Verkrag se donker lied

2010-08-21 12:52

Verkrag teken 'n bewonderaar se bors by 'n metal-partytjie in Boksburg. Foto: Johannes de Villiers

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Thibaultstraat is ’n valerige pad in Boksburg-Noord, vol masjineriewinkels en handelaars in tweedehandse voertuie.
In die jaart agter een van dié voertuighandelaars is ’n kroeg genaamd The Black Dahlia en daar kom mense in swart klere soms bymekaar om na metal-musiek te luister.

Twee Sondagaande gelede het ’n beroemde black metal-rocker met die naam Verkrag by The Black Dahlia gekuier om eksemplare van sy CD 13 Victims te onderteken en te luister hoe vyf metal-bands musiek maak.

Black metal is ’n subgenre van heavy metal. Dit bestaan meestal uit ouens wat dink ander vorme van metal is nie intens genoeg nie. Black metal word gekenmerk deur harde tromme, harde kitare en sangers wat in hoë, kras stemme brul (vir oningewydes: dink aan die klank van ’n hond met iets wat in sy keel vassit). Hul lirieke gaan meestal oor geweld, seks en godsdiens.

Dié Sondagaand se geleentheid, The Best of Bass 2, was volgens Sash Northey, die organiseerder, ’n geleentheid om “vyf bands met f****n briljante baskitaarspelers” te laat optree. Daar sou ook ’n modevertoning wees en Verkrag sou CD’s teken.

Verkrag self kom van Bloemfontein. Hy is ’n besonder suksesvolle eenman-groep met aanhangers regoor die wêreld, van Noorweë tot Kanada.

In die black metal-genre onderskei hy hom deur veral oor seksuele geweld te sing. Hy sing sy jongste album vanuit die perspektief van ’n kindermolesteerder wat in ’n sielkundige inrigting sit en oor sy lewe terugdink. Die CD-omslag bevat foto’s van bloedbedekte halfgeklede vroue. ’n Tipiese uittreksel (in dié geval uit ’n liedjie genaamd Little Girls) lui:

“You scream and cry and beg and plead/ You scream for mommy and daddy/ You scream for me to let you go/ Just to let me lick your ****”

Hoe bestaan so iets in Suid-Afrika sonder dat die meeste mense ooit daarvan gehoor het?

Dit is maar een van daardie dinge dat black metal in Suid-Afrika nie veel aandag kry nie, het Sash voor dié Sondagaand se verrigtinge in The Black Dahlia vertel. “Ons kry nie ons video’s op TV nie.”

Gevolglik is ouens soos Verkrag veel beroemder in die buiteland as hier. Verkrag het al saam met die bekende Noorse groep Wrath Passion musiek opgeneem. (Noorse aanhangers spreek sy naam “Weerkraagh” uit.) Onlangs het hy saam met ’n groep van Malta ’n snit opgeneem. En op MySpace het hy byna 17 000 aanhangers, meestal uit die VSA en Kanada (in ’n musiekgenre waar die mees suksesvolle groepe maar so 80 000 aanhangers het).

Sy regte naam is Anton van Niekerk en bedags is hy ’n grafiese kunstenaar. Hy maak sy musiek stoksielalleen: Speel die instrumente self en voeg dit dan stuk-stuk elektronies aanmekaar.

Teen die tyd dat Verkrag dié aand so 18:30 by The Black Dahlia opgedaag het, was daar reeds ’n paar mense wat vir die modevertoning gereed gemaak het. Die modelle was meisies in korsette wat amper pynlik styf gelyk het, leerstewels en rompies so kort dat ’n mens soms die keep aan die onderkant van hul boude kon sien.

Verkrag was geklee in ’n swart leerbroek met metaalklampe, ’n swart en rooi top en ’n leerband met spykers om sy boarm. Hy het gitswart hare en ’n lang (seker so 10 cm) bokbaard.

“In Bloemfontein trek ek bedags net ’n metal T-shirt en jeans aan,” het hy vertel. “Mense sê nie iets nie, maar jy voel die oë op jou. Tannies sleep hul dogtertjies weg as hulle jou sien nader kom. Nou die dag het ek klere gekoop, toe sien ek ’n dogtertjie en smile vir haar, toe ruk die pa haar weg. Toe dink ek: ‘Jislaaik!’”

Later vertel hy: “Ek het begin dink as mense so hul kinders wegsleep wanneer hulle my sien, dink hulle ek is ’n pedofiel? Toe maak ek ’n album om te wys hoe siek so iets is.”

Terwyl Verkrag by ’n tafeltjie in die hoek gesels, kom die modevertoning aan die gang. Die modelle, met grimering soos in die fliek The Crow, dra meestal klere deur ’n vervaardiger genaamd ChaosRUs. Soms draai hulle ’n bietjie agter die skerms. “As jy weet hoe lank dit neem om ’n korset uit te trek, sal jy verstaan,” verduidelik Sash.

Een model dra ’n korset van swart leer. “Hellfire!” skree ’n man uit die gehoor.

“Is julle gereed vir f****n heavy metal wat jul gesigte sal laat smelt?” roep die aankondiger toe die modevertoning klaar is.

“Eerste, van Pretoria: Maximum Carnage!”

Maximum Carnage se eerste liedjie heet Serving the Rotten Cycle. ’n Swart geklede skare sak op die verhoog toe. Jong mans in die voorste ry head bang. Aanhangers agtertoe knik net hul koppe.

In ’n stadium leun iemand in die gehoor agteroor en spoeg teen die lae plafon. Die speeksel hang ’n oomblik van die dak: ’n Wit stalaktiet wat stadig langer word en dan weer tussen die gehoor verdwyn.

“Wie van julle is al ooit verneuk?” brul die sanger. ’n Paar mense skree iets terug. “Dié een is vir julle: Hunger for Homicide!”

Dit is moeilik om die woorde te volg, maar van tyd tot tyd slaan die woord “kill” deur.

Verkrag kom nader saam met ’n meisie met ’n spyker deur haar onderlip en wipborste wat by haar hals wil uitspring.

“Sy wil hê ek moet haar bors­te teken. Wil jy ’n foto neem?”

Die meisie lag. “My pa gaan die creeps kry!”

Mens sou so dink, ja.

Nadat hy op haar bors geskryf het, kyk Verkrag die meisie agterna. “Ja, dis nogal weird. Omdat ek oor seksuele goed skryf, is baie van my fans vroue. Die meeste is vroue.”

En hoe reageer hulle op die seksuele geweld in sy musiek?

“Baie stuur vir my kaalfoto’s van hulself.”

Goeiste. En wat doen hy daarmee?

“Dit bly maar daar êrens in my inbox.”

Een van die modelle op die CD-omslag staan ook nader. Vanaand dra sy ’n klein, swart rokkie met wit kopbene. Wat dink sy van die verkragtema?

“Dis ’n weerspieëling van wat vroue deurgaan as so iets gebeur. Dit wys dis nie mooi nie.”

Teen 20:30 is The Black Dahlia vol mans met lang, swart hare en vroue wat lyk soos Sneeuwitjie op ’n begrafnis. Een swart geklede vrou met ’n loopraam beweeg tussen die res rond. Buite wag ’n tou mense om in te kom.

En, soos dit maar by enige partytjie gaan, staan drie rokers buite die deur en kla.

“Dit gaan nie meer oor die music nie,” mor een. “Dit gaan oor hoe jy lyk. Dit gaan oor hoe sterk jy is. Dit gaan oor hoe lank jou hare is.”

Selfs wanneer ’n mens die parkeerterrein verlaat en jou motor in die valerige Thibaultstraat inswaai, hoor jy nog die metal agter jou.

Twee blokke verder, waar dit stil is, staan twee sekswerkers en hou motors dop.

Nie mooi nie, dink jy as jy na die twee vroue kyk wat hul lywe vanaand aan iemand anders se geweld gaan oorgee. Glad nie mooi nie. Al sê wie ook wat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
70 reaksies
Kommentaar is gesluit vir hierdie artikel

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 6-20°C Sunny. Cool.
Jhb: 3-17°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Cool.
Dbn: 15-26°C Sunny. Mild. PE: 16-24°C Sunny. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

BMW

320d EXCLUSIVE (E90)
2009
R 269,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

NISSAN

Hardbody 2400i D-Cab Hi-Rider PU
2004
R 124,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Fifty Shades Trilogie

deur E.L. James

Romanties, bevrydend en totaal verslawend, die Fifty Shades Trilogie sal jou vermaak, verslaaf en vir altyd by bly. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.