Vlamme wat nuwe begin inlui

2012-05-05 15:20

Die brand wat in Desember 2010 die Wilcocks-gebou by die Universiteit van Stellenbosch in puin gelê het.| Foto: Leanne Stander

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

’n Keramiekplaatjie met die woorde “History is only a memory and it repeats itself as memory”.

Dit is een van slegs ’n handvol voorwerpe wat prof. Albert Grundlingh, voorsitter van die departement geskiedenis in Stellenbosch, in die puin gevind het nadat ’n brand die gebou waarin sy kantoor was in Desember 2010 vernietig het.

Vir hom en sy mede-dosente is herinneringe inderdaad al wat oor is van jare se arbeid en navorsing.

Nie net is die geskiedenisdepartement se versameling onvervangbare historiese dokumente en kaarte vernietig nie, maar baie dosente het dokumente en boeke verloor wat oor dekades heen bymekaar gemaak is.
Prof. Bill Nasson, een van die land se voorste kenners van die Anglo-Boereoorlog, en nog ’n dosent, Sandra Swart, het al hul boeke en navorsingsdokumente verloor.

Grundlingh meen hy het 40% van sy persoonlike biblioteek verloor.


Daarby het die historiese versameling, waaraan personeellede van die departement die afgelope 107 jaar gebou het, in die slag gebly.
“Nie net is daar ’n verlies van voorwerpe nie; daar is ook ’n verlies van die tydsdimensie en die fisieke bewyse van wat personeellede deur die dekades op bepaalde tye as belangrik geag het,” sê Grundlingh.

Van die enkele “fakulteitsherinneringe” wat in die puin gevind is, is ’n klip met ’n afdruk van ’n ossewawiel daarop. Dit dateer van die 1700’s, toe mense van Kaapstad na Somerset-Wes getrek het.

“Daar was ’n verhaal in elke ding wat personeellede gedink het is belangrik genoeg om te bewaar,” sê Grundlingh.

Hy was tuis toe hy op daardie somermiddag sowat 16 maande gelede die oproep kry wat sê die Wilcocks-gebou brand.

Hy het hom soontoe gehaas en moes toekyk hoe die vlamme die boonste verdieping in puin lê voordat brandbestryders die brand in bedwang kon kry.

’n Dag later is hy terug om deur die puin te grawe.

“Ek het vreemde voorwerpe gevind – ’n keramiekteepot wat teen ’n hoë temperatuur gebak is en dus ongeskonde die brand van 600°C oorleef het.”

Die verliese was helaas veel groter. Soos die foto van sy pa waar hy in 1945 sy doktorsgraad ontvang.

Daar was ook ’n foto van hom en prof. H.B. Thom, voormalige rektor en geskiedkundige, waaraan hy baie waarde geheg het.

Een van Grundlingh se doktorale studente het met groot moeite vir hom ’n kopie in die hande gekry van die boek oor die Eeufeesviering in 1938 van die Groot Trek deur Dirk Mostert. Dis vernietig.

Al het sy kollegas by die departement van joernalistiek vir hom en sy kollegas tydelike kantoorruimte aangebied, voel hy, meer as ’n jaar ná die brand, steeds soos “’n voël sonder ’n nes”.

Dié akademikus, wat by die aanvang van sy akademiese loopbaan in 1973 begin het om aan sy boekversameling van historiese werke te bou, sê hy voel daagliks nog die gaping wat die brand in sy akademiese mondering gelaat het. “Ek sal my hand na ’n bepaalde boek uitsteek, net om te besef dit is weg.”

Sy verlies kan nie omgekeer word nie, maar tog erken hy die brand het op ’n manier ’n antwoord gebied op die vraag wat hy ná sy aftrede met sy boekery sou doen.

“Dis nie hoe ek sou kies om van my boeke afstand te doen nie, maar ek hoef my nou nie meer daaroor te bekommer nie.”

Sandra Swart was op reis in Suidoos-Asië toe sy van die brand hoor.

“My reise het my na die ‘Death Railway’ op die Kwai­rivierbrug geneem en toe na Kambodja. Op ’n manier was dit goed, want in ’n omgewing waar soveel mense swaargekry en doodgegaan het, kan ’n mens nie te jammer voel vir jouself nie,” sê sy.

Terug in Stellenbosch het sy sowat vyf uur met ’n graaf deur die as en puin gesoek.

“My kantoor was my gunstelingruimte – die plek waar ek ­dokumente, navorsing en dinge waaraan ek waarde heg, gehou het.”

Sy het vreemde dinge in die puin gevind – ’n boek oor diere-etiek, geskroei maar heel. Daar was ook ’n foto van die skrywer Eugène Marais en, heel bisar, ’n paar sykouse, nog drabaar.

Onvervangbare voorwerpe wat vernietig is, sluit in talle eerste uitgawes van geskiedenisboeke wat haar oupa, ’n ingenieur op die spoorweë, versamel het en die toga wat sy vir haar gradeplegtigheid by die Oxford-universiteit gedra het. Daar was ook talle persoonlike briewe, dagboeke en geskenke van studente.

Sy lag. “My navorsing is vernietig, maar gelukkig beteken dit ’n klomp onbelangrike navorsing word nie nou op die wêreld losgelaat nie. Ek is nou ’n vrou sonder papiere.

“As geskiedkundiges lewe ons van papier. Ons is soos doodslopertjies (death watch beetles). Ons kos is dokumente en boeke.”

Sy dink ’n oomblik na. “In talle godsdienste simboliseer vuur ’n nuwe begin.”

Sy sê baie mense het haar ná die brand met die beste bedoelings getroos met die woorde dat daar “?’n les te leer is uit die ramp”.

“Ek voel geensins dit was nodig dat ek moet leer dat materiële dinge fragiel is nie.”

Sy is nietemin diep geraak deur gebare van haar studente en ander. “'n Amerikaanse vriend, Clay McShane, wat eersdaags aftree, het binne ’n week vir my ’n klomp boeke gestuur om my boekery weer aan die gang te kry.

“Studente en voormalige studente het boeke gekoop.

“Dis gebare wat my geloof herstel het in dit wat ons ‘die Universiteit’ noem.”

Van prof. Bill Nasson se biblioteek met 2 700 boeke en 60% van sy navorsing het net as oorgebly.

“Ek het in 2009 van die Universiteit van Kaapstad na Stellenbosch gekom en het destyds my versameling uitgedun en net dit wat vir my kosbaar was, gehou.”

Sy boeke het allerlei aandenkings bevat soos koerantknipsels en vere van Engeland, Frankryk en ander lande.

“Dit is onvervangbaar. Maar my doel nou is om die boeke te vervang wat ek nodig het vir my navorsing en om klas te gee en van die res te vergeet.”

Hy sê mense vra of hy nie rekenaarkopieë gemaak het van sy navorsingswerk nie.

“My antwoord is ‘ja’, maar dit was in die laaie van my kabinet, wat uitgebrand het.”

Al was die brand ook hoe pynlik, simboliseer dit vir Grundlingh tog ook hernuwing.

“Geskiedenis as dissipline is besig om te verander. Daar is minder klem op die politieke gebeure wat die verlede beïnvloed het en meer klem op sosiale magte. Ons departement weerspieël dié tendens.”

Die vlamme wat soveel vernietig het, het dalk tog ook daartoe bygedra om Stellenbosch se geskiedkundiges daarop voor te berei om te begin skryf aan ’n nuwe hoofstuk van hul departement.

Stephanie Nieuwoudt is ’n ­vryskutskrywer.


Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 11-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 7-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 7-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-23°C Showers late. Morning clouds. Mild. PE: 11-20°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!