Waar's hulle nou?
2012-10-07 00:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Springbok-rugbyspan het gistermiddag teen die All Blacks in die Soweto-stadion in Gauteng kragte gemeet.
Onder die manne in Groen-en-Goud was drie spelers wie se pa’s ook in hul prille jeug die Springboktrui gedra het.
Ons weet wat Andries Bekker, Ruan Pienaar en Flip van der Merwe gister vermag het, maar wat doen hul oukêrels deesdae?
Hennie Bekker, Gysie Pienaar en Flip van der Merwe was in 1981 almal lede van die Springbokspan wat na Nieu-Seeland getoer het.
Hennie Bekker
Hennie Bekker (60), destyds ’n staatmaker in die WP-span, woon steeds in Kaapstad en is heeltyds betrokke by WP-Rugby, waar hy gemoeid is met die uitwys van talent op skolevlak.
“Ek is baie trots op Andries. Dis net ’n genadegawe wat jy kry as jou kind so ’n posisie kan inneem.”
Bekker sê hy het in 1985 opgehou rugby speel.
“Ek is baie opgewonde oor ons dae se spel. Ons spelers het daarna baie goeie vriende gebly en nou presteer ons kinders saam.”
Gysie Pienaar (57) woon in Bloemfontein, waar hy ’n Shell-vulstasie, ’n Avis Van Rental-agentskap en ’n gastehuis besit.
“Ja jong, ons ou manne lewe nog,” lag hy.
“Dit was ’n groot eer om vir die Springbokke uit te draf, so vir my as pa wat dit gedoen het, is die voorreg nog groter as my seun dieselfde kan doen,” sê hy oor Ruan.
“En om vriende soos Hennie en Flip langs jou te hê as hul seuns ook presteer, maak dit soveel lekkerder.”
Flip van der Merwe
Flip van der Merwe (55) boer met beeste tussen Deben en Hotazel in die Noord-Kaap.
Hy is nie min trots op sy seun, Flip, nie.
“’n Mens voel mos trots omdat jou kind die talente wat hy gekry het, gebruik. En dis boonop elke rugbyspeler se droom om vir die Bokke uit te draf.”
Van der Merwe sê hy onthou nog sy laaste wedstryd in 1989 in Kaapstad asof dit gister was.
“Ek het my beurt gehad en ek het dit baie geniet. Nou is dit die jong manne se beurt.”