Verset jou

2012-09-01 23:53

1983: UDF-lede betoog teen die driekamerparlement.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

ZS en BB is twee jong Suid-Afrikaners wat albei vroeër vanjaar mondig geword het.

Ondanks die reuse-verskille in hul agtergrond, waarvoor nie een van hulle die skuld kan dra nie, het hulle ook baie gemeen.

Albei is aktiviste, toegewyd aan ’n missie om iets te doen aan die diepe ongelykheid, politieke straffeloosheid en korrupsie in ons samelewing.

ZS het sy 21ste verjaardag gevier saam met twee vriende in ’n klein Hop-huisie wat hy met sy broers en susters deel.

Van sy vriende het hy net een verjaardagpresent gekry: ’n tweetalige Engels/Xhosa-woordeboek. Dis die eerste woordeboek in sy moedertaal wat ZS nog ­gesien het, al het hy matriek geslaag. Hy het sy broers en susters self grootgemaak omdat hulle wees is. Hy verdien ’n bietjie geld met deeltydse en vrywillige werk, terwyl die regering se kindertoelae help betaal vir skuiling, kos, klere en die skoolgeld van sy sibbe.

Hy bly in Khayelitsha in Kaapstad en is ’n aktiewe leier van die Social Justice Coalition.

BB, daarenteen, se 21ste verjaardagpartytjie het oor twee dae gestrek terwyl hy en sy baie vriende dronk geword het om die swembad.

BB se pa het vir hom ’n vakansie enige plek in die wêreld beloof as hy nog nooit gerook het teen die tyd dat hy 21 word nie. Sy keuse was Viëtnam en Kambodja.

’n Wêreld van stories, lees, reis, opvoeding, sport, ’n eie ryding en ’n lieflike en gemaklike huis in die voorstede naby die stad is BB se erfgoed. Hy is besig met ’n graad aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy aktief is in die Palestynse Solidariteitsforum. Sy ouers is akade­­-mici en sy jonger broer studeer ook aan Ikeys.

ZS en BB is nie eens die mees ekstreme voorbeeld van die klasse-, geslags- en rasseongelykhede in ons land nie. Hulle verteenwoordig bloot die alledaagse. Ons bly in ’n land waar die meeste mense jonger as 30 is. Ongeag hul herkoms staar dieselfde probleme almal in die gesig weens die “ongeluk” van hul geboorte.

Anders gestel: Die sosio­ekonomiese en politieke situasie in Suid-Afrika is sowel ’n strik wat ons in die verlede gevange kan hou as iets wat ons kan mobiliseer om sáám ’n beter toekoms te skep. Kolonialisme, apartheid, die onvervulde beloftes van vryheid, ’n diepe ontnugtering met die post-apartheid-ANC-regering en die ongelykhede van kapitalisme kan ons gevange hou in tronke van vrees, geweld en vooroordeel of dit kan ons mobiliseer tot ’n ­nuwe struggle.

Die vraag wat ons moet beantwoord is: Het Suid-Afrika ’n burgeroorlog vermy of is ons burgeroorlog bloot uitgestel? Die geskiedenis wys ’n konstitusionele demokrasie is geen waarborg vir vryheid, gelykheid en vrede nie.

Die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring beloof alle mense gelykheid en die reg op “lewe, vryheid en die najaag van geluk”. Minder as ’n eeu later is daardie belofte tydens ’n brutale burgeroorlog getoets. Minstens 600 000 wittes (en ’n minderheid swart soldate) is dood in ’n oorlog teen slawerny en om die eenheid van die republiek te verseker. Daar was 300?000 wit slawe-eienaars wat die mag van lewe en dood oor drie miljoen swart slawe wou behou en bereid was om ’n brose demokrasie in die proses te verwoes. Hulle het verloor.

Daar is ander voorbeelde.

Ná die Eerste Wêreldoorlog het die Duitsers hul Weimar-grondwet aanvaar, destyds die mees liberale grondwet ter ­wêreld. Dit het nie net vryheid, ’n waardige lewe vir almal en die oppergesag van die reg gewaarborg nie, maar ook aan werkers en werkgewers ’n ge­lyke sê gegee in die ontwikkeling van die ekonomie.

Dié droom is wreed vernietig deur ’n internasionale ekonomiese krisis, werkloosheid, die verarming van die middelklas, haat tussen vakbonde en werkgewers, politieke verskille tussen sosialiste en kommuniste en die opkoms van die Nazi-party. Die res is welbekend: ’n vernietigende wêreldoorlog en miljoene dooies.

Hierdie ekstreme voorbeelde is eerder waarskuwings as direkte vergelykings.

Ons Grondwet kom daagliks onder skoot weens vele politieke, ekonomiese en sosiale ongeregtighede. Suid-Afrika is die ongelykste samelewing in die wêreld – ’n situasie wat maklik kan lei tot die vernietiging van ons demokrasie en burgeroorlog.

As ons régtig vryheid, waardigheid, gelykheid en die najaag van geluk vir almal nastreef, sal ons bereid moet wees om nie net te verstaan wat verkeerd is nie, maar ook om iets te doen. Dit verg aktiewe burgerskap.
Klasse-ongelykheid is die grootste bedreiging vir ons gedeelde toekoms. ’n Super-ryk minderheid wat kan bekostig om miljarde se belasting te ontduik, ’n elite van 40 000 wit (en toenemend swart) miljoenêrs, ’n groeiende swart en wit middelklas wat die toekoms vrees en ’n reuse- en desperate swart werkersklas (wat miljoene meestal jong werkloses insluit) plaas ongelooflike druk op ons politiek.

Ons jongmense behoort die plaaslike en internasionale ekonomie te bestudeer sodat hulle toegerus is om die nodige aksie in raadsale, in die strate en in die parlement te neem vir ’n voorspoedige toekoms.

Die ekonomie is egter nie ons enigste probleem nie. Dis ook onontbeerlik dat ons die skade verstaan wat die korupte elite aanrig wat die staat bestuur en dat ons iets daaromtrent doen.

Die skade is nie net beperk tot die uiterste staatsgeweld soos wat ons gesien het met die moord op Andries Tatane of die Marikana-mynwerkers nie. Die waardigheid van mense word daagliks aangerand deur nasionale, provinsiale en plaaslike buro­krasieë – veral in voor­malige tuislande.

Endemiese korrupsie en die skokkende vlak van dienslewering stook die woede van enige denkende mens.

Ons Grondwet vereis dat die burokrasieë van die apartheid- en Bantoestans getransformeer word om doeltreffende, verantwoordbare en etiese openbare dienste daar te stel wat gerig is op die behoeftes van ons mense.
 Die ANC het egter ’n uiters korrupte staat oorgeneem en dié korrupsie bloot verder vasgelê met die ontplooiing van onbevoegde kaders en die bevordering van die ou apartheidsfunksionarisse in die tuislande.

’n Anti-swart apartheidstaat het ’n anti-burger-staat geword deur plundery, politieke partydigheid en onbevoegdheid.

Hoofstuk 195 van ons Grondwet is ’n duidelike oproep aan ons mense om korrupte staatsmag teen te staan.

Die ANC wil nie die Grondwet verander nie – hulle wil dit ondergrawe deur wette wat die Grondwet ignoreer en deur die regbank te “transformeer” tot ’n tandelose waghond.

Die mees buitensporige voorbeeld hiervan is die wetsontwerp op tradisionele howe, die produk van huidige en voormalige Bantoestanleiers (soos hoofman Phathekile Holomisa en IVP-meelopers) wat poog om die liggame en eiendom van vroue, die woede van jongmans en die stemme van landelike mense onder hul beheer te plaas.

Hierdie hoofmanne probeer deur die parlement regkry wat die Boeremag deur geweld probeer doen. Ons moet weerstand bied teen albei. Weerstand kan slaag.

Sedert die einde van apartheid het ek optimisties gebly deur stryd en deur saam te werk met talle mense – van die armste gemeenskappe tot jongmense uit die mees gegoede huise – om dit wat verkeerd is te verander.

Ons het geveg vir die regte om die seksuele oriëntasie van jou keuse; ons het diskriminasie teen mense met HIV/vigs teengestaan en oudpres. Thabo Mbeki en sy minister van gesondheid se vigsontkenning teengestaan.

Ons het multi-nasionale medisynemaatskappye aangevat oor bekostigbare medisyne, ons organiseer gelyke, gratis en goeie onderwys en ons stry vir waardige en veilige dienste in Khayelitsha en elders.

Sentraal tot ons manier van doen is die geloof dat selfs die swakste onder ons kan leer, organiseer, protesteer, hof toe gaan en, bo alles, lei.

Politieke mag kan op verskillende wyses bekom word en ons moet álmal gebruik – altyd met die Grondwet as wegwyser.

Swart, bruin, Indiër, wit en immigrant moet saamstaan in studiegroepe, die strate, op universiteit, die werkplek, raadsale, skole, kerke en parlement. Ons moet jongmense tot ons parlement verkies wat bereid is om leiding van hul seniors te neem sonder om in ontsag te swymel voor hul struggle-verlede.

Onthou dat wáre mag nooit in die parlement of die raadsaal gevind word nie. Ware mag lê by gewone mense wat individueel of kollektief die reg van vryheid, lewe, waardigheid, gelykheid en geregtigheid beliggaam. Ons kán ons land en vasteland herbou.

Zackie Achmat is ’n politieke ­aktivis en direkteur van Dare to Know. Hy stel vandag in Kaapstad ’n veldtog, Your Vote Counts, ­bekend wat daarop gemik is om Suid-Afrika se kiesstelsel drasties te hervorm om regstreekse ­ver­kiesing tot kiesafdelings ­moontlik te maak, sáám met ­proporsionele verteenwoordiging.
 

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
9 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 8-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-14°C Sunny. Cool. Bfn: 3-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 11-22°C More sun than clouds. Cool. PE: 9-22°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!