Wanneer armes die vyand word
2012-02-04 14:44
Arm en ontnugterde mense rebelleer die laaste paar maande wêreldwyd omdat hulle gatvol is vir regerings wat hulle op die periferie skuif.
Die “beset”-gees loop hoog.
Ons is lief vir stories oor die Franse revolusie omdat dit lekker is om te hoor hoe die underdog suksesvol vir hul regte veg. Maar wanneer daardie selfde revolusie na ons eie woonbuurte skuif, is ons baie gemaklik daarmee as die polisie die arm mense dik tik – pleks daarvan om die mense met ’n bordjie koek te verwelkom en te hoor wat hul probleme is.
Die uitskuif van die armes gaan dikwels gepaard met ’n verdagmakery. Hulle word as misdadig en gevaarlik afgemaak, mense wat met mag en daad “vasgevat” moet word.
Die ANC sowel as die DA doen dit. Dié onsigbare oorlog teen die armes heers wêreldwyd.
Vrees en disinformasie is die duiwel se gesante: Helen Zille het voorverlede jaar tydens die Hangberg-sage in die Kaap die Rastafa-riërs beskryf as druglords en die oorsaak van die gemeenskap se probleme.
Almal weet Rastas rook dagga. Minder mense weet egter dat hulle ook betrokke is by gemeenskaps-opheffing.
Etlike jong mense, veral jong mans, het al hul rug op misdaad en harde dwelms gekeer ná hul kennismaking met die Rastafariese filosofie en dissipline.
In die Hangberg-gemeenskap speel Rastafariërs ’n opheffende rol, maar Zille het destyds daarin geslaag om mense te verwar met haar vooroordele en onkunde.
Soos die politieke wetenskaplike Christopher McMichael dit stel: “This shock and awe campaign was underlaid by a sophisticated DA strategy of disinformation, in which the press was assured that the police were ‘liberating’ the area from ‘drug dealers’ and falsely claimed that violence had been initiated by the community.”
Hierdie taktiek is verlede Vrydag herhaal tydens die polisieoptrede teen ’n groep mense wat die Rondebosch-meent wou beset.
Rondebosch, vir dié wat die Kaap nie so goed ken nie, is ’n wit, Engelse, liberale woonbuurt aan die voet van die Universiteit van Kaapstad, vol ou lefties uit apartheid.
Maar die afgelope week het dié skynbaar intelligente mense hul breine, keuses en opsies aan die polisie oorhandig. Die polisie is gevra om namens die inwoners te dink en op te tree.
Dit nadat die bruin gemeenskap van die nabygeleë Manenberg besluit het om ’n byeenkoms by die meent te hou – ’n poging om die rykes bewus te maak van die probleme van arm mense in die stad.
Voor jy jou oë kon uitvee, het die Rosebank-buurtwag, met behulp van die polisie, mense in die omgewing begin aanraai om “vir hul eie veiligheid” liewer weg te bly wanneer die Manenbergers opdaag.
Die polisie het dus vir ’n liberale universiteitswoonbuurt begin voorskryf hoe om ’n politieke gemeenskapsaangeleentheid te hanteer. In die proses is arm mense weer as geweldenaars afgemaak.
Ironies dus dat die grootste geweld op dié dag van die polisie self gekom.
Hoekom die polisie inroep? Hoekom nie liewer beskuit en koffie aanbied nie? En praat? Ontmoet jou bure, Suid-Afrika. Breek deur die vrees, dink uit die boks.
Die “geweldenaars” is tog mede- Suid-Afrikaners met wie ons busse, treine, teaters en kerke deel, mense wat ons kinders grootmaak, ons skottelgoed was, oor wie ons grappe maak. Het ons dan geen verhouding met hulle nie?
Die uiteinde van die “gewelddadige optog” kon seker snaaks gewees het as dit nie so ongelooflik sinloos was nie.
Pleks van klipgooi het die Manenbergers sommer gaan sit. Uiteindelik het dit 150 polisiemanne gekos om 26 vroue en 14 mans in hegtenis te neem en in die tronk te gooi op klagte van “openbare geweld”.
Dié aanklagte is later deur die hof uitgegooi. Daar was geen geweld nie: Die tannies van Manenberg, desperaat vir ’n beter lewe, het hulle té goed gedra.
Een van die kenmerke van die “beset”-bewegings wêreldwyd is dat dit gemeenskapgedrewe is en dat hulle nie politici betrokke wil hê nie.
Soos Amelia September van Proudly Manenberg sê: “Ons wil nie (vir politici) lugtyd gee nie. Die mense sal besluit wie vir hulle praat.”
Die doodsteek van arm gemeenskappe is celebrity-politici (soos die Kaapse stadsraadslid Tony Ehrenreich wat probeer het om die Rondebosch-besetting te kaap vir eie gewin) wat die fokus verskuif van arm gemeenskappe se probleme na hulself.
En intussen leef die rykes voort in die bemarkingsfantasie van ’n reënboognasie en wat oor is van die Mandela-magic.
Maar noudat die eerste tekens van die ware revolusie aan ons deur kom klop, skrik die lefties van ouds wakker en besef dat hulle eintlik ietwat regs is – en boonop baie lief vir die polisie.
In die proses word ’n toenemend kunsmatige situasie geskep waar die inwoners van “ordelike” voorstedelike middelklasbuurte hul bes doen om anderpad te kyk, blind vir die wanhopige armoede aan die ander kant van die snelweg.
Kyk mooi na die tekens – die volgende besetting is dalk in jou woonbuurt. Die vraag is: Wat verkies jy? Om te praat met die armes of te skuil agter die vals sekuriteit van ’n polisieman se riot shield?
Annelie de Wet is een van die “geweldenaars” wat tydens die protes by die Rondebosch-meent in hegtenis geneem is.