dagga gesoek in hul panties en bra’s.”
Dit eindig: “En in die loop van daardie selfde nag is vier mense vermoor, 18 vroue verkrag. Die arme polisie se hande was gebind, hulle was doenig met die dinge van ’n kind.”
Een van die treffendste liedjies op Drie is Hoëveld. “Dit is ’n sinspeling op die gedig van Toon van den Heever met (amper) dieselfde naam,” sê Pelzer. “Toe Oom Toon sy gedig geskryf het, was die Hoëveld sonder black wattles, oopgroefmyne, brak fonteine, kragstasies en Sasol-aanlegte. Die Hoëveld was soos die antitesis van die woestyn. Ewe oop, kaal en leeg, maar met volop water en weiding.”
In NuL se hande klink die eerste strofe nou só: “In die Hoëveld waar dit oop is en die hemel na swawel stink/ Waar mynhope smeulend sypel in die water wat ons drink/ Waar kuddes waaigras struikel onder massas as en roet/ Waar die son saans sak soos ’n bloederige hart in die besoedelde westergloed.”
Wat hou die toekoms in vir NuL en Thys Nywerheid? “NuL se toekomsplanne word baie gevorm deur die individue se planne,” sê Pelzer. “Ek is baie dankbaar vir elke toer wat uitwerk, want die meeste van ons moet verlof insit en dan nog bereid wees om die kosbare verlof vir ’n band-toer te gebruik. Ons het nog net een member op hierdie manier verloor.”
Wat Thys Nywerheid betref, sê Kahts: “Ons is tans besig om aan ons tweede album te werk en dit gaan ’n heeltemal ander rigting inslaan as die eerste een, maar ons wil nie nou al die aap uit die mou laat nie.
“Verder wil ons ook graag ’n anthem skryf vir rolbal. Ek voel dat daar vele liedjies oor rugby geskryf is en dit is net regverdig dat die rolbalouens ook ’n bietjie vereer word vir al die harde werk wat hulle op die rolbalbane verrig. Statistieke wys dat afgetrede rolbalspelers ’n baie korter lewensduur het as afgetrede rugbyspelers.
“Laastens sal ons ook graag so ’n klein bietjie geld wil maak met ons musiek sodat ek vir my nuwe kitaarsnare kan koop.”
- Rapport