Van koeksisters tot kreatien

2012-07-07 14:57

LJ van Zyl, 2012

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die eerste afsitterskoot klap oor net meer as twee weke vir bykans 11 000 Olimpiese hoopvolles van meer as 200 lande – en dié keer is die verskil tussen goud en silwer (en ’n wêreldrekord of net nóg ’n tyd, afstand of hoogte) die kleinste tot nog toe.

Só sê prof. Ernst Krüger, direkteur van die Instituut vir Sportnavorsing by die Universiteit van Pretoria.

“Dit wat gister vir ’n atleet gewerk het, is vandag nie goed genoeg nie en sal môre beslis nie meer deug nie,” meen hy.

“Ons sien al hoe minder wêreldrekords spat, want daar is eenvoudig ál hoe minder te kies tussen die voorste atlete.”

Volgens hom is die tegnologiese vooruitgang in afrigtingsmetodes, dieet, sportsielkunde en geriewe deels hiervoor verantwoordelik.

“Die ou wat nou langs jou in die wegspringblokke sak, oefen op dieselfde manier, volg dieselfde dieet en het waarskynlik net soveel natuurlike talent as jy,” sê Kruger.

“Ja, jy kan nie van ’n donkie ’n July-wenner maak nie, maar waar talent 30 jaar gelede die bepalende faktor was, moet ’n atleet vandag soveel meer insit om daardie breukdeel van ’n sekonde vinniger te wees.”

Wat verg dit dan deesdae om ’n wêreldrekord te kan opstel?

Voorbereiding


Volgens Terseus Liebenberg, die land se voorste spiesgooi-afrigter, is dit nie meer net ’n geval van hoeveel ’n atleet oefen nie, maar hóé hy voorberei.
“Jy kan ál die regte dinge doen, maar as jy dit op die verkeerde tyd doen, help dit niks,” sê hy.

Liebenberg was Marius Corbett se afrigter toe dié Potchefstromer in 1997 op die Wêreldkampioenskap in Athene teen alle verwagtinge in met ’n reuse-afstand van 88,40 m gewen het.

“Die sleutel is om jou só voor te berei dat jy op die dag van jou deelname fisiek, tegnies, emosioneel en geestelik 100% gereed sal wees,” sê Liebenberg.
“As dié dinge nie almal bymekaarkom nie, het jy moeilikheid.”

Die viermalige Olimpiese kampioen Michael Johnson is dit met Liebenberg eens. Volgens dié Amerikaner is die onlangse insinking van die “eens onoorwinlike” Usain Bolt juis toe te skryf aan sy gebrekkige oefenmetodes en tegniek.

Bolt, die wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen in die 100 m en 200 m, is die afgelope week die eerste keer geklop toe sy Jamaikaanse landgenoot Yohan Blake in Kingston vir hom in albei dié items hakskene gewys het.

“Usain sal dringend sy oefenmetodes en tegniek moet hersien, want ek glo hy hét wat dit verg om die 100 m in Londen in 9.40 sek. te hardloop,” het John­son aan die Laureus-sportstigting gesê.

Die regte dieet

Volgens Shelly Meltzer kan drome van glorie egter nie net op die oefenbaan nie, maar ook om die eetkamertafel verpletter word.

Meltzer, hoof van dieetkunde by die Suid-Afrikaanse sportwetenskapinstituut, is reeds die afgelope 25 jaar betrokke by die land se topatlete, maar tog is hul eetgewoontes “maar onlangs eers” as ’n faktor in prestasie beskou.

“Daar is die laaste paar jaar geweldig vooruitgang gemaak in die manier waarop voeding en sport beskou word,” sê Meltzer.

“Vroeër was daar ’n dieet vir oefen en ’n ander vir deelname, maar ons besef nou die verskillende stadiums van ’n atleet se voorbereiding stel uiteenlopende eise aan sy liggaam.”

Volgens Meltzer geld dieselfde boonop wanneer ’n atleet deelneem én tydens die herstelproses.

“Dít verskil weer van atleet tot atleet en na gelang van die items waaraan hy deelneem. ’n Gimnas het radikaal ander voedingsbehoeftes as ’n duiker of ’n middelafstandatleet.

“Daar is soveel veranderlikes dat dit noodsaaklik is om dít wat jy wel kan beheer, te beheer.”

Sielkunde

Atlete se “innerlike stryd” is een van dié “beheerbares”, glo dr. Henning Gericke, die Springbokke se sportsielkundige toe dié span die Webb Ellis-trofee in 2007 die tweede keer verower het.

“Atlete se grootste geestelike uitdaging vandag is om die enorme verwagtinge en druk te hanteer. Dié druk is nêrens groter as by die Olimpiese Spele nie,” sê hy.

“Anders as met spansporte soos rugby en krieket is ’n atleet net op homself aangewese. Jou kop kan ’n bitter eensame plek word as jy eers in jou eie vermoëns begin twyfel.”

Volgens Gericke kleef daar in Suid-Afrika nog ’n stigma aan die term sportsielkunde. “Mense dink jy sien ’n sielkundige net wanneer jy ’n probleem het.

“Die res van die wêreld is ons ligjare voor,” sê hy.

“Die Australiese Olimpiese span gaan byvoorbeeld aparte hotelkamers hê in Londen waar sy atlete dag en nag visualiseringsoefeninge kan doen.”

Gericke sê elke atleet voer deurgaans ’n innerlike stryd, maar elkeen hanteer dit anders.

“Die een ding wat ál die beste sportmanne en -vroue gemeen het, is hul vermoë om daardie innerlike stryd te wen.”

Tegnologie

Op geen ander gebied is die tegnologiese vooruitgang méér sigbaar nie as by geriewe en toerusting, sê Toby Sutcliffe, uitvoerende hoof van die hoëprestasiesentrum in Pretoria.

“Twintig jaar gelede het mense gelag vir die idee dat sport ’n presiese wetenskap sou word of dat wat ’n atleet dra sy loopbaan kan verwoes,” sê Sutclife.

“Die Britte het pas ’n fietsry-skoen bekend gestel wat minder weeg as ’n vel papier.

“Verskeie deelnemers gaan in Londen aantree in ’n nuwe vollyf-pak waarvan die ontwerp op sogenaamde gholfbal-tegnologie geskoei is.

“Dié pakke bevat duisende duikies wat windweerstand verminder en is soortgelyk aan die opspraakwekkende swempakke wat by 2008 se Spele in Beijing gebruik en later verbied is,” sê Sutcliffe.

“Dié pak sal glo soveel as 0.023 sek. van ’n 100 m-atleet se tyd sny.

“In Beijing was die verskil tussen die tweede en derde plek in dié item net 0.020 sek.”

Plafon is naby

Volgens Krüger is die dae van wêreldrekords wat “verpletter” word, finaal verby.

“Die menslike liggaam is tot net sóveel in staat en kenners meen ons gaan binnekort die punt bereik waar atlete eenvoudig net nie meer vinniger, hoër en verder kán nie,” sê hy.

“Ek twyfel of ons in ons leeftyd iemand sal sien wat die 100?m in ses of sewe sekondes afblits, maar dan het kenners ’n paar dekades gelede ook gesê dis onmoontlik om die myl in minder as vier minute af te lê.”

Suiker, koffie, R5 en ’n blikstem


Koeksisters en koffie was sy “kreatien” en ’n Duitse blikstem sy kopdokter, maar Gert Potgieter, Suid-Afrika se atleet van die 20ste eeu en ’n driemalige wêreldrekordhouer in die (destydse) 440 treë-hekkies, was sy teenstanders “ligjare vooruit”.
“Baie van die ander atlete was verbaas oor hoe min ek geoefen het in vergelyking met hulle,” sê die 75-jarige Potgieter, wat dié rekord in 1957 in Queenstown, in 1958 in Cardiff en weer in 1960 in Bloemfontein geslaan het.
“Voor ’n wedloop het ek baie suiker ingeneem en my teenstanders was altyd verstom as ek agterna vir hulle sê my geheim is koeksisters,” sê hy.
“’n Sterk koppie koffie was die naaste wat ek aan ’n aanvulling of ’n opkikker gekom het.”
Selfs die gróót internasionale byeenkomste is op grond- en grasbane gehou, sê hy. “Die staalspykers onderaan my skoene was lank genoeg om jou te deurboor en as ek reg onthou het só ’n paar destyds omtrent R3 gekos.”
En hy moes self daarvoor opdok – wat nie maklik was vir ’n jong polisieman nie.
“Ek het eenkeer R5 se petrolgeld gekry om in Kaapstad te gaan deelneem en die volgende dag was dit voorbladnuus,” sê Potgieter.
“My Duitse afrigter was die naaste wat ek aan ’n sportsielkundige gekom het, maar daar was nie geld vir hom om saam oorsee te gaan nie.
“Hy sou vir my ’n ou bandspeler en ’n kasset met sy stem op saamstuur waarna ek moes luister die aand voor my wedloop. Só het hy my moed ingepraat.”

Gee hom nog broccoli en pampoen

Rooivleis en brood is sy dood, maar as LJ van Zyl ’n ernstig aanspraak wil maak op ’n medalje in Londen is broccoli en pampoen vir minstens die volgende paar maande sy voorland.
Van Zyl (27) is die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 400?m-hekkies, ’n driemalige Afrika-kampioen en een van die land se blinkste podium-kandidate.
“Vandag kán jy ’n bestaan maak uit atletiek, mits jy een van die topatlete in die wêreld is,” sê Van Zyl.
“As ek nou ’n groot byeenkoms wen, kan ek tot $10 000 (nagenoeg R80 000) verdien en ek is boonop bevoorreg om ongelooflike borge te hê.”
Tog is die opofferings groot, sê hy.
“Ek bring minstens vier uur elke dag op die oefenbaan deur, is twee keer per week in die gimnasium én by ’n fisioterapeut en ek doen gespesialiseerde spoed- en uithouvermoë-oefeninge.”
Irvette van Blerk, sy verloofde en Olimpiese spanmaat, hou boonop ’n wakende oog oor sy eetgewoontes. “Ek hou baie van rooivleis en brood, maar ek moet wegbly daarvan, want ek kan nie bekostig om nou gewig op te tel nie.
“Suiker is úít en ek dwing myself om genoeg groente soos broccoli en pampoen in te kry.”
Hy het vroeër kreatien gebruik, maar het dit intussen deur ’n nuwe voedselaanvulling vervang. Sy eiesoortige spykerskoene “weeg amper niks” en word spesiaal vir hom deur Adidas gemaak.
“Ek het onlangs vir die eerste keer na ’n sportsielkundige gegaan,” sê Van Zyl.
“Elke atleet twyfel soms in sy vermoëns en dis goed om raad en perspektief te kry.”

Syfers

29 jaar gelede is die oudste bestaande wêreldrekord opgestel: die 1:53.28 sek. wat die Tsjeg Jarmila Kratoch- vilova in 1983 in München in die 800?m vir vroue afgeblits het.

9.58 Dit is Usain Bolt van Jamaika se wêreldrekord in die 100?m vir mans.

18
Die getal kere wat daar sedert 1891 verbeter is op die wêreldrekord in die 100?m vir mans. Net vyf hiervan was in die 21ste eeu.

20 wêreldrekords behoort tans aan Keniane – meer as enige ander land, terwyl nóg twee binnekort deur die wêreldbeheerliggaam bekragtig sal word.

35 Dit is hoeveel keer die Oekraïne se Sergei Bubka die wêreldrekord vir manspaalspring geslaan het. Hy was ook die eerste deelnemer wat 6?m oorgesteek het en is die enigste wat al hoër as 6,10?m gespring het.

104.80 meter was die afstand wat die Duitse spiesgooier Uwe Hohn in 1984 behaal het. Dié poging beland byna in die skare en dwing atletiekbase om te herbesin oor die spies se ontwerp en die reëls van dié item.

3:59.4 Dié tyd het op 6 Mei 1954 Brittanje se Roger Bannister die eerste man gemaak wat die myl (1,6?km) in minder as vier minute afgelê het.

1984
Dit is wanneer laas ’n wêreldrekord aan ’n Suid-Afrikaner “behoort” het toe die 17-jarige Zola Budd in die 5?000?m vir vroue in Stellenbosch met ’n tyd van 15:01.83 gewen het. Weens die land se internasionale isolasie is dié rekord nooit deur die internasionale atletiekvereniging (IAAF) erken nie.

14:48.07 Dit was ’n jaar later Budd se nuwe rekordtyd in die 5?000?m. Dis wél erken, maar toe het Budd reeds vir Brittanje deelgeneem.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-16°C Rain showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-13°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-10°C Sunny. Cool.
Dbn: 10-18°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-18°C Rain early. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!