'Verlosser' van Afrikaanse musiek

2012-09-22 23:49

Die klanke van Les Javan laat hom sommer weer moed skep vir Afrikaans, skryf Koos Kombuis.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Vroeër die afgelope week klop ’n man van Rapport aan my deur. Hy het ’n CD in die hand: Les Javan se eerste solo-poging. Hy het heelpad van die Kaap af Somerset-Wes toe gery om dit vir my te bring.

Hy sê ek gaan daarvan hou. Ek moet luister en iets daaroor skryf.

Terwyl ek vir my gas ’n glasie wyn skink, loer ek solank na die omslag. Ek is lief vir jou, lees die titel. My moed sak in my skoene.

Hoeveel sulke Afrikaanse albums moet ons nog verduur? Vir jou; Alles joune; Jy is die een; Saam met jou.

Voor my geestesoog sien ek die cliché-video’s wat ek al op DKNT moes verduur. Die Brylcreem en die brulle; die gospel-sangers en die prulle. Die pretensieuse uitsprake: “jy” word “jai”; “my” word “mai”.

Wat het van Afrikaanse musiek geword? Waarom moet die Here ons straf met soveel briljante nuwe sangers wat almal dieselfde klink?

Die volgende oggend sit ek Les Javan se plaatjie in my computer. Die idee is om daarna te luister as agtergrondmusiek terwyl ek solank voortgaan met my nuutste wetenskapfiksie-manuskrip. Ja, want ek doen streng gesproke nie meer musiek nie. Die dag toe RSG weier om my laaste album op sy speellys te sit en liewer sy luisteraars te vergas met 50 skakerings van vanilla-borrelgom, was die laaste strooi. Mens weet as dit tyd is om jou kitaar te bêre.

Dis nou ’n halfuur later en ek het nog nie ’n woord geskryf aan my wetenskapfiksie-manuskrip nie. Ek sit tjoepstil en drink koffie... en luister na Les Javan.

Sjoe. Waar was hierdie ou al die tyd? Hoekom kom hy nou eers hier in my woonkamer in Somerset-Wes uit? Hoekom kon hy nie maar net ná Voëlvry op die toneel verskyn het nie?

Hy sou alles in ’n ander rigting gestuur het. Hy sou ons verlos het van 20 jaar se tinsel en sterretjies en bemarkingsfoefies en skitterwit glimlaggies en ouens met cowboy-hoedens.

Laat ek dit so stel: Les Javan se Ek is lief vir jou is dalk nie die heel beste Afrikaanse album waarna ek al geluister het nie. Daar was oomblikke in die loopbaan van Jan Blohm wat meer sensasioneel was; daar was ’n paar van Lucas Maree se liedjies wat bo hom uitstyg; daar was Louis van Rensburg; daar is Karen Zoid, David Kramer, Stef Bos, Churchil Naudé en Jack Parow...

Maar ai, hier is iets wat mens wil vashou, vashou, vashou en nooit weer wil laat los nie.

Party van die lirieke is so eenvoudig dat dit, soos die titel, amper te prontuit en gestroop is. Dit klink allesbehalwe slim:

“Die pad na die huis waar my ouma nog bly / die gemmer en die knoffel sal die driepoot nog stry...”

“Dis Oom Pietie wat so dans / Vlerksleep wonderlik se baas...”

“Namakwaland se mooiste mooiste vrou / Met jou, met jou, met jou wil ek nog trou...”

“Tafelberg, mooiste mooiste berg / By jou was ek altyd vry...”

Terwyl die lirieke so maklik is om te verstaan soos boerbeskuit sonder rosyne, maak die wysies en musikale verwysings vreemde draaie. Daar is invloede van jazz, ghoema, folk en die FAK. Daar is dele wat klink na boeremusiek en rieldans. Daar is ’n swetterjoel invloede en style, meestal plaaslik; alles gewortel in ’n tradisie wat ons al amper vergeet het.

G’n wonder David Kramer het met sy kombi die Karoo in gery op soek hierna nie. Dis waar die waarheid lê; iewers agter die blink ateljees en glanspersoonlikhede van Afrikaans.

Iewers waar ouens nog teelepels oor snare streel en koortjies sing saam met die buurt se kinders in armoedige voorhuise op die platteland.

Wie is Les Javan? Wel, ek weet min van hom. Mense wat meer weet, sê hy was deel van ’n groep met die naam Gramadoelas. Hy is die hoofmusiekmaker in die Solms-Delta-musiekprojek, wat opheffingswerk doen op Bolandse plase en plaaskore afrig. Hy is diep gelowig, met sy roots in sowel die Christelike as Islam-tradisie.

Hy is baie beslis ’n outsider ten opsigte van wat as trendy beskou word in Afrikaanse musiek.

In die CD-boekie word hy so in sy eie woorde aangehaal: “Ek is nie ’n patriot nie. Die waarheid is net dat ek baie lief is vir my land... ons het... die pad byster geraak, maar ons moet onsself net daaraan herinner dat ons almal die grond waarop ons staan se kinders is.”

Iewers het ons ons siel verloor.

Ouens soos Les Javan kan ons net help om dit terug te kry.

Koos Kombuis is ’n skrywer en sanger.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
14 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-24°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Mild. PE: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!