Viva Patrice!
2013-02-02 23:27
Die waarde van die aankondiging deur miljardêr-sakeman Patrice Motsepe en sy vrou dat hulle die helfte van die inkomste van hul familiebates aan die ontwikkeling van ons land se mense gaan bestee, strek veel verder as blote geld.
Dit is ’n bevestiging, in moeilike tye, dat die groeiende gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika wel oorbrug kan word.
Dit is ’n teken van hoop, sekerlik die waardevolste van alle hulpbronne. Mense leef immers nie net van brood nie.
Dié daad van welwillendheid kom boonop van ’n man wat die grootste deel van sy rykdom in die mynbou verkry het – ’n sektor van die ekonomie wat deur onrus en onmin gekenmerk word. Dit stel ’n voorbeeld wat ander kan volg.
As julle nou die preweling van ’n afgetrede priester sal verskoon, is daar tog ’n paar gedagtes wat ek wil deel.
In die eerste plek wil ek die Motsepes gelukwens met die feit dat hulle hul filantropiese daad openbaar gemaak het.
Daar is baie Suid-Afrikaanse individue en instellings wat in die stilligheid groot gedeeltes van hul fortuin vir opheffingsprojekte skenk. Dit is goed vir ons gesamentlike siel om van sulke dinge te weet omdat dit ’n demonstrasie van ons gedeelde menslikheid is.
Met hul gebaar het die Motsepes die kwessie van filantropie vierkantig in die openbare sfeer geplaas. Daar word nou van hulle gepraat in dieselfde asem as Bill Gates en Warren Buffett, albei ikoniese, internasionale filantrope.
Aan die ander kant lê die vrygewigheid van die Motsepes ook bloot dat daar groot ruimte vir verbetering is in Suid-Afrikaners se benadering tot liefdadigheid.
Natuurlik is min van ons so suksesvol met die verkryging van rykdom soos Patrice Motsepe, maar uiteindelik gaan dit nie oor hoevéél jy gee nie as die feit dát jy gee.
Daar’s maar min van ons wat genoeg het om te kan deel én bereid is om dit te doen.
Dít is ’n groot bydraende faktor tot die groeiende welvaartgaping en, glo ek, tot die algemene wanpersepsie in ons psige dat net die regering verantwoordelik gehou word om apartheid se wanbalans reg te stel.
’n Jaar of twee gelede het ek tydens ’n toespraak by die Universiteit van Stellenbosch voorgestel Suid-Afrika het ’n welvaartbelasting nodig. So ’n belasting sal ’n nuwe poel hulpbronne skep waarmee die welvaartgaping verklein kan word.
Dit sal ook belangrik vir ons gemoedstoestand wees – ’n geleentheid vir welgestelde Suid-Afrikaners om hul groothartigheid te illustreer.
Destyds was ek in die moeilikheid omdat ek gewaag het om op die voor die hand liggende te wys: Dat die meeste slagoffers wat voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) verskyn het, swart is, terwyl die meeste wat in die verlede die geleentheid gehad het om goeie skole by te woon en in ordentlike huise te woon, wit is.
Ek het destyds verwys na die bereidwilligheid van oorlewendes van uiterste wreedheid, die meeste van hulle brandarm, wat voor die WVK verskyn het om te vergewe.
En ek het genoem dat daar bitter min in terme van ’n wederkerige gebaar was van hulle wat materieel voordeel uit apartheid getrek het.
Maar dit gaan nie hier oor ras nie; dit gaan oor hulpbronne en groothartigheid!
Dit gaan daaroor dat ’n groot aantal Suid-Afrikaners steeds in haglike omstandighede lewe.
Babas sterf aan voorkombare siektes. Kinders gaan honger skool toe. Volwassenes wat broodwinners moet wees, het nie werk nie. Te veel Suid-Afrikaners het ’n punt van desperaatheid en vernedering bereik. Hulle wag vir die regering om die vrugte van vryheid aan te dra, maar stik aan ’n daaglikse dieet van bewerings van korrupsie en wanbestuur.
Die gebaar wat die Motsepes gemaak het, spreek tot hierdie desperaatheid.
Patrice Motsepe het nie aan die regte kant van die treinspoor grootgeword en die beste skole bygewoon nie, maar hy het nou genoeg om te kan deel.
As ’n kind van Afrika weet hy ons is afhanklik van mekaar vir ons eie sowel as ons land se voorspoed en sukses.
Viva Patrice Motsepe. Viva!
Desmond Tutu is emeritus aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk.